La Gratitude
La Gratitude (Die Dankbaarheid) is weens die “Alsiende Oog” in die gewel die mees bekende huis in die Kaaps-Hollandse styl in Stellenbosch.[1]
Ligging
wysigDie huis is by Dorpstraat 95, aan die suidekant van die straat, by 33° 56′ 21″ suid en 18° 51′ 29″ oos.
Geskiedenis
wysigDs. Meent Borcherds koop in 1795 ±3 ha van Jan Baptiste de Vos. Dit was oorspronklik deel van die onderverdeelde plaas van die oud-brandweerhoof Lambert Fick. Die huis is in 1798 voltooi en Borcherds woon daar vir meer as 30 jaar. Van 1857 tot 1890 is sy dogter die eienaar. Hierdie huis was nooit kerkeiendom, dus nooit ‘n pastorie nie. Borcherds het ‘n groot gesin gehad en om sy salaris aan te vul het hy geboer op die groot erf wat tot teen die Eersterivier geloop het. Vroeg in die 20ste eeu was W.C. (Bill) Winshaw die eienaar. Hy was die stigter van die Stellenbosch-Boere-wynmakery, ‘n firma wat o.a. bekend was vir sy droë wit wyn La Gratitude.
Huis
wysigDie huis was oorspronklik U-vormig met een van die vroegste neo-klassieke pilastergewels. Die pilaster word tussen die vensters herhaal en gee aan die fasade ‘n besondere waardigheid. Gewoonlik het hierdie soort gewel vier vase. Dit ontbreek by dié huis. Latere veranderinge en aanbouings aan die stoep, vensters en sygewels word deur kenners as nadelig vir die argitektoniese geheel beskou. Na die brand van 1925 was daar ‘n ingrypende restourasie. Borcherds noem die huis La Gratitude ter erkenning aan sy voorspoed wat hy toeskryf aan die goedheid van God.
Alsiende Oog
wysigOp die voorgewel wat dateer uit ±1825, staan die naam van die huis, ‘n driehoek sowel as die “Alsiende Oog” in vlakreliëf omring deur ‘n stralekrans. Hierdie “oog van God” is die oog wat waghou oor die mensdom. Dit is dikwels gebruik in die kerkargitektuur en in die religieuse kuns as ‘n simbool van God se alomteenwoordigheid.
Monument
wysigDie huis is in 1948 tot gedenkwaardigheid verklaar.
Verwysings
wysig- ↑ "La Gratitude". sahris.sahra.org.za.
Bronnelys
wysig- Fransen, Hans: Dicover Historical Stellenbosch. Kaapstad: HAUM,1979. ISBN 0-7986-0366-6
- Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0
- Johnson Barker, Brian: Stellenbosch – place of gables, oaks & wine. Kaapstad: Struik, 1992. ISBN 1-86825-149-7
- Oberholster, J.J.: Die Historiese Monumente van Suid-Afrika. Kaapstad: Kultuurstigting Rembrandt van Rijn vir die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede, 1972. ISBN 0-620-00191-7
Eksterne skakels
wysig- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie La Gratitude.