Die CPPI-indeks (Container Port Performance Index) is ‘n ranglys wat houerhawens wêreldwyd rofweg na hul doeltreffendheid rangskik.

Samestelling

wysig

Dit word periodiek saamgestel deur die Wêreldbank en S & P Market Intellligence. Met die opstel daarvan word gekyk na ‘n paar honderdduisend skeepsbesoeke aan hawens en die vervoer van ‘n 400 miljoen skeepsvraghouers in ‘n bepaalde jaar. Wagtye van skepe voor ‘n hawe voor dit kan vasmeer, die tydsduur van die laai en los (dus die gehalte van die stuwadoorsbedryf), die beskikbaarheid en gehalte van die loodsbote, hyskrane, spoorvragdiens, magasyne, koelhuise, bunkeroliegeriewe, die weersomstandighede soos winde en vloede, voedselvoorsiening aan die skepe in die hawe, misdaad en alle ander moontlike faktore wat die doeltreffendheid van die hawewerksaamhede kan beïnvloed, word bestudeer.

Die belangrikste oogmerk met die register is om aspekte te identifiseer vir die verbetering van die hawe tot voordeel van alle partye betrokke in die wêreldwye handelstesel en voorsieningskettings met die oog op ekonomiese groei. Hulle is o.a. die hawebestuurders, die skeepseienaars, die ekonomie van die streek, vervoerbedrywe op land, fabrikante en boere wat vir hul grondstowwe wag en wat hul vervaardigde produkte wil versend en die eindverbruiker. Doeltreffende hawens moet belê in die modernste tegnologie beskikbaar om stabiliteit in die wêreldmarkte en die volhoubaarheid van die skeepsvragbedryf te verseker. Negatiewe gevolge van swak dienslewering deur ‘n hawe kan die hele produksiesiklus van ‘n bedryf ontwrig. Onnodige hoë hawetariewe e.a. onkoste verminder die mededingendheid van ‘n bedryf, strem dus die ekonomiese groei en lei tot minder indiensneming in fabrieke en op plase.

2023-lys

wysig

Die vierdie samestelling van die ranglys is in 2023 uitgevoer toe 405 hawens ondersoek is. Yangshan-hawe in China was vir die tweede keer eerste op die lys. Opvallend is hoe goed die hawens in die Ooste gevaar het. Onder die eerste 36 is slegs 7 buite Asië. Cartagena in Colombia is in die derde plek. Tanger Med in Marokko (die grootste hawe in Afrika) beklee die 4de plek. Algeciras in Spanje is nr. 10, Port Said nr. 16, Callao nr. 26, Barcelona nr. 34 en Savona nr. 36. Die beste hawens in Afrika suid van die Sahara is Berbera en Mogadisjoe. Volgens die indeks is die Suid-Afrikaanse hawens van die swakste presterende kommersiële vraghouerhawens. Kaapstad is laaste in die rangorde. Net voor die Moederstad se hawe kom die name voor van die Ngqura-hawe (op 404), Durban (398) en Port Elizabeth (391). Luanda, Walvisbaai, Maputo, Nacala en Beira is hoër op die lys.

Bibliografie

wysig
  • documents.worldbank.org
  • Williams, Francois: Kommersiële hawens. Kaapse hawe is laaste in plek op wêreldranglys. Metro-hoë wil private sektor nou nadertrek. In: Die Burger, 10 Junie 2024
  • Williams, Francois: Wêreldbank se houerhawensindeks ‘vol foute’. Meting is nie reg nie, kla Transnet. Suid-Afrika se hawens vrotste op ranglys. In: Die Burger, 13 Junie 2024
  • worldcargonews.com
  • www.worldbank.org