Conway
Conway is 'n klein gemeenskappie in die gebied van die Inxuba Yethemba Plaaslike Munisipaliteit. Die nedersetting is 'n slagoffer van die ontvolking van die platteland.
Conway | |
---|---|
Koördinate: 31°44′0″S 25°18′0″O / 31.73333°S 25.30000°O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos-Kaap |
Distrik | Chris Hani |
Munisipaliteit | Inxuba Yethemba |
Die dorpie lê suidoos van Middelburg in die Oos-Kaap, net oos van die N10-nasionale pad, by die kruising van die R401-pad van Wapadsberg na Hofmeyr, die ou pad tussen Middelburg en Cradock, die spoorlyn en die Klein-Brakrivier. Enkele kilometers oos van die gehug is die Grassridgedam.
In sy bloeitydperk het die dorpie 'n kerk, winkel, spoorwegstasie, poskantoor, en twee skole gehad. Sommige huise word nog bewoon, ander staan leeg en verval. 'n Rif in die Joubertsberge beskerm die dorpie teen die koue suidewind. Die nabygeleë spoorwegtonnel by Middelpoort is 'n besienswaardigheid.