Filomate
Die Filomate of Genootskap van Filomate (Pools: Filomaci of Towarzystwo Filomatów; afgelei van die Griekse philomathes, "liefhebbers van kennis"), was 'n geheime Pools-Litause studentevereniging wat tussen 1817 en 1823 aan die Keiserlike Universiteit van Vilnius bestaan het.
Geskiedenis
wysigDie genootskap is op 1 Oktober 1817 in Vilnius in die Vilna-goewernoraat van die Russiese Ryk gestig (die gebied is as gevolg van die Poolse Delinge in 1794 by die Tsareryk ingelyf). Die genootskap het uit studente en alumni van die Keiserlike Universiteit bestaan.
Bekende lede het Józef Jeżowski (medestigter en voorsitter), Jan Czeczot (medestigter), Józef Kowalewski (medestigter), Onufry Pietraszkiewicz (medestigter), Tomasz Zan (medestigter), Adam Mickiewicz (medestigter), Antoni Edward Odyniec, Ignacy Domejko, Teodor Łoziński, Franciszek Malewski, Jan Sobolewski, Aleksander Chodźko. Die meeste lede van die genootskap was studente, tog het ook sommige personeellede en vroeëre alumni by die Filomate aangesluit.
Volgens sy struktuur was die gemeenskap 'n mengsel van Vrymesselaars-vereniging en wetenskaplike genootskap. Dit was in twee afdelings verdeel - 'n wetenskaplik-wiskundige en 'n literêre. Die laasgenoemde se lede het literêre werke bespreek. Die genootskap se doelwitte was van onderwyskundige en didaktiese aard, alhoewel sy lede omstreeks 1819 en 1820 verdeeld geraak het oor die vraag of die vereniging homself op selfonderwys sou toespits (met Jeżowski as belangrikste voorstander van hierdie idee) of 'n meer aktiewe rol by die herwinning van Pole se onafhanklikheid sou speel (iets waarvoor Mickiewicz gepleit het). Uiteindelik het die laasgenoemde groep die opperhand gekry, en nuwe sosiale en politieke doelwitte is geformuleer.
Die diskussies het toenemend oor Romantiese Poolse literatuur gegaan - 'n genre wat deur die Russiese owerheid vanweë sy nasionalistiese stromings en strewe na onafhanklikheid verban was. Die Filomate het die geskiedenis van die Pools-Litause Gemenebes bestudeer en werke geskryf en versprei waarin hulle onafhanklikheid voorgestaan het. Die genootskap het sodoende die stigting van talle soortgelyke jeugorganisasies dwarsoor die vroeëre Grootvorstedom Litaue aangemoedig en betrekkinge met Pro-Poolse organisasies in Kongres-Pole en die res van die gedeelde land gehandhaaf, soos byvoorbeeld met die Patriotiese Genootskap (Towarzystwo Patriotyczne) van Walerian Łukasiński, en selfs met Russiese organisasies soos die Dekabriste.
Twee geassosieerde groepe is in 1820 gestig:
- die "Stralende Vereniging" (Towarzystwo Promienistych, afgelei van "promieniści," die Stralendes"), 'n wettige organisasie wat deur Tomasz Zan gestig is, maar in Mei 1820 ontbind moes word nadat die universiteitsbestuur dit onder druk geplaas het;
- die Filarete-vereniging (Zgromadzenie Filaretów, Towarzystwo Przyjaciół Pożytecznej Zabawy, filareci, afgelei van die Griekse "philáretos, "Liefhebbers van Deug"), 'n geheime organisasie wat deur Zan ná die ontbinding van die "Stralendes" binne die Filomate in die lewe geroep is. Dit het die Stralendes se tradisies voortgesit, maar homself nog meer ten gunste van onafhanklikheid uitgespreek en hom aan die studie van Poolse patriotiese literatuur toegewy. Dit is ná die Filomate se inhegtenisneming in 1823 ontbind.
In 1822 het die organisasies verskeie kere hul name verander. In 1823 is die organisasie deur Russiese owerhede onder leiding van Nikolai Nikolajewitsj Nowosiltsef ontdek. Ná 'n hofsaak, wat enkele maande geduur het, is 108 aanhangers in 1824 skuldig bevind aan lidmaatskap in hierdie of verwante organisasies. Twintig lede van die Filomate of verwante organisasies is tot tronkstraf of katorga en bannelingskap in Siberië gevonnis. Meer as 'n tientaal fakulteitslede (waaronder die historikus Joachim Lelewel) is vrygespreek.
Adam Mickiewicz, een van die Drie Poolse Barde, wat as lid van die Filomate gevonnis en as banneling Rusland toe gestuur is, het sy ervarings gedurende hierdie periode in die derde deel van sy gedig Dziady ("Aand van die Voorvaders") beskryf.
Verwysings
wysig- Hierdie artikel, of gedeeltes daarvan, is uit die volgende Wikipedia-artikel vertaal: Philomaths
- Jerzy Jan Lerski: Historical Dictionary of Poland, Greenwood Press 1996, ISBN 0313260079, Google Print, bl.141-142
- Zbigniew Wójcik, WKŁAD IGNACEGO DOMEYKI I INNYCH FILARETÓW WILEŃSKICH DO NAUKI Geargiveer 7 Junie 2011 op Wayback Machine, Zwoje 4/2004 (41)
- WIEM Encyklopedia, Filomaci Geargiveer 4 Maart 2009 op Wayback Machine
- Encyklopedia Internautica, FILOMACI
Verdere leesstof
wysig- J F. Gomoszyński: A course of three lectures on the history of Poland, Londen 1843, Google Print, bl.60-65 (public domain)
- Pieśń Filaretów ("Filarete-lied")