California Club
Die California Club, wat op 24 September 1887 as 'n privaat vereniging vir leidende persoonlikhede uit alle lewenssfere in Los Angeles gevestig is, word onder die wêreld se mees prestigieuse sosiale klubs gereken. Volgens 'n ou segswyse vergader persone, wat Los Angeles bestuur, in die Jonathan Club, maar diegene, in wie se besit die stad is, is lede van die California Club.[1] Tot 1987 was lidmaatskap beperk tot mans.[2][3]
Die klubhuis met agt verdiepings in die middestad van Los Angeles, wat deur die bekende argitek Robert D. Farquhar (1872–1967) in die Neorenaissance-styl ontwerp en in 1930 op 'n perseel in die suide van die destyds groeiende sakedistrik voltooi is, is die vierde hoofkwartier wat vir die klub opgerig is. Een van die hoofdoelwitte was om vir sy lede geleentheid vir ontspanning te bied. Die American Institute of Architects (AIA) het aan Farquhar ter geleentheid van die voltooing van die klubgebou 'n ereprys vir sy ontwerp toegeken.
Dit is tans een van die bekendste historiese bakens in die Amerikaanse Weskusmetropol, met 'n waardevolle handvervaardigde meubilering, kosbare ingevoerde tekstiele en talle antikwiteite wat die ekslusiwiteit van sy lidmaatskap weerspieël. Farquhar, wat sy akademiese opleiding by die Massachusetts Institute of Technology en die École des beaux-arts in Parys ontvang het, het die klubgebou van 'n eetsaal met daklig voorsien wat destyds as een van die indrukwekkendste binneruimtes in die Verenigde State beskou is.[4] Die klubgebou het daarnaas ook as hoofkwartier vir die Sunset Club gedien, 'n eetklub en debatsvereniging wat in 1895 gevestig is.
Die California Club word eweneens verbind met eersterangse kookkuns, met 'n kombuis wat deur een van die leidende Amerikaanse sjefs bestuur word, en 'n gesofistikeerde wynkelder.[5] Die gebou is geleë naby Los Angeles se Openbare Biblioteek.
Verwysings
wysig- ↑ www.complex.com: 25 Outrageously Expensive Social Clubs in America. Besoek op 3 September 2017
- ↑ Downtown LA: The California Club. Besoek op 22 April 2020
- ↑ Curbed LA: A map guide to LA’s most fascinating private clubs. Besoek op 22 April 2020
- ↑ Kevin Starr: Material Dreams: Southern California Through the 1920's. New York, NY: Oxford University Press 1990
- ↑ "The California Club: About the Club. Besoek op 3 September 2017". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Augustus 2017. Besoek op 3 September 2017.
Eksterne skakels
wysig- Wiki-webtuistes
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie California Club.
- Amptelike webtuiste
- (en) California Club