Newlands House

was die ampswoning van verskeie goewerneurs tydens die bewind van die VOC en in die tydperk van die Kaapkolonie

Newlands House, voorheen een van die mooiste herehuise aan die Kaap, was die ampswoning van verskeie goewerneurs tydens die bewind van die VOC en in die tydperk van die Kaapkolonie.[1][2]

Hierdie huis is in De la Caille-laan in Nuweland in Kaapstad.

Ryk Tulbagh was in 1751 die eerste bewoner. Na die vertrek van goewerneur Cornelis Jacob van de Graaff is die huis met sy terrein van 60 ha aan Hendrik Vos verkoop. Met die eerste Britse besetting van die Kaap onderverdeel Vos die terrein en verkoop die huis in 1798 aan John Barrow en twee ander Engelse staatsamptenare. Volgens ‘n skildery deur Barrow het die huis toe ‘n baie besondere Kaapse-Hollandse gewel gehad. In 1805 was William Duckitt die eienaar. Sir David Baird haal Duckitt oor om die huis weer aan die staat te verkoop. Baird koop in 1806 selfs die onderverdeelde erwe terug. Lord Charles Somerset het ingrypende verbouings laat aanbring. Tydens die winterstorms van 1819 het ‘n groot deel van die gebou ineengestort weens die swak mure van roustene. In 1830 het die owerheid die huis weer verkoop. In 1859 was dit die eiendom van dr. Jonas Hiddingh. Hy restoureer die huis met sy terrein ingrypend en versier die kamers met puik meubels, skilderye en beelde. Sy nageslag was die eienaars tot 1939 . Die testament het bepaal die die eiendom onvervreembaar moet bly. Die eerste erfgenaam het egter weinig belangstelling daarin getoon en dit aan die koloniale owerheid verhuur. ‘n Hele aantal goewerneurs het die huis gebruik, naamlikHenry Loch, Hercules Robinson, Alfred Milner enWalter Hely-Hutchinson. Na die stigting van die Unie van Suid-Afrika het die huis lank leeg gestaan, totdat die skilder Gwelo Goodman dit in 1939 koop. Die verkoopverbod vervat in die testament is later opgehef. Regter Newton Thompson en sy vrou Joyce koop daarna die huis met 3 ha grond. Sy doen navorsing oor die landgoed en skryf die geskiedenis. Al die ander grond is as erwe onderverdeel en vorm deel van die huidige buurt Nuweland. In 1981 was Newlands House ‘n restaurant. Deur ‘n kortsluiting het die huis afgebrand. Daarna word dit weer staatseiendom om benut te word as ‘n ministerswoning. Na die herbouing is die huis bloot ‘n goeie nabootsing van ‘n ou huis van kulturele en historiese belang.

Persone

wysig
  • Nicolas-Louis de Lacaille
  • William Duckitt (*Esher, Surrey, Engeland, gedoop 20 Oktober 1768 - †Klavervlei, Groenekloof (Darling), 13 April 1825), landboupionier wat deur sir George Yonge van Norfolk na die Kaapkolonie gebring is om die landbou hier te verbeter
  • Jonas Michiel Hiddingh (*Kaapstad, 21 Augustus 1813 - †Kaapstad, 26 Desember 1888), geneesheer en politikus in die Kaapkolonie
  • Cyril Newton Thompson (*Kaapstad, 1891 - †Nuweland, 1958), regter
  • Joyce Newton Thompson (*Londen, 9 Maart 1893 - †Pinelands, 22 Oktober 1978), in 1959 word sy eerste vrou wat burgemeester is van Kaapstad

Bronnelys

wysig
  • Fransen, Hans: A guide to the old buildings of the Cape. A survey of extant architecture from before c1910 in the area of Cape Town, Calvinia, Colesberg, Uitenhage. Kaapstad: Jonathan Ball, 2004. ISBN 1-86842-191-0

Verwysings

wysig
  1. "Newlands House". www.artefacts.co.za.
  2. "Governors Lane". newlandsresidents.org.za.