Roman Joerijewitsj Zacharin

Hierdie naam is volgens die Oos-Slawiese gebruik; die patroniem is Joerijewitsj en die van is Zacharin.

Roman Joerijewitsj Zacharin
Gebore as Роман Юрьевич Захарьин
Amp Woiwode
Gebore c. 1500
Oorlede 16 Februarie 1543
Vader Joeri Zacharijewitsj Kosjkin
Moeder Irina Iwanowna Toetsjkowa-Morozowa
Gade Oeljana Fjodorowna Karpowa
Godsdiens Ortodoksie
Kinders Vyf, onder andere die bojaar Nikita Romanowitsj en tsarina Anastasia Romanowna

Roman Joerijewitsj Zacharin (Russies: Роман Юрьевич Захарьин; ook bekend as Zacharin-Joerijef en Zacharin-Kosjkin; c. 1500 - 16 Februarie 1543) was 'n Russiese hofamptenaar en krygsheer wat die bekendste daarvoor is dat hy 'n voorsaat van die Romanof-dinastie was.[1] Die dinastie is na hom genoem.

Biografie

wysig
 
Roman Joerijewitsj se grafsteen in die Nowospasski-klooster in Moskou.

Hy was die pa van die bojaar Nikita Romanowitsj en tsarina Anastasia Romanowna,[2] die eerste vrou van tsaar Iwan die Verskriklike, en die oupa van patriarg Filaret en Fjodor I van Rusland. Sy pa was Joeri Zacharijewitsj Kosjkin, 'n afstammeling van Andrei Kobila.

Baie min inligting is oor hom beskikbaar.[3] Dit is bekend dat hy in die 1530's 'n woiwode was, sy vrou se naam Oeljana Fjodorowna Karpowa was[2] en hy op 16 Februarie 1543 oorlede is.[4]

Later is ontdek hy was tussen 178 en 183 cm (omtrent 'n outydse ses voet) lank en het Paget se beensiekte gehad. Volgens die historikus Aleksander Sjirokorad kon dit die rede gewees het hoekom hy die diens as woiwode in 1535 verlaat het.[3]

Roman Joerijewitsj was getroud (volgens sommige bronne twee keer). Die naam van sy eerste vrou is onbekend, of sy het nie bestaan nie. Die ma van Anastasia, die toekomstige tsarina, was Oeljana Fjodorowna Karpowa. Of sy die ma van al vyf sy kinders was, is onduidelik. Volgens sommige bronne was sy net die ma van Anastasia, die jongste.[5]

Verwysings

wysig
  1. Романовы, Энциклопедический словарь Брокгауза и Ефрона: 1890-1907.
  2. 2,0 2,1 ThePeerage.com: Roman Yurievich Zahar'in
  3. 3,0 3,1 Широкорад А. Б. (Aleksander Sjirokorad): Путь к трону, Poet k tronoe, "Pad na die troon" (AST, 2004). ISBN 5170243405, ISBN 5271092763.
  4. Веселовский С. Б., Исследования по истории класса служилых землевладельцев. p. 153.
  5. Petrof P.N. Geskiedenis van die geslagte van die Russiese adel, p. 24.

Skakels

wysig