Dyrhólaey
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Dyrhólaey (120 m bo seespieël), voorheen bekend as Cape Portland onder die Engelse seelui, is ’n klein tufsteen-skiereiland of kaap wat naby Vír í Myrdal aan die suidkus van Ysland geleë is. Dit was voorheen ’n eiland wat uit vulkaniese aktiwiteit ontstaan het; so ’n verskynsel staan onder die Yslanders bekend as “eyja”, wat “eiland” beteken.
Tans is dit nie meer ’n eiland nie, maar was wel vroeër tydens die kolonisering van Ysland. Met die laaste Ystydperk was Ysland geheel en al met ys oordek en is deur die geweldige druk letterlik die grond in gedruk. Met die ys wat verdwyn het, het die druk afgeneem en deur isostatiese kragte word Ysland weer al hoe hoër boontoe gedruk. Om hierdie rede was Dyrhólaey met die kolonisering nog ’n eiland, maar is vandag ’n krans.
Die uitsig van daarbo af is baie interessant: na die noordekant kan die gletser Mýrdalsjökul besigtig word. Aan die oostekant verrys swart lawasuile van die Reynisdranger uit die see, terwyl aan die beweste van die uitkykpunt, na Selfloss se kant, as die weer dit toelaat, die hele kuslyn besigtig kan word. Regvoor die skiereiland is ’n reusagtige swart lawaboog wat in die see staan. Vandaar die pleknaam, wat beteken: “heuweleiland met die deurgaatjie”.
In die somer broei die papegaaiduikers op die kranshange van Dyrhólaey. Sedert 1978 is dit as ’n bewarea verklaar. Daar word beweer dat die kunsvlieënier, Tomme Tailer, onderdeur Dyrhólaey se boog gevlieg het.
In 1910 is daar ’n vuurtoring op Dyrhólaey opgerig en is in 1927 vervang.
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Dyrhólaey.