Vir Hartaknoet (omstreeks 890-??), die legendariese koning van Denemarke, sien Hartaknoet van Denemarke.

Hartaknoet of Hardeknoet (Engels: Harthacanute, Deens Hardeknud; 1018 – 8 Junie 1042) was van 1035 tot met sy dood koning van Denemarke as Knoet III en van 1040 af ook koning van Engeland.

Hartaknoet
Koning van Denemarke en Engeland
Koningin Emma van Normandië met haar seuns Hartaknoet en Eduard die Belyer op die agtergrond (Encomium Emmae Reginae, 1041–42).
Koningin Emma van Normandië met haar seuns Hartaknoet en Eduard die Belyer op die agtergrond (Encomium Emmae Reginae, 1041–42).
Huis Jelling
Titel Koning van Denemarke
Regeer 1035–1042
Voorganger Knoet die Grote
Opvolger Magnus I
Titel Koning van Engeland
Regeer 1040–1042
Voorganger Harold Haasvoet
Opvolger Eduard die Belyer
Gebore 1018; Engeland
Oorlede 8 Junie 1042; Engeland
Vader Knoet die Grote
Moeder Emma van Normandië

Opvolgingskrisis

wysig

Hy was die enigste seun van Knoet die Grote en Emma van Normandië. In 1035 het hy sy pa opgevolg as koning van Denemarke. Hy was ook die wettige erfgenaam van die troon van Engeland, maar kon nie na Engeland reis vir sy kroning nie omdat Noorweë en Swede Denemarke wou binneval. Sy halfbroer Harold Haasvoet, Knoet se seun by Elgifa van Northampton, is intussen ondanks teenkanting as regent aangestel.

In 1036 het Harold ’n poging afgeweer om hom te onttroon. Dit is gelei deur Alfred Adeling en Eduard die Belyer – die twee seuns van Hartaknoet se ma by Ethelred II. In die volgende jaar het Emma uit die land gevlug en Harold is "oral as koning gekies".[1]

Koning van Engeland

wysig

Hartaknoet het intussen sy probleme tuis opgelos deur in 1038 of 1039 ’n verdrag te sluit met Magnus I van Noorweë. Daarvolgens het hulle ooreengekom dat indien die een sonder kinders sou sterf, die ander hom sou opvolg. Hartaknoet het toe beplan om Engeland binne te val, maar voor hy tot aksie kon oorgaan, is Harold op 17 Maart 1040 dood. Nadat Hartaknoet koning geword het, is Harold se lyk opgegrawe, onthoof en in ’n moeras gegooi.

Hartaknoet was ’n ongewilde leier. Om vir sy vloot te betaal het hy swaar belasting opgelê. Hy was nie getroud nie en het nie kinders gehad nie. In 1041 het hy sy halfbroer Eduard die Belyer uit bannelingskap genooi en hom waarskynlik as erfgenaam gekies. Hy is in 1042 dood[2] en is in Winchester begrawe.

Herstel van die Huis van Wessex

wysig

Eduard het hom opgevolg en so het die Huis van Wessex vir ’n kort rukkie weer oor Engeland regeer.

Verwysings

wysig
Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Hardeknoet
  1. The Anglo-Saxon Chronicle, 1035–40, M. Swanton-vertaling (1996).
  2. Anglo-Saxon Chronicle