Gustaf Dalén
Nils Gustaf Dalén (Stenstorp, 30 November 1869 – Lidingö, 9 Desember 1937) was 'n Sweedse uitvinder en direkteur van Svenska Aktiebolaget Gasaccumulator (AGA). In 1912 het hy die Nobelprys vir Fisika ontvang vir sy werk aan outomatiese gasreguleerders vir die verligting van vuurtorings en ligboeie.
Biografie
wysigGustaf was die seun van boer Anders en Lovisa Dalén en het aanvanklik landbouskool toe gegaan. Hy het egter op advies van Gustaf de Laval besluit om na tegniese opleiding oor te skakel. Vanaf 1892 studeer hy aan die Chalmers Instituut in Göteborg, waar hy in 1896 as ingenieur gegradueer het. Daarna studeer hy nog 'n jaar in Switserland aan die Eidgenössisches Polytechnikum, onder professor Stodola.
Sy Nobelprys is ongewoon en was ook omstrede omdat dit toegeken is vir 'n uitvinding van 'n meer tegniese as wetenskaplike aard. Dit beteken ook dat die toekenning van die prys in hierdie geval meer in ooreenstemming was met die bepalings van Alfred Nobel se testament as wat die geval was met die meeste pryse in fisika. Dalén het die chemie van asetileen bestudeer om die helderste moontlike ligbron te skep en veilige bergingsmetodes ontwikkel. Hy het ook 'n spesiale klep uitgevind wat onder die invloed van die son oop- en toemaak, sodat vuurtorings en boeie wat hiermee toegerus is, net snags sou skyn, wat hul lewe tot ongeveer 'n jaar verleng het. Hierdie massavervaardigde en langwerkende boeie het 'n aansienlike verbetering in veiligheid aan die kus van Skandinawië gebring.
Vroeër in dieselfde jaar wat die Nobelprys aan hom toegeken is, is Dalén ernstig in 'n gasontploffing beseer. Hy het van die meeste van sy beserings herstel, maar het blind gebly. Dit het tot bespiegeling gelei dat die prys moontlik deels uit jammerte toegeken is. Ten spyte van sy blindheid, was Dalén aan die hoof van AGA tot 1937 (die jaar van sy dood). Die maatskappy het in die 1930's groot sukses behaal met onder meer 'n stoof wat Dalén oorspronklik in 1922 vir sy vrou ontwerp het. AGA het ook daarin geslaag om 'n kontrak vir die vuurtoringbeligting van die Panamakanaal te wen.
In 1910 trou hy met Elma Persson, hulle het vier kinders gehad: dogter Maja (1904-1995), seun Gunnar (1905-1970), seun Anders (1907-1994) en dogter Inga-Lisa (1910-2006).
Bronne
wysig- Clark, R. N. (2003). "Nils Gustaf Dalén (1869–1937): Inventor, experimenter, engineer, and nobel laureate". IEEE Control Systems Magazine. 23 (4): 68–70. doi:10.1109/MCS.2003.1213605.