Wikipedia:Voorbladartikel week 4 2021
Die Kaapse Plooigordel is ’n plooi-en-oorskuiwingsgordel uit die laat Paleosoïkum wat die opeenvolging van die lae afsetselgesteentes van die Kaapse Supergroep in die suidwestelike hoek van Suid-Afrika beïnvloed het. Die gesteentes is hoofsaaklik skalie en sandsteen, met die skalie (Bokkeveld-groep) in die valleibodems terwyl die erosiebestande sandsteen (Skiereiland-formasie) die parallelle bergreekse van die Kaapse Plooiberge vorm. Dié berge bereik ’n maksimum hoogte van 2 325 m by Seweweekspoortpiek.
Die Kaapse Plooiberge vorm ’n reeks parallelle bergreekse wat 850 km ver al langs die suidwestelike kuslyn van Suid-Afrika afloop, vanaf Sederberg 200 km noord van die Kaapse Skiereiland, en dan al langs die suidkus tot so ver as Port Elizabeth, 650 km oos van die skiereiland. (Sien kaart bo.)