Boy Erased is 'n Amerikaanse biografiese dramarolprent van 2018 wat gebaseer is op Garrard Conley se memoire van 2016, Boy Erased: A Memoir. Dit is geskryf en geregisseer deur Joel Edgerton, wat ook een van die vervaardigers en akteurs is.

Boy Erased

Garrard Conley en Joel Edgerton op die Telluride-rolprentfees.
Regisseur Joel Edgerton
Vervaardiger
  • Joel Edgerton
  • Steve Golin
  • Kerry Kohansky Roberts
Draaiboek Gebaseer op Boy Erased: A Memoir, deur Garrard Conley
Met
Musiek deur
  • Danny Bensi
  • Saunder Jurriaans
Kinematografie Eduard Grau
Ateljee
  • Perfect World Pictures
  • Anonymous Content
  • Blue-Tongue Films
Verspreider Focus Features
Uitgereik September 1, 2018 (2018-09-01)
Speeltyd 115 minute
Land VSA
Taal Engels
IMDb-profiel

Lucas Hedges speel die rol van Jared Eamons, 'n fiktiewe weergawe van Conley. Hy is die gay seun van Baptiste-ouers wat deur Nicole Kidman en Russell Crowe vertolk word. Jared word gedwing om aan konversieterapie deel te neem. Van die byrolle word vertolk deur Edgerton, Joe Alwyn, Xavier Dolan, Troye Sivan, Cherry Jones en Flea.

Boy Erased se première was op 1 September 2018 op die Telluride-rolprentfees en dit is ook op die Toronto- Internasionale Rolprentfees gewys. Resensies was oor die algemeen positief: Resensente het veral die toneelspel geprys. Die prent het verskeie benoemings vir pryse gekry, onder meer twee vir 'n Golden Globe. Dit het ook in 2019 die GLAAD-mediaprys vir uitstekende rolprent (beperkte uitreiking) gewen.

Storielyn

wysig

Jared Eamons[nota 1] is die seun van Marshall Eamons, 'n motorhandelaar en Baptisteprediker in Arkansas, en Nancy Eamons, 'n haarkapper. Hy begin sy eerste dag by die Love in Action-konversieterapieprogram vir gays in Memphis, Tennessee.

Die hoofterapeut, Victor Sykes, vertel vir die groep hulle seksualiteit is 'n keuse wat deur swak ouerskap teweeggebring is. Hy gee hulle opdrag om streng "morele lyste" van hulleself en hulle families op te stel, en doen 'n beroep op hulle om vir niemand te vertel wat tydens die sessies gebeur nie. Terwyl hy sy lys opstel, dink Jared aan sy lewe voordat hy met die program begin het.

Op hoërskool was hy gelukkig, hoewel hy sy verhouding met met sy meisie verbreek het toe hy universiteit toe is. Daar het hy bevriend geraak met 'n ander student, Henry. Terwyl Henry een nag in Jared se kamer oorslaap, verkrag hy Jared, vra verskoning en erken hy het dieselfde met 'n ander jong man gedoen. Jared keer getraumatiseer terug huis toe. Henry bel die Eamons en maak of hy 'n skoolberader is. Hy probeer verklap dat Jared gay is. Jared vertel vir sy ouers dat hy aangetrokke tot mans voel. Marshall bid vir sy seun en skryf hom in vir konversieterapie. Jared stem teensinnig in.

Jared vind uit die terapie is eers verby wanneer hy vir Sykes oortuig het hy is nou heteroseksueel. Dit lyk of hy vir 'n ruk in die program sal wees. Nadat hy 'n oefening nie geslaag het nie, word 'n ander seun in die program, Cameron, deur Sykes verneder en met 'n skynbegrafnisdiens geïntimideer. Die terapeute en sy familie slaan hom met Bybels en hy word in 'n bad met water gedruk terwyl 'n geskokte Jared toekyk.

Sykes oefen druk op Jared uit om oor Henry te praat. Hy weier, en Sykes probeer Jared dwing "om sy woede te gebruik" en te sê hy haat sy pa. Jared weier, want dit is Sykes vir wie hy kwaad is. Jared bel Nancy en smeek haar om hom te kom haal. Sykes, sy assistente en die ander deelnemers aan die program keer hom agter 'n geslote deur vas ondanks Nancy se teenwoordigheid. Cameron help Jared om by Nancy uit te kom en sy neem hom huis toe. Nancy is met afgryse vervul dat sy haar man toegelaat het om Jared by 'n ongekontroleerde program in te skryf. Marshall hou voet by stuk dat Jared in die program moet bly, maar sy gaan hom teen. Kort daarna hoor Jared dat Cameron selfmoord gepleeg het terwyl hy nog in die program was.

Vier jaar later woon Jared in New York saam met sy kêrel. Hy skryf 'n artikel oor die ongeymdhede in die Love in Action-program. Hy keer terug huis toe om sy pa te oorreed om die artikel te lees en sê vir hom dit is hy wat moet verander, nie Jared nie.

Hoofkarakters

wysig

Afwyking van bron

wysig

Daar is verskeie afwykings in die prent van Garrard Conley se memoire van 2016. In een toneel word gewys hoe die direkteur van Love in Action 'n deelnemer voor 'n doodskis op sy knieë dwing en hoe hy daarna met 'n Bybel geslaan word. Die toneel kom nie in Conley se memoire voor nie.[1] Tonele waar 'n jong man onder die water gedruk word en wagte Conley fisiek probeer keer om die program te verlaat is ook nie in die memoire nie.

Ontleding

wysig

Kommentators op die prent het gefokus op die uitbeelding van konversieterapie en die konteks van die implementering daarvan. Ross Ufberg sê in sy artikel "Survival Tales from the Ex-Gay Movement" konversieterapie kan die beste vesrtaan word as "'n vorm van berading wat sterk deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging teengestaan word en waarin probeer word om die seksuele oriëntasie van homoseksuele pasiënte as 'n geestesteuring te verander".[2]

Die spesifieke program in die prent, Love in Action (LIA), was 'n instelling waarin individue enigiets van 'n paar weke tot verskeie jare deurgebring het.[2] LIA verteenwoordig 'n faksie van 'n breër Christelike eksgaybeweging wat ontstaan het ná die verwydering van homoseksualiteit uit die Diagnostiese en Statistiese Handleiding van Geestesteurings in 1973 deur die Amerikaanse Sielkundige Vereniging, volgens Austin Williams Miller.[3] In die jare ná die verwydering het verskeie verenigings navorsing befonds om die doeltreffendheid van konversieterapie te bewys, onder andere die Nasionale Vereniging vir Navorsing en Terapie van Homoseksualiteit.[3] Williams Miller sê aktivisme het Boy Erased aangewakker.[3] Sulke aktivisme protesteer teen die feit dat konversieterapie teen Mei 2019 in die meeste jurisdiksies van die VSA steeds vir minderjariges wettig is.[3]

Verskeie bronne wys die hipokrasie uit in sommige lede van LIA wat in die prent voorkom. In 'n verdere ontleding van die ware verhaal agter die prent bespreek Ross Ufberg vir John Smid, 'n individu wat jare lank die LIA-ideologie verkondig het, maar die program eindelik gelos het en 'n openlik gay lewe lei.[2] Volgens Ufberg se ontleding het Smid met twee vroue getrou voordat hy met 'n man getrou het.[2] Smid het daarna in die openbaar verskoning gevra.[2] Williams Miller sê baie van die hooflede van LIA lei nou openlik gay lewens.[3]

Ontvangs

wysig

Op Rotten Tomatoes het die prent 'n goedkeuringsyfer van 80%, gebaseer op 266 resensies.[4] Op Metacritic het die prent 'n syfer van 69 uit 100, gebaseer op 48 resensies, wat dui op "algemeen gunstig".[5]

A.O. Scott van die New York Times sê daar is 'n gebrek aan nuanse in die karakterisering van die Eamonsgesin.[6] Hy voel daarom die prent is "net 'n opsomming van sy goeie intensies".[6] Ben Travis van die nuuswebtuiste Empire voel dieselfde, maar erken "dit navigeer die kruising tussen tradisionele godsdienstige oortuigings en geïnternaliseerde homofobie".[7] Ondanks positiewe opmerkings glo Travis die prent "misluk as 'n menslike drama".[7] Chris Nashawaty van Entertainment Weekly stem saam en sê die prent het 'n sterk boodskap, maar dit kon beter uitgevoer gewees het.[8] Nog 'n resensent, Peter Bradshaw van The Guardian, voel die prent ontbreek "komedie en ligtheid".[9]

Notas

wysig
  1. 1,0 1,1 In die rolprent is die naam van Conley se karakter Jared Eamons. Die name van ander karakters wat op werklike mense geskoei is, is ook verander

Verwysings

wysig
  1. Conley, Gerrard. "Boy Erased: A Memoir". Riverhead Books. 10 Mei 2016.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 Ufberg, Ross. "Survival Tales from the Ex-Gay Movement." Pacific Standard, vol. 9, no. 4, Julie 2016, pp. 64–66. EBSCOhost
  3. 3,0 3,1 3,2 3,3 3,4 Miller, Austin W. Pray the Hate Away: Remembering Conversion Therapy through Boy Erased, Northern Arizona University, Ann Arbor, 2019. ProQuest
  4. {{cite web|url=https://www.rottentomatoes.com/m/boy_erased%7Ctitle=Boy Erased (2018)|website=Rotten Tomatoes|publisher=Fandango|access-date=11 Desember 2024
  5. "Boy Erased Reviews". Metacritic. CBS Interactive. Besoek op 27 Februarie 2019.
  6. 6,0 6,1 Scott, A.O. "Review: In 'Boy Erased,' a Young Man Struggles With Faith and Sexuality." The New York Times, 31 Oktober 2018.
  7. 7,0 7,1 Travis, Ben. "Boy Erased." Empire, Empire, 4 Februarie 2019
  8. Chris NashawatyOctober, and Chris Nashawaty. "Lucas Hedges Plays a Teen Forced into Conversion Therapy in 'Boy Erased': EW Review." EW.com
  9. "Boy Erased Review – Dark Tale of a Teenager's 'Gay Conversion' Ordeal." The Guardian, Guardian News and Media, 6 Februarie 2019

Skakels

wysig