Alphonse Daudet (Franse fonetiese uitspraak: dodɛ; 13 Mei 1840 - 16 Desember 1897) was 'n Franse romansier. Hy was getroud met Julia Daudet. Sy kinders was Edmée, Léon en Lucien. Verskeie kolleges en skole in hedendaagse Frankryk dra sy naam. Sy werke word steeds wyd gelees, met verskeie daarvan wat steeds in druk is.

Alphonse Daudet
Gebore(1840-05-13)13 Mei 1840
Nîmes, Frankryk
Sterf16 Desember 1897 (op 57)
Parys, Frankryk
BeroepRomansier, dramaturg, digter, kortverhaalskrywer
Handtekening

Vroeë lewe

wysig

Daudet is gebore in Nîmes, Frankryk.[1] Sy familie, aan beide vaders- en moederskant, het aan die bourgeoisie behoort. Sy vader Vincent Daudet was 'n syvervaardiger, maar is lewenslank geteister deur ongeluk en mislukking. Alphonse was lief vir stokkiesdraai en het 'n neerdrukkende jeug gehad. In 1856 verlaat hy Lyon, waar hy grotendeels skoolgegaan het, en begin sy loopbaan as skoolonderwyser te Alès, Gard, in die suide van Frankryk. Dié posisie was egter ondraaglik: Daudet het later gesê dat hy maande lank nadat hy Alès verlaat het met afgryse wakker sou word, denkende dat hy steeds onder sy weerbarstige leerlinge is. Hierdie ervarings en andere word weerspieël in sy roman Le Petit Chose

Op 1 November 1857 het hy die onderwys verlaat en by sy broer Ernest Daudet begin woon. Ernest was slegs sowat drie jaar ouer as hy, en het 'n onsekere bestaan gevoer as joernalis in Parys. Alphonse het die pen opgeneem, en sy gevolglike gedigte is versamel in 'n klein bundel, Les Amoureuses (1858), wat 'n goeie ontvangs gehad het. Hy het werk gekry by Le Figaro, wat destyds onder Hippolyte de Villemessant (Cartier de Villemessant) se energieke redakteurskap gestaan het, twee of drie toneelstukke geskryf, en mettertyd die erkenning geniet van die literêre establishment. Duc de Morny, Napoleon III se magtige minister, het hom as een van sy sekretarisse aangestel - 'n pos wat hy beklee het tot Morny se dood in 1865.

Literêre loopbaan

wysig
 
Daudet se Windmeul

In 1866 het Daudet se Lettres de mon moulin, geskryf in Clamart naby Parys, en wat verwys na 'n windmeul in Fontvieille, Bouches-du-Rhône, Provence, die leserspubliek gaande gehad. Die eerste van sy langer werke, Le Petit Chose (1868), was egter nie besonder gewild nie. Dit is in hoofsaak die verhaal van sy vroeëre jare, en word op grasieuse en aangrypende wyse vertel. Die jaar 1872 het die beroemde Aventures prodigieuses de Tartarin de Tarascon en die driebedryf toneelstuk L'Arlésienne opgelewer. Sy Fromont jeune et Risler aîné (1874) het egter dadelik die wêreld gaande gehad. Dit het iets gebied wat beslis nie 'n nuwigheid in die Engelse letterkunde was nie, maar betreklik nuut was in die Franse letterkunde. Sy kreatiwiteit het gelei tot karakters wat eg en oortuigend was.

Jack, 'n roman oor 'n buite-egtelike kind; 'n martelaar vir sy ma se selfsug, wat in 1876 gevolg het, het slegs gedien om dieselfde indruk te verdiep. Sy loopbaan was voortaan dié van 'n suksesvolle skrywer van hoofsaaklik romans soos Le Nabab (1877), Les Rois en exil (1879), Numa Roumestan (1881), Sapho (1884) en L'Immortel (1888). Hy het ook op nostalgiese wyse geskryf vir die verhoog, soos in Trente ans de Paris (1887) en Souvenirs d'un homme de lettres (1888). Hierdie werke, saam met die drie Tartarins[2]-Tartarin de Tarascon, Tartarin sur les Alpes en Port-Tarascon en die kortverhale, wat grotendeels geskryf is voordat hy roem en bekendheid verwerf het, maak sy lewenswerk uit.

L'Immortel is 'n bittere aanval op die Académie française, waaraan Daudet nooit behoort het nie. Daudet het ook vir kinders geskryf, insluitend La Belle Nivernaise, die verhaal van 'n ou boot en haar bemanning. In 1867 trou Daudet met Julia Allard, skryfster van Impressions de nature et d'art (1879), L'Enfance d'une Parisienne (1883) en 'n paar literêre studies geskryf onder die skuilnaam "Karl Steen".

Daudet was nie 'n besonders getroue eggenoot nie, en was een van 'n generasie Franse literêre sifilislyers.[3] Daudet het sy maagdelikheid reeds op 12-jarige ouderdom verloor, en het tydens sy huwelik voortdurend saam met die minnaresse van sy vriende geslaap. Daudet sou verskeie pynlike behandelings en operasies ondergaan vir dié latere verlammende siekte. Sy joernaalinskrywings wat verband hou met die pyn wat hy as gevolg van tabes dorsalis[4] ervaar het, is versamel in die bundel La Doulou, wat in Engels vertaal is deur Julian Barnes as In The Land of Pain (2003). Daudet is op 16 Desember 1897 in Parys oorlede, en is in dié stad se Père Lachaise-begraafplaas begrawe.

  • Die verhaal van Daudet se vroeëre jare word vertel in sy broer Ernest Daudet se Mon frère et moi. Daar is ook heelwat outobiografiese besonderhede in Daudet se Trente ans de Paris en Souvenirs d'un homme de lettres en ook in sy ander boeke. Verwysings na Daudet in die Journal des Goncourt is talryk.
 
Portret van Alphonse Daudet
 
Alphonse Daudet, omstreeks 1860 (The J. Paul Getty Museum)

Werke

wysig
  • Les Amoureuses (1858; gedigte, eerste gepubliseerde werk).
  • Le Petit Chose (1868).
  • Lettres de Mon Moulin (1869, kortverhale).
  • Tartarin de Tarascon (1872).
  • L'Arlésienne (1872; novelle, wat oorspronklik deel was van Lettres de Mon Moulin, maar wat later verwerk is tot 'n toneelstuk)
  • Contes du Lundi (1873; kortverhale).
  • Les Femmes d'Artistes (1874).
  • Robert Helmont (1874).
  • Fromont jeune et Risler aîné (1874).
  • Jack (1876).
  • Le Nabab (1877).
  • Les Rois en Exil (1879).
  • Numa Roumestan (1880).
     
    Daudet se graf by Pere Lachaise-Begraafplaas, Parys
  • L'Evangéliste (1883).
  • Sapho (roman) (1884).
  • Tartarin sur les Alpes (1885).
  • La Belle Nivernaise (1886).
  • L'Immortel (1888).
  • Port-Tarascon (1890).
  • Rose and Ninette (1892).[5]
  • Batisto Bonnet (1894) (in Frans), Un paysan du Midi. Vie d'enfant, vertaal deur Alphonse Daudet, Parys: E. Dentu, pp. 503 
  • La Doulou (1930).
  • The Last Lesson

Verwysings

wysig
  1. "Sketch of Alphonse Daudet," Review of Reviews, Vol. 17, No. 2, 1898, p. 161.
  2. Sachs, Murray (1966). "Alphonse Daudet's Tartarin Trilogy," The Modern Language Review, Vol. 61, No. 2, pp. 209–217.
  3. "Alphonse Daudet's Illness," The British Medical Journal, Vol. 2, No. 3745, 1932, p. 722.
  4. Naamlik, die latere simptome van neurosifilis, wat gekenmerk word deur die stadige degenerasie (spesifiek, demyelinisering) van die neurale bane, hoofsaaklik in die dorsale wortelganglia van die rugmurg (senuweewortel). Hierdie pasiënte ervaar pynlike senuweewortelpyn wat vererger word deur die voorkoms van hoesbuie, met kenmerke van sensoriese ataksie met okulêre betrokkenheid.
  5. White, Nicholas (2001–2002). "Paternal Perspectives on Divorce in Alphonse Daudet's "Rose et Ninette" (1892)," Nineteenth-Century French Studies, Vol. 30, No. 1/2, pp. 131–147.

Bronne

wysig
  • Dobie, G. Vera (1949). Alphonse Daudet. London and New York: Nelson.
  • Roche, Alphonse V. (1976). Alphonse Daudet. Boston: Twayne Publishers.
  • Sachs, Murray (1965). The Career of Alphonse Daudet: A Critical Study. Harvard University Press.

Verdere leesmateriaal

wysig
  • Burton, Richard (1898). "Björnson, Daudet, James: A Study in the Literary Time-spirit." In: Literary Likings. Boston: Copeland and Day, pp. 107–130.
  • Conrad, Joseph (1921). "Alphonse Daudet." In: Notes on Life & Letters. Londen: J.M. Dent & Sons Ltd., pp. 25–31.
  • Crawford, Virginia M. (1898). "Alphonse Daudet," The Contemporary Review, Vol. 73, pp. 182–192 (Rep. in Studies in Foreign Literature. Boston: L.C. Page & Company, 1899, pp. 49–77.)
  • Croce, Benedetto (1924). "Zola and Daudet." In: European Literature in the Nineteenth Century. London: Chapman & Hall, pp. 312–325.
  • Daudet, Léon (1898). Alphonse Daudet. Boston: Little, Brown and Company.
  • Doumic, René (1899). "Alphonse Daudet." In: Contemporary French Novelists. New York: Thomas Y. Crowell & Company, pp. 127–174.
  • Favreau, Alphonse R. (1937). "British Criticism of Daudet, 1872-97," PMLA, Vol. 52, No. 2, pp. 528–541.
  • Gosse, Edmund (1905). "Alphonse Daudet." In: French Profiles. New York : Dodd, Mead and company, pp. 108–128.
  • Hamilton, C.J. (1904). "The Early Struggles of Alphonse Daudet," The Gentleman's Magazine, Vol. CCXCVII, pp. 597–608.
  • Hemmings, F.W.J. (1974). "Alphonse Daudet." In: The Age of Realism. Harmondsworth: Penguin, pp. 194–200.
  • Henry, Stuart (1897). "M. Daudet." In: Hours with Famous Parisians. Chicago: Way & Williams, pp. 31–76.
  • James, Henry (1894). "Alphonse Daudet." In: Partial Portraits. Londen: Macmillan & Co., pp. 195–239.
  • Major, John C. (1966). "Henry James, Daudet and Oxford," Notes & Queries, Vol. 13, No. 2, pp. 69–70.
  • Matthews, Brander (1901). "Alphonse Daudet." In: The Historical Novel and Other Essays. New York: Charles Scribner's Sons, pp. 109–146.
  • Maurice, Arthur Bartlett (1901). "Daudet and the Making of the Novel," The Bookman, Vol. 13, pp. 42–47.
  • Mauris, Maurice (1880). "Alphonse Daudet." In: French Men of Letters. New York: D. Appleton and Company, pp. 219–244.
  • Moore, Olin H. (1916). "The Naturalism of Alphonse Daudet," Modern Philology, Vol. 14, No. 3, pp. 157–172.
  • Oliphant, Margaret (1879). "The Novels of Alphonse Daudet," Blackwood's Magazine, Vol. 125, pp. 93–111.
  • Powers, Lyall H. (1972). "James's Debt to Alphonse Daudet", Comparative Literature, Vol. 24, No. 2, pp. 150–162.
  • Ransome, Arthur (1913). "Alphonse Daudet." In: Portraits and Speculations. London: Macmillan & Co., pp. 57–70.
  • Raffaëlli, Jean François (1899). "Alphonse Daudet and his Intimates," Lippincott's Magazine, Vol. 64, pp. 952–960.
  • Sachs, Murray (1948). "The Role of Collaborators in the Career of Alphonse Daudet," PMLA, Vol. 73, No. 1, pp.116–122.
  • Sachs, Murray (1964). "Alphonse Daudet and Paul Arène: Some Umpublished Letters," Romanic Review, Vol. 55, pp. 30–37.
  • Saylor, Guy Rufus (1940). Alphonse Daudet as a Dramatist. Philadelphia: University of Pennsylvania Press.
  • Sherard, Robert Harborough (1894). "Alphonse Daudet at Home," McClure's Magazine, Vol. 3, pp. 137–149.
  • Sherard, Robert Harborough (1894). Alphonse Daudet: Biographical and Critical Study. London: Edward Arnold.
  • Taylor, Una A. (1913). "The Short Story in France," The Edinburgh Review, Vol. 218, No. 445, pp. 137–50.
  • Whibley, Charles (1898). "Alphonse Daudet," The Modern Quarterly of Language and Literature, Vol. 1, No. 1, pp. 16–21.

Eksterne skakels

wysig