Huis (astrologie)
Die huise in astrologie is die twaalfvoudige verdeling van die horoskoop wat betrekking het op die verskillende lewensterreine. Die stand van ’n planeet weerspieël hiervolgens op watter gebied die planeet werksaam is. Daar is verskeie huisstelsels in gebruik, waarvan dié van Placidus die gewildste is.
Ooreenstemming met die sterretekens
wysigDie indeling van die horoskoop in huise het op dieselfde wyse ontstaan as die indeling van die 12 tekens van die diereriem:
- Sterretekens: Binne ’n jaar volg die son ’n skynbare baan al met die 12 tekens van die diereriem langs. Hieruit het die vierdelige verdeling ontstaan op die basis van die volgende kardinale punte: die twee nagewenings en die twee sonkeerpunte wat die begin van die 4 seisoene aandui: Ram op 0 grade vir die lente (in die Noordelike Halfrond), die lentepunt genoem, Kreef op 90 grade vanaf die lentepunt vir die somer, Weegskaal op 180 grade vir die herfs en Steenbok op 270 grade vir die winter. Elke kwadrant dek 3 maande.
- Huise: Binne ’n dag (24 uur) kom die son op, is hy op sy hoogste punt, gaan hy onder en is hy op sy laagste punt. Hierdie 4 punte dui die 4 belangrikste punte van die 12 huise aan: die assendent (ASC, sonsopkoms), die midhemele (MC, hoogste punt in die middag), die desendent (DESC, die sonsondergang) en die laer midhemele (IC, laagste punt).
- Huis 1 = ASC = assendent
- Huis 4 = IC = laer midhemele
- Huis 7 = DESC = desendent
- Huis 10 = MC = midhemele
So het dus ook 4 kwadrante ontstaan wat eweneens opgedeel word in 3 huise elk, en so het die 12 huise ontstaan.
Die 12 huise
wysigDie Latynse name van die huise met hul vertaling, verwante sterretekens, asook die betekenisse en tradisionele assosiasies.
Huis | Teken | Latyn | Vertaling | Moderne naam | Interpretasie |
---|---|---|---|---|---|
1ste | Aries | Vita | Lewe | Huis van die Self | Fisieke verskyning, karaktertrekke, eerste indrukke, algemene ingesteldheid teenoor die wêreld, ego. ’n Begin, initiatief. |
2de | Taurus | Lucrum | Weelde | Huis van Waarde | Materiële en niemateriële dinge van waarde, geld, besittings, eiendom, oes, selfwaardering. |
3de | Gemini | Fratres | Broers | Huis van Kommunikasie | Laer opleiding en vroegste omgewing, geestelike vermoëns, broers en susters, die buurt, kort reise en verplasings. |
4de | Cancer | Genitor | Ouer(s) | Huis van Gesin en Familie | Voorouers, erfenis, wortels, die moeder of moederfigure, sorg vir die huishouding, die uiteindelike afloop van sake. |
5de | Leo | Nati | Kinders | Huis van Plesier | Ontspanning, plesierige dinge, spel en dobbel, kinders, liefdesverhoudings, seks, kreatiewe selfuitdrukking. |
6de | Virgo | Valetudo | Gesondheid | Huis van Gesondheid | Roetine, pligte, vaardighede of opleiding, werk, gesondheid en gevoel van welsyn, diensbaarheid aan ander, sorgsaamheid, huisdiere en ander klein diere. |
7de | Libra | Uxor | Eggenote | Huis van Lewensmaats | Hegte, vertroulike verhoudings van alle soorte, huweliks- en sakevennote, ooreenkomste en kontrakte, diplomatieke sake, openlike vyande, die karaktertrekke wat ons soek in lewensmaats. |
8ste | Scorpio | Mors | Dood | Huis van Reïnkarnasie | Siklusse van die dood en wedergeboorte, seksuele verhoudings, diepgevoelde verhoudings van alle soorte, gesamentlike beleggings en finansiering, die okkulte, die psigiese, taboes, selftransformasie. |
9de | Sagittarius | Iter | Reise | Huis van Filosofie | Lang reise na die buiteland, kultuur, godsdiens, wette en etiek, hoër opleiding, kennis, ervaring deur ontwikkeling. |
10de | Capricornus | Regnum | Koninkryk | Huis van Sosiale Status | Ambisies, motiverings, loopbaan, status in die maatskappy, regering, outoriteit, die vader of vaderfiguur, die broodwinner, iemand se openbare verskyning of die indruk wat hy wek. |
11de | Aquarius | Benefacta | Vriendskap | Huis van Vriendskappe | Vriende en kennisse, geesgenote, groepe, klubs en verenigings, voordele en rykdom uit ’n loopbaan, iemand se hope en wense. |
12de | Pisces | Carcer | Gevangenis | Huis van Verlies van die Self | Mistisisme, afgesonderde plekke soos hospitale en gevangenisse, vir jouself verborge dinge wat vir ander wel duidelik is, ontwyking, geheimhouding, terugtrekking, oordenking en selfopoffering, die onbewuste, onbekende vyande. |
Verwysings
wysig- Hierdie artikel is merendeels vertaal vanaf die Nederlandse Wikipedia-artikel nl:Huizen in de astrologie