Wêreldsig-terrein (Pietermaritzburg)
Wêreldsig-terrein (Pietermaritzburg) | |
Die Wêreldsig-terrein in Pietermaritzburg
| |
Ander name | World’s View |
---|---|
Plek | Pietermaritzburg |
Land | Suid-Afrika |
Openingsjaar | 1968 |
Geopen deur | Natalse Voortrekkermonumentekomitee |
Tipe museum | Plaaslike Erfenisgebied |
Die Wêreldsig-terrein by Pietermaritzburg is ’n natuurmonument en geskiedkundige besienswaardigheid.
Die helling van Swartkop, ’n punt van die Boesmansberg styg geleidelik noordwes van Pietermaritzburg op om ’n natuurlike plato te maak van waar ’n mens ’n uitsig het oor Pietermaritzburg en die Msunduzivallei.
Sedert die koms van die Voortrekkers in 1838 na hierdie omstreke het die enigste pad van Durban en oor Pietermaritzburg na die Drakensberg jare lank oor hierdie terrein geloop. Hoewel tans onbegaanbaar, het die ou Voortrekkerpad uit Pietermaritzburg teen die helling van die berg uit, oor Wêreldsig en oor die rûens tot by Allemansdrif in die Mgenirivier geloop.
Op sommige plekke is die slote wat die remskoene in die rotslae gelaat het, nog te sien.[1] Die pad het waarskynlik ’n ou voetpad gevolg, maar watter Voortrekkers dit vir die eerste keer met hul waens oor hierdie hoogtes gewaag het, is in die geheel nie seker nie.
Prof. J.J. Oberholster spekuleer dat Gerrit Maritz en Karel Landman wat in Mei 1838 met ’n sterk kommissie van 150 man en 30 waens aan Port Natal besoek afgelê het, miskien hierdie roete vir die eerste maal behoorlik oopgetrap. In Oktober 1838 het komdt. Pieter Greyling hom op Boesmansrand, waar Pietermaritzburg later uitgelê sou word, gevestig en hierna sou daar gereelde verkeer van die Baai en van die binneland oor hierdie pas wees. Eers baie jare later sou die ou pad in onbruik raak.
Galery
wysig-
Die muur wat lei tot die uitkykpunt. Daarop is granietplate met basiese inligting oor die terrein.
-
Mosaïek van ’n ossewa by die terrein.
-
Mosaïek tussen die vloerklippe by die terrein. Dit dui o.m. die ou Voortrekkerpad en die belangrikste riviere uit.
Verwysings
wysig- ↑ "Oor Wêreldsig". SA-Venues. Besoek op 17 Desember 2024.
Bronne
wysig- Oberholster, J.J. (1972). Die historiese monumente van Suid-Afrika. Die Kultuurstigting Rembrand van Rijn.