Sibayameer
meer in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika
Sibayameer is ongeveer 35 km suid van Kosibaai in KwaZulu-Natal, Suid-Afrika. Die meer is langs die Indiese Oseaan maar mond glad nie uit in die oseaan nie. Daar loop strome van die weste en noorde die meer in maar dit het geen sigbare uitgang nie. Die oostelike oewer is op een plek 'n sandduin wat net 800 m breed is. Die Zoeloenaam Tsibayi beskryf die meer perfek: 'n ingeslote plek met geen sigbare uitgang nie.
Die totale oppervlak van die meer is 45 km² en die omtrek is 35 km. Die meer is op plekke 25 m diep. Behalwe vis is hier ook seekoeie en krokodille. Die Sibayi-dikkop is endemies aan die meer wat deel uitmaak van die kuswoud van Maputaland-ekostreek. Dit is in 1991 tot Ramsar-vleiland verklaar.