Air France-vlug 4590
Air France-vlug 4590 was 'n Concorde-vlug wat deur Air France onderneem is van die Charles de Gaulle-lughawe naby Parys, Frankryk, na John F. Kennedy Internasionale Lughawe in New York, VSA. Op 25 Julie 2000 het dit neergestort op 'n hotel in Gonesse, Frankryk. Al honderd passasiers en nege bemanningslede aan boord het gesterf. Op die grond is vier mense dood en een ernstig beseer.[1] Die vlug is gehuur deur die Duitse maatskappy Peter Deilmann Cruises; die passasiers was almal op pad na die MS Deutschland boot in New Yorkstad vir 'n 16-dag-vaart na Manta, Ecuador.
Air France-vlug 4590 | |
---|---|
Die verongelukte vliegtuig
| |
Datum | 25 Julie 2000 |
Oorsaak | Vreemde voorwerp-skade veroorsaak deur onderdeelskade op DC-10 |
Plek van ramp | Gonesse, Frankryk |
Sterftes | 109 + nog 4 op die grond |
Beserings | 1 |
Vliegtuigtipe | Aerospatiale-BAC Concorde 101 |
Vliegtuigstertnommer | F-BTSC |
Oorsprong | Lughawe Parys-Charles de Gaulle |
Bestemming | John F. Kennedy Internasionale Lughawe |
Passasiers | 100 |
Bemanning | 9 |
Oorlewendes | 0 |
Dit was die enigste noodlottige ongeluk tydens die Concorde se 27 jaar operasionele geskiedenis.
Agtergrond
wysigDie ondersoek ná die ongeluk het aan die lig gebring dat die vliegtuig op of oor die maksimum opstygmassa teen lugtemperatuur en ander toestande was, en 810 kilogram oor sy maksimum strukturele massa. Daar is egter bevind dat dit nie enige invloed op die ramp gehad het nie.
Vyf minute voor die Concorde se vertrek, het 'n Continental Airlines DC-10 wat opgestyg het na Newark, New Jersey, 'n titaniumlegeringstrook (deel van die enjinhulsel), 435 mm lank, 29-34 mm breed en sowat 1,4 millimeter dik, verloor tydens sy opstyg van dieselfde aanloopbaan. 'n Inspeksie van die aanloopbaan, wat geskeduleer was vir 15:00, is nie uitgevoer nie.
Oorsaak
wysigGedurende die Concorde se opstygtyd, het hierdie stuk puin nog op die aanloopbaan gelê. Nadat die Concorde daaroor gery het, het dit 'n band van die Concorde in stukke gesny. 'n Groot stuk van die bandpuin (4,5 kilogram) tref die onderkant van die vliegtuigvlerk teen 'n beraamde spoed van 140 meter per sekonde (310 mpu). Hoewel dit nie direk enige van die brandstoftenks laat lek nie, stuur dit 'n drukskokgolf uit wat die nommer vyf brandstoftenk by sy swakste punt laat bars, net bokant die onderstel. Brandstof lek onbeheers uit die onderkant van die vlerk, wat waarskynlik die brand veroorsaak het deur 'n elektriese vonk in die landingwielruim of deur kontak met warm dele van die enjin.
Effek
wysigOp die punt van die brand se ontsteking het albei enjins krag verloor, maar die nommer-een enin het stadig herstel oor die volgende paar sekondes. 'n Groot bol vlamme bars uit en die vlugingenieur sluit enjin nommer-twee af in reaksie op 'n brandwaarskuwing en 'n bevel van die kaptein. Lugverkeerbeheerder Gilles Logelin het die vlamme gewaar voordat die Concorde in die lug was, maar met slegs 2 km se aanloopbaan oor, en teen 'n spoed van 328 km/h was die kaptein se enigste opsie om maar op te styg. Die Concorde sou ten minste nog 3 km se aanloopbaan benodig het om veilig te kon stop.
Verwysings
wysig- ↑ 'Black boxes' recovered at Concorde crash site. CNN. 25 Julie 2000. URL besoek op 3 Junie 2009.