Vrou
'n Vrou is 'n volwasse vroulike mens, in teenstelling met 'n volwasse man. Die uitdrukking vrou (meervoud: vroue of vrouens) word gebruik wanneer na biologiese geslagsverskille, kulturele rolverskille, of albei, verwys word.
'n Meisie is 'n vroulike menslike kind, in teenstelling met 'n manlike kind wat 'n seun genoem word. Die uitdrukking meisie word soortgelyk as vrou in die vorige paragraaf gebruik. Wanneer 'n meisie volwasse word, staan sy bekend as 'n vrou, behalwe in die geval van sekere streekstaalgebruik.
Geslag
wysigWaar dit geslag aanbetref, het vroue verskeie seksuele eienskappe wat hulle van die man onderskei. In vroue, is die geslagsorgane betrokke in die voorplantingstisteem, terwyl die sekondêre geslagskenmerke betrokke is by die proses om 'n maat aan te lok, of om kinders te versorg.
Oor die wêreld heen, word daar 'n klein bietjie minder vroue as mans gebore. (Die verhouding is ongeveer 1:1.05). Alhoewel geen mens weet presies hoekom dit so is nie, weet ons dat vroue die meerderheid van die volwasse bevolking uitmaak. Dwarsoor die spektrum van geboorte tot by die dood, het mans 'n hoër sterftesyfer as vroue. (Dit is selfs in die baarmoeder die geval.) Vroue leef gemiddeld vyf jaar langer as mans. Dié verskil is waarskynlik die gevolg van 'n kombinasie van faktore: genetika (daar is oortollige en 'n wyer verskeidenheid van gene op die geslagschromosome in vroue); sosiologiese faktore (soos oorlogvoering); gesondheidsverwante keuses (soos rook en alkoholgebruik); die teenwoordigheid van die vroulike hormoon estrogeen, wat 'n hartsbeskermende effek het in premenopousale vroue; en die effek van konstante hoë vlakke van androgeen (hormoon) in mans.
Ná die aanvang van menarg, is die meeste vroue in staat om swanger te word en kinders te baar. Die studieveld van vroulike voortplanting en die vroulike geslagsorgane word ginekologie genoem. Teen die einde van die vrugbaarheidsperiode, wat menopouse genoem word, kan vroue nie langer op 'n natuurlike manier swanger word nie. Hierdie toestand word gewoonlik laat in die vierde of vroeg in die vyfde dekade bereik.
Die vrou se rol in die samelewing
wysigDie vrou se rol in die samelewing het baie verander deur die jare. Vroeër was die tradisionele rol vir middelklasvroue dié van huisversorger, met die klem op kinderversorging, en om die arbeidsmark te betree om finansieel 'n bydrae te lewer tot die huishouding, het net nie bestaan nie. Vroue uit die armer segment van die samelewing moes ekonomies noodgedwonge werk bekom buite die huishouding, maar hulle werksgeleenthede was beperk tot 'n besoldigingsvlak en status veel laer as dié van mans. As gevolg van hierdie sosiologiese verskynsel, was dit 'n teken van welvaart om nie nodig te hê dat die moeder van die gesin "werk" nie. As gevolg van 'n kombinasie van ekonomiese veranderinge en die pogings van die vrouevryheidsbeweging, het hedendaagse vroue in die meeste kultuursgroepe toegang tot enige loopbaan.
Kyk ook na
wysig- Die vrou se rol in die twee wêreldoorloë
- Die vrou se rol in die Afrikaanse vryheidstryd
- Geskiedkundig beroemde vroue
- Geslags- en seksualiteitstudies
- Heldinne in die Afrikaanse letterkunde
- Lys van Afrikaanse digteresse
- Matriargie
- Vrouehatery
- Nü shu, die taal-vir-slegs-vroue
- Obstetrie
- Olimpiese medaljewenners in atletiek (vroue)
- Die wit slawehandel
Eksterne skakels
wysig- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir vrou.
- FemBio – Notable Women International Geargiveer 1 April 2004 op Wayback Machine