Berseba
Berseba is ’n nedersetting in die streek ǀǀKaras in die suide van Namibië. In vroeër jare was dit ook die hoofkwartier van die inboorlingkommissaris van Suidwes-Afrika, ’n sendingstasie en kommunale sentrum vir die inheemse bevolking van die Berseba-reservaat, wat deel was van die landdrosdistrik Keetmanshoop.
Berseba | |
---|---|
Die tweede Rynse kerk op Berseba, afgeneem einde 19de of begin 20ste eeu. | |
Koördinate: 25°59′46″S 17°46′02″O / 25.99611°S 17.76722°O | |
Land | Namibië |
Streek | ǀǀKaras |
Kiesafdeling | Berseba |
Hoogte | 1 590 m (5 220 ft) |
Eerw. Samuel Hahn van die Rynse Sendinggenootskap het die sendingstasie Berseba gestig op 17 Oktober 1850, agt jaar nadat die eerste Rynse sendelinge die land binnegekom het, aan die voet van die uitgestorwe vulkaan Brukkaros, sowat 100 km noordwes van Keetmanshoop. Eerw. J.G. Krönlein het Hahn in 1851 opgevolg en nagenoeg ’n kwarteeu hier gearbei. Laasgenoemde het Berseba sy naam gegee na aanleiding van Genesis 21:31: "Die plek word Berseba genoem, want daar het hulle twee 'n eed teenoor mekaar afgelê."[1]
Die Berseba-inboorlinggebied was in 1885 die onderwerp van ’n verdrag tussen die Berseba-Namas en die Duitse koloniale regering. In 1923 is die grense van die Berseba-reservaat uitgevaardig, wat in 1970 sowat 5 900 km² beslaan het.
Die eerste diamant in die huidige Namibië is in 1898 in die omgewing van Berseba ontdek en in 1900 en 1929 is hier na olie gesoek, maar nóg diamante nóg olie het tot noemenswaardige nywerheidsontwikkeling gelei. Die nedersetting gaan gebuk onder armoede, middelmisbruik en misdaad. Die plaaslike sekondêre skool, die privaat Ecumenical Community School, is in 2010 ongeskik verklaar om as opvoedkundige instelling te dien, en is gevolglik gesluit.
In die plaaslike- regeringsverkiesing van 2015 het Swapo met 266 stemme drie setels in die plaaslike raad verower, die Demokratiese Turnhalle-alliansie met 200 stemme twee setels en die RDP met 45 stemme geen.
Bronne
wysig- (en) Potgieter, D.J. (ed.) 1973. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
Verwysings
wysig- ↑ (af) Bybel.co.za. URL besoek op 15 April 2016.
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Berseba.
- (en) 'n Foto van die ou Rynse sendingkerk. URL besoek op 15 April 2016.