Arrestasie van Libiërs by 'n onwettige militêre opleidingskamp in Mpumalanga (2024)
Op 26 Julie 2024 is 'n polisieklopjag uitgevoer op 'n plaas in Witrivier, Mpumalanga (Suid-Afrika) wat tot die arrestasie van 95 Libiese burgers gelei het. Daar is vermoed dat die plaas moontlik as 'n koverte militêre opleidingskamp dien. Die opleidingsfasiliteite word bestuur deur Milites Dei Security Services (MDSS) of Milites Dei Academy, ‘n entiteit wat veiligheidsopleiding verskaf. Die Libiese burgers het spoedig in die Witrivier-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte wat verband hou met die oortreding van die immigrasiewet nadat hulle Suid-Afrika binnegekom het met visums wat deur wanvoorstelling in Tunis, Tunisië verkry is, volgens die departement van binnelandse sake. Hulle was in aanhouding[1] tot 18 Augustus 2024. Op hierdie dag is hulle gedeporteer na Libië.[2]
Aanvanklike aanduidings van lojaliteite van gearresteerde Libiërs
wysigDie Libiërs is lede van die sogenaamde Tariq bin Ziyad Brigade wat geaffilieer is met die berugte Libiese Nasionale Weermagbevelvoerder, die Oos-Libiese militêre sterkman Khalifa Haftar. Die groep Libiërs is na Suid-Afrika gestuur om opleiding as 'spesiale magte' te ontvang onder toesig van 'n onbekende Ierse veiligheidsfirma.[3]
Jalel Harchaoui, 'n kenner by die Royal United Services Institute in Londen, het aan die nuusweb Daily Maverick gesê volgens sy bronne het die Suid-Afrikaanse maatskappy wat die opleiding verskaf – genaamd Milites Dei Security Services (MDSS) of Milites Dei Academy – geweier om die opleiding in Libië te doen en het daarop aangedring dat die 95 "studente" na Witrivier kom. Hy het opgemerk dat die oostelike Libiese regering erken het dat die 95 betrokke Libiërs van Benghazi gestuur is.
Harchaoui het gesê Libië se oostelike regering het implisiet sy betrokkenheid erken toe sy minister van buitelandse sake, Abdul Hadi àl-Hawaij, gesê het hy volg die Libiërs wat in Suid-Afrika aangehou is op en sal poog om hulle van regsondersteuning te voorsien. Harchaoui het gesê dat sy bronne vir hom gesê het dat dit spesifiek een van Haftar se seuns Khaled of Saddam was wat verantwoordelik was vir die reël van die opleiding. Die seuns was besig om die aktiewe bestuur van die Libiese Nasionale Weermag oor te neem, aangesien Haftar self nou 81 is en minder aktief word.
Harchaoui het die Suid-Afrikaanse operasie gekontrasteer met die media-onthulling dat die Haftar-familie oud-Ierse soldate gekontrakteer het wat vir 'n maatskappy genaamd Irish Training Solutions werk om die 166 Infanterie Brigade van die Libiese Nasionale Leër op te lei. Dié opleiding is in die ooste van Libië gedoen.[4]
Agtergrond
wysigDie Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het verklaar dat die waarnemende provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, generaal-majoor Zeph Mkhwanazi, op 24 Julie, inligting oor die kamp ontvang het en die Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur, wat die departement van binnelandse sake en polisie-intelligensie ingesluit het, byeengeroep het. ’n Gesamentlike operasie is op 26 Julie 2024 uitgevoer.[4]
Die Ministerie van Polisie en SAPD het gesê die terrein, wat aanvanklik as 'n opleidingsfasiliteit aangewys is, is in 'n onwettige militêre opleidingsbasis omskep. Kol. Donald Mdhluli, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het gesê daar is 'n skietbaan op die privaat stuk grond, wat deur die eienaar verhuur is. Hy het onthul dat onwettige vuurwapens, militêre toerusting, kokaïen, dagga, asook ander onwettige middels, tydens die gesamentlike verwyderingsoperasie by die beweerde militêre kamp, gevind is.[5]
City Press het berig Senzo Mchunu, minister van polisie, het op 27 Julie 2024 gesê dit blyk dat 'n Witrivier-veiligheidsmaatskappy, MDSS, militêre opleiding by die kamp onder die dekmantel van sekuriteitsopleiding gedoen het. "Die onwettige militêre opleidingsbasis wat in Witrivier in Mpumalanga ontdek is, het uitgebreide strukture gehad, soortgelyk aan wat 'n mens by 'n wettige militêre opleidingskamp sou vind," het Mchunu in 'n Facebook-plasing gesê.
MDSS is geregistreer by die Private Sekuriteitsbedryf Regulerende Owerheid (PSiRA). PSiRA het op 26 Julie 2024 aangekondig dat die organisasie die week tevore verneem het dat MDSS “...na bewering militêre-styl opleiding vir onder meer Libiese burgers op 'n plaas in Witrivier, Mpumalanga, doen”. PSiRA het gesê hy het MDSS opdrag gegee om onmiddellik alle opleidingsaktiwiteite te staak en het sy inspektoraat ontplooi om die perseel te inspekteer om nakoming te verseker. “PSiRA, saam met ander staatsdepartemente, was natuurlik bekommerd oor hierdie aktiwiteite en het onmiddellike stappe gedoen om voorlopige ondersoeke te doen en gevolglik het PSiRA sulke opleiding gesluit,” het die owerheid gesê.
Volgens sy webwerf spesialiseer MDSS in militêre-styl sekuriteit, soos gewapende bewaking, patrollering, plaassekuriteit en BBP-beskerming. Die maatskappy bied ook sekuriteitskursusse by Milites Dei Academy aan. Sy hoofkantoor is in Peebles Valley buite Witrivier.[4]
Verwysings
wysig- ↑ "95 Libyan nationals arrested in South Africa". Africanews (in Engels). 26 Julie 2024. Besoek op 26 Julie 2024.
- ↑ Maroela Redaksie, 18 Augustus 2024. SA deporteer 95 Libiërs van ‘opleidingskamp’ https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/sa-deporteer-95-libiers-van-opleidingskamp/ Besoek 8 September 2024.
- ↑ Twitter (in Engels). 29 Julie 2024 https://threadreaderapp.com/thread/1817863056468083014.html. Besoek op 30 Julie 2024.
{{cite web}}
: Ontbrekende of leë|title=
(hulp); Text "Ryan Cummings X-Posts Threat on Libian Arrests" ignored (hulp) - ↑ 4,0 4,1 4,2 "Libyans arrested at SA security training firm linked to group trying to topple UN-backed Tripoli government=MSM". 31 Julie 2024. Besoek op 27 Julie 2024.
- ↑ Cornelia Le Roux, (26 Julie 2024) 95 Libyans arrested in breakfast raid at ‘military camp’ in Mpumalanga, https://www.citizen.co.za/news/military-camp-white-river-mpumalanga-libyan-nationals/ The Citizen. Besoek 5 Augustus 2024.