Ali Chamenei
Ajatolla Ali Chamenei (Persies: سید علی حسینی خامنهای, [ʔæˈliː hoseiˈniː χɒːmeneˈʔiː], ; 1939-) is die godsdienstige leier van Iran. Hy het ajatolla Roeholla Chomeini in 1989 opgevolg. Die Irannese beskou hom as God se verteenwoordiger op aarde en hy beklee die hoogste magsposisie in die land.[3] Hy was ook van 1981 tot 1989 die president van Iran.
Ali Chamenei | |
2de Opperleier van die
Islamitiese Republiek van Iran | |
Ampsbekleër | |
Termynaanvang 4 Junie 1989 | |
Voorafgegaan deur | Roeholla Chomeini |
---|---|
3de President van Iran
| |
Ampstermyn 13 Oktober 1981 – 3 Augustus 1989 | |
Eerste minister | Mir-Hossein Mousavi |
Voorafgegaan deur | Mohammad-Ali Rajai |
Opgevolg deur | Akbar Hashemi Rafsanjani |
Lid van die Vergadering van Deskundiges
| |
Ampstermyn 15 Augustus 1983 – 21 Februarie 1991 | |
Lid van die Parlement van Iran
| |
Ampstermyn 28 Mei 1980 – 13 Oktober 1981 | |
Persoonlike besonderhede
| |
Gebore | 17 Julie 1938 Masjhad, Chorasan, Iran |
Politieke party | Onafhanklik (1989–hede) Islamitiese Republikeinse Party (1979–1987) Gesamentlike Geestelike Vereniging (1977–1989)[1] |
Eggenoot/-note | Khojaste Bagherzadeh (1964–hede) |
Kind(ers) | Mostafa, Mojtaba, Masoud, Meysam, Hoda, Boshra |
Religie | Sjia Islam |
Handtekening | |
Militêre Diens
| |
Lojaliteit | Iran |
Diens/Tak | Islamitiese Revolusionêre Wagte |
Jare in diens | 1979–1980 |
Rang | Hoof van Revolusionêre Wagte[2] |
Chamenei was 'n volgeling en vertroueling van Roeholla Chomeini en as sodanig 'n teenstander van die Westerse politiek van sjah Mohammad Reza Pahlavi. Tussen 1964 en 1978 is hy om dié rede gereeld gevange geneem. Ná die val van die sjah in 1978 word hy lid van die Islamitiese Revolusionêre Raad, 'n minister en 'n Vrydag-imam in Teheran. As voorganger in die gebed op Vrydagmiddae het hy opruiende preke in die hoofstad gelewer, waarmee hy gelowiges in vervoering gehad het.
Op 27 Junie 1981 oorleef hy 'n aanslag op sy lewe. Tydens 'n perskonferensie ontplof 'n bom wat in 'n kassetopnemer weggesteek was. Hoewel Khamenei reg langs die opnemer gesit het, oorleef hy die aanslag. Hy is sedertdien aan sy regterhand gestrem. Vir sy volgelinge is dit 'n bewys dat hy 'n "lewende" martelaar is.
Ná die moord op Mohammad Ali Rajai is Khamenei deur 'n oorgrote meerderheid tot president van Iran verkies. So word hy dan die eerste geestelike wat hierdie amp in Iran beklee. As president het hy ook die Islamitiese Republikeinse Party gelei. Net soos sy voorganger, Chomeini, het Chamenei byna onbeperkte mag oor alle staatsinstellings uitgeoefen.
In 1985 is hy vir 'n tweede termyn herkies. In teenstelling met sy voorganger, Abolhassan Bani Sadr, kom hy selde met die godsdienstige leier van Iran in konflik. Ná die dood van Chomeini is Chamenei op 4 Junie 1989 tot godsdienstige leier (die hoogste leier) van Iran verkies.
Chamenei staan konserwatiewe Islamisme voor, wat selde hervormings toelaat. Hierby vind hy steun van die Raad van Hoeders wat in die 1980's gestig is. Hierdie raad bestaan uit ses Sjiitiese moellahs en ses juriste en waak oor alle politieke aanstellings, parlementsbesluite en oor die toepassing van sensuur.
Aan die einde van die 1990's laat hy enkele hervormings toe om 'n einde aan Iran se internasionale geïsoleerde posisie te maak. Die hervormingsbeweging het in 1997, na die verkiesing van Mohammad Chatami tot president, in volle gang gekom.
Verwysings
wysig- ↑ "جامعه روحانيت مبارز جوان ميشود" [Combatant Clergy Association gets younger] (in Persies). Fararu. 8 Julie 2012. 118101. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Junie 2018. Besoek op 18 Junie 2017.
- ↑ "Detailed biography of Ayatollah Khamenei, Leader of Islamic Revolution" (in Engels). Khamenei.ir. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 April 2020. Besoek op 18 Junie 2017.
- ↑ HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
Eksterne skakels
wysig- Persoonlike webtuiste
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Ali Chamenei.