Windkous
'n Windkous is 'n koniese buis materiaal wat aan 'n groot sokkie herinner en tipies aan 'n paal geheg word. Dit kan gebruik word as 'n basiese aanduider van windspoed en windrigting; maar ook as 'n versiering. Windkouse word gewoonlik by lughawens gebruik om die rigting en sterkte van die wind aan vlieëniers aan te dui. Dit word ook gebruik by chemiese fabrieke waar daar 'n risiko van gaslekke is. Hulle word ook soms langs hoofweê, waar die wind erg waai, gesien.
By die meeste lughawens word windkouse belig gedurende die nag.[1] Die windrigting is die rigting wat die kous aandui. Daar moet in gedagte gehou word dat windrigting aangedui word uit die rigting wat die wind waai; 'n windkous wat noord wys dui 'n suidewind aan. Die windspoed word aangedui deur die windkous se hoek relatief tot die paal waaraan dit geheg is. In lae winde hang dit en in hoë winde is dit horisontaal.
Geskiedenis
wysigDie windkous was aanvanklik gemaak van afwissellende oranje en wit bande wat die windspoed geskat het, elke streep het drie knope (5.6 km/h) bygevoeg tot die geskatte spoed. Sommige sirkelvormige raammonterings veroorsaak egter dat die windkous aan die een kant oopgehou word, wat 'n snelheid van 3 knope aandui selfs wanneer strepe nie teenwoordig is nie. 'n Ten volle uitgestrekte windkous dui 'n windspoed van 15 knope of groter aan.[2]
Standaarde
wysigDie Federale Lugvaartadministrasie standaard bepaal dat 'n windkous moet rigting kan aandui met windjie van 3 knope en ten volle uitgestrek wees in 'n wind van 15 knope.[1]
Volgens Transport Canada standaarde moet 'n 15 knope wind die kous ten volle uitstrek, 'n 10-knope wind moet dit tot 5° onder die horisontaal lig en 'n 6 knope wind moet dit tot 30° onder die horisontaal lig.[3]
Die Internasionale Burgerlugvaartorganisasie spesifiseer 'n afgeknotte kegelvormige windkous van minstens 3,6 meter lank en 0.9 meter in diameter aan die groot kant. Dit moet sigbaar wees van 'n hoogte van 300 m en verkieslik net een kleur wees. Indien twee kleure gebruik word moet dit verkieslik wit en oranje wees, gerangskik in vyf alternatiewe bande met die eerste en laaste die donkerker. Wanneer die windspoed 3 knope of meer is, moet dit die windrigting met ±5° akkuraatheid weergee.[4]
Ander windrigting aanduiders
wysigWind-T en windtetraëders is twee ander windrigting aanduiders wat ook op lughawens gebruik word. Wind-T’s is soos 'n vliegtuig gevorm sodat hulle ooreenstem met die rigting van 'n vliegtuig wat gereed is om op te styg en of te land. Windtetraëders se puntkant wys altyd na die wind. Wind-T’s en windtetraëders kan vrylik in die rondte draai en beweeg en lyn hulle met die windrigting op maar nie een van die twee meet windspoed soos 'n windkous nie. Aangesien 'n wind-T of tetraëder ook met die hand ingestel kan word om in lyn te wees met die aanloopbaan wat gebruik word, moet 'n vlieënier ook na die windkous kyk vir windinligting, indien dit beskikbaar is.[5]
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 ACP 125(F), FAA Advisory Circular 150/5345-27D (PDF 447KB), Federal Aviation Administration, 2 June 2004, http://www.faa.gov/documentLibrary/media/advisory_circular/150-5345-27D/150_5345_27d.pdf, besoek op 2017-01-07
- ↑ "Windsocks facts". Piggotts Flags And Branding. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Maart 2017. Besoek op 28 Februarie 2017.
- ↑ Transport Canada Aeronautical Information Manual (TC AIM) - Aerodromes (AGA) §5.9 Wind Direction Indicators, Transport Canada, 25 March 2021, https://tc.canada.ca/en/aviation/publications/transport-canada-aeronautical-information-manual-tc-aim-tp-14371, besoek op 2021-04-04
- ↑ Annex 14 to the Convention on International Civil Aviation - Aerodromes, Volume 1 §5.1.1 Wind Direction Indicator, International Civil Aviation Organization, July 2013
- ↑ Sjabloon:Cite PHAK Hierdie artikel bevat teks uit dié bron, wat in die publieke domein is.