Blue Mountains
Die Blue Mountains is 'n bergagtige streek in Nieu-Suid-Wallis, Australië. Dit grens aan Sydney se metropolitaanse gebied, met die voethoewels wat sowat 50 km wes van Sydney af begin.[1] Die gebied begin aan die westekant van die Nepeanrivier en strek wes tot so ver as die Coxrivier.[2]
Digte bloekomwoude gee die lug 'n blou gloed en daarom word hierdie berge die "Blue Mountains" genoem.
Die uitsig oor hierdie Australiese berge met sy inheemse natuurlewe, diep canyons, watervalle en ongerepte struikgewasse is asemrowend. Meer as 92 verskillende spesies bloekombome word in Blue Mountains Nasionale Park verteenwoordig.
'n Belangrike rotsformasie kan by Echo Point gesien word. Volgens die tradisie van Aborigines is drie susters (Meehni, Wimlah en Gunnedoo) hier versteen. Die drie uitstaande rotspunte word dus die Three Sisters genoem.
Die Blue Mountains bestaan hoofsaaklik uit 'n sandsteenplato met skeure van tot 760 m diep daardeur. Die hoogste punt van die bergreeks is 1 190 m bo seevlak. 'n Groot deel van die Blue Mountains is tot 'n wêrelderfenisgebied verklaar en sluit sewe nasionale parkgebiede en 'n natuurreservaat in.
Die Blue Mountains-gebied sluit die plaaslike regeringsgebiede Blue Mountains, Hawkesbury, Lithgow en Oberon in.
Klimaat
wysigDie klimaat wissel met die hoogte bo seespieël. By Katoomba (1 010 m) is die dagtemperatuur in die somer in die 20's met 'n paar dae bo 30 °Celsius). Nagtemperature is gewoonlik in die tiene. In die winter is die temperatuur bedags rondom 12 tot 13 °C, en so laag as -3 °C op wolklose nagte en so 2 tot 3 °C op bewolkte nagte. Daar kom sowat twee tot drie sneeuvalle jaarliks voor. In die laer gebiede is dit egter beduidend warmer.
Die reënval is ongeveer 1 050 mm in die hoogste dele van die Blue Mountains,[3] met baie mistige dae.
Verwysings
wysig- ↑ Gregory's New South Wales State Road Map, Kaart 220, 11de Uitgawe, Gregory's Publishing Company
- ↑ The Blue Mountains Rediscovered, Chris Cunningham (Kangaroo Press) 1996, bl.33
- ↑ http://www.bluemts.com.au/tourist/about/climate.asp