The Outspan
The Outspan was ‘n Suid-Afrikaanse gesinstydskrif gewild in die middel van die 20ste eeu.
Die eerste uitgawe van die weekblad het verskyn op 4 Maart 1927 en is uitgegee deur The Friend Newspapers in Bloemfontein met Arthur W. Wells as eerste redakteur. Wells was ‘n knap kortverhaalskrywer en besonder berese. Artikels in die blad het gehandel oor musiek, films, kuns, sport, motors en reis. Politiek is vermy. Kompetisies op groot skaal het die sirkulasie baie laat styg. Deur ‘n skoonheidswedstryd in 1930 het Molly Lamont ‘n loopbaan as filmster in Hollywood losgeslaan. Persone wat artikels tot die weekblad gelewer het, was bekende persone soos Arthur Conan Doyle, Pauline Smith, Agatha Christie, Wernher von Braun, Edgar Wallace, Karl Dönitz, Stuart Cloete, John Galsworthy, Francis de Guingand, Donald Campbell, P.G. Wodehouse, Bernard Montgomery, Adolf Eichmann, Juan Manuel Fangio en James Rose-Innes. Dorothy Kay en Frank Bellamy het roem verwerf vir hul illustrasies.
‘n Stadige prysstyging deur die jare heen het die sirkulasiesyfers laat daal. Veral onder Afrikaanssprekende vroue was die blad aanvanklik gewild. Metterjare het hulle egter lesers geword van Huisgenoot, Rooi Rose en Sarie. Die gevolg was dat die publikasie op 31 Mei 1957 gestaak is. Na ingrypende modernisering is The Outspan op 6 Junie 1957 opgevolg deur die blad Personality wat tot 23 Desember 1965 elke 14 dae verskyn het. Op sy beurt is Personalilty in 1966 weer opgevolg deur Scope.
Trivia
wysigThe Outspan was die eerste tydskrif in die land wat gebruik gemaak het van die drukproses bekend as fotolitografie.
Bronnelys
wysig- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 8. Kaapstad: Nasou, 1973. ISBN 0-625-00324-1
- theheritageportal.co.za
Eksterne skakels
wysig- "Outspan Journal/newspaper". Rootschat. Rootsweb.