Helena (maan)
Helena of Helene (Grieks: Ἑλένη, Helenē) is 'n natuurlike satelliet van Saturnus. Dit is in 1980 deur Pierre Laques en Jean Lecacheux ontdek op grondgebaseerde waarnemings by die Pic du Midi-sterrewag in die Pireneë,[4] en is S/1980 S 6 genoem.[5] In 1988 is dit amptelik genoem na Helena van Troje, die kleindogter van Kronos (Saturnus) in die Griekse mitologie.[6] Helena word ook Saturnus XII genoem, 'n naam wat dit in 1982 gekry het, en Dione B[7] omdat dit saam met Dione om Saturnus wentel. Dit is geleë by die leidende Lagrange-punt (L4). Dit is een van vier trojaanmane.
'n Hoëresolusiefoto van die leidende halfrond (Cassini, Junie 2011). | |
Wentelbaaneienskappe | |
---|---|
Halwe lengteas | 377 600 km[1] |
Wentelperiode | 2,736916 d[1] |
Baanhelling | 0,199° (tot Saturnus se ewenaar) |
Satelliet van | Saturnus |
Fisiese eienskappe |
|
Volume | 24 840 km3[2] |
Massa | 7,1±0,2×1015 kg[3] |
Gem. digtheid | 0,2926±0,0217 g/cm3[3] |
Ashelling | 0 |
Verkenning
wysigHelena is aanvanklik in 1980 van die Aarde af waargeneem,[5] en later in die vroeë 1980's van naderby deur die Voyager-ruimtetuie. Nog beter uitsigte is verkry met die Cassini-Huygens-sending, wat in 2004 in 'n wentelbaan om Saturnus gegaan het. Beter indiepte-ontledings is gedoen, en beelde van die oppervlak is onder verskillende ligtoestande geneem.
Van die beste foto's van Helena is op 3 Maart 2010 deur Cassini geneem tydens 'n verbyvlug. Nog uitstekende foto's is in Junie 2011 geneem. Daar was ook baie ander verbyvlugte tydens die Cassini-sending.
Geologie
wysigFoto's deur Cassini wys 'n landskap met talle depressies van 2-10 km breed. Dit is waarskynlik oorblyfsels van ou impakkraters.[8]
Dun, lang verhewe groewe kom in baie van Helena se vlaktes voor en verteenwoordig waarskynlik tekens van geologiese bewegings, wat daarop dui dat die maan aktiewe prosesse ondergaan, soos massabewegings en erosie. Digitale hoogtemodelle dui aan die maan het 'n positiewe reliëf van tussen 50 en 100 m.
Simulasiemodelle wys die tydreeks van oppervlakaktiwiteit is chaoties.
Helena se oppervlakmateriaal is baie weerkaatsend en dui op sandkorrels van tussen 1 en 100 mikrometer. Klein kraters lyk of hulle effens toegegrawe is, wat 'n aanduiding van onlangse soorte akkresieprosesse kan wees.
Geselekteerde foto's
wysigDie meeste foto's is swartwit, met naby-infrarooi of ultraviolet kanale.
-
"Vloeiende" eienskappe op die oppervlak (Cassini, Januarie 2011).
-
Helena teen Saturnus se wolke op die agtergrond (Cassini, 3 Maart 2010).
-
Helena, verlig deur lig van Saturnus af (Cassini, Maart 2010).
-
Nabyskoot van Helena, met Saturnus op die agtergrond (Cassini, Maart 2010).
-
'n Dowwe foto wat deur Voyager 2 geneem is (Augustus 1981).
Sien ook
wysigVerwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 "Planetary Satellite Mean Orbital Parameters". Jet Propulsion Laboratory. Besoek op 5 Junie 2023.
- ↑ Thomas & Helfenstein 2020, p. 2.
- ↑ 3,0 3,1 Jacobson 2022, p. 6.
- ↑ Lecacheux1980.
- ↑ 5,0 5,1 IAUC 3496.
- ↑ IAUC 4609.
- ↑ Transactions of the International Astronomical Union, Vol. XVIIIA, 1982 (mentioned in IAUC 3872: Satellites of Jupiter and Saturn, September 30, 1983
- ↑ Umurhan et al. 2015.
Skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Helena (maan).
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.