The Star
The Star is 'n Johannesburgse dagblad wat deur Independent News & Media uitgegee word. Die koerant is nou verwant aan die Saturday Star.
Die koerant het sy ontstaan in Grahamstad gehad as die Eastern Star of Grahamstown Advertiser and Anglo-African op 6 Januarie 1871. Dit is gestig deur 'n drukker, ene O'Brien, en het later in die besit gekom van die broers Thomas en George Sheffield, toe dit weekliks verskyn het.
Na die dood van die koerant se vernaamste finansiële ondersteuner, Dean Williams, is die toerusting per ossewa na die Witwatersrand gebring waar dit die eerste keer op 17 Oktober 1887, skaars 'n jaar na die stigting van die toekomstige Johannesburg, verskyn het. Dit het 'n ruk lank steeds as die Eastern Star bekend gestaan en twee maal per week verskyn.
Sedert 1 April 1889 verskyn dit daagliks. Die koerant het in 1897 met president Paul Kruger gebots, waarna dit tydelik opgeskort is en 'n ruk lank as The Comet verskyn het. In dieselfde jaar het Danie Theron die indertydse redakteur, W.F. Monypenny, afgeransel oor 'n aanval op die Boere (of volgens 'n bron die redakteur se vermeende chauvinisme jeens vroue).
Die koerant het nie tydens die Tweede Vryheidsoorlog verskyn nie, maar wel weer in Januarie 1902.
Verspreiding en sirkulasie
wysigThe Star word versprei na alle uithoeke van die noordelike provinsies (Gauteng, Mpumalanga, Limpopo, Noordwes), en selfs dele van die Vrystaat, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. Dit word ook per vliegtuig beskikbaar gestel aan ander Suid-Afrikaanse stede, vanwaar dit na afgeleë plekke saam met Independent News & Media se ander koerante versprei word.
The Star was lank Suid-Afrika se grootste dagblad. Maar dit is eers deur die Sowetan verbygesteek en meer onlangs die Daily Sun. Omstreeks 2008 was sy daaglikse sirkulasie sowat 171 000, vergeleke met meer as 180 000 in 1980. Die Saturday Star se sirkulasie is sowat 130 000. Teen die eerste kwartaal van 2022 was die verkoopte sirkulasie 15 279, terwyl 12 705 eksemplare daagliks gratis versprei is.
Sien ook
wysigEksterne Skakels
wysig- Eie webtuiste
- Sirkulasie van SA koerante Geargiveer 19 Oktober 2008 op Wayback Machine