Taung-kind
'n Beeld van die fossiel.

Algemene naam Taung-kind
Katalogusnommer Taung 1
Spesie Australopithecus africanus
Ouderdom Sowat 2,8 miljoen jaar; dood op 3,3 jaar
Plek ontdek Taung, Suid-Afrika
Datum ontdek 1924

Die Taung-kind is ’n skedel van die Australopithecus africanus wat in 1924 in ’n kalkgroef in Taung, Suid-Afrika, gevind is deur werkers van die Northern Lime Company. Die skedel het in die besit gekom van Raymond Dart, ’n anatoom van die Universiteit van die Witwatersrand, en hy het die belangrikheid daarvan besef. Hy het die ontdekking in 1925 in die tydskrif Nature gepubliseer en gesê die skedel is van ’n tussenspesie tussen die aap en die mens. Dit is destyds deur die wetenskaplike gemeenskap verwerp weens die geloof dat ’n groter kopbeenkapasiteit nodig was vir loop op twee bene.[1] Sir Arthur Keith het gemeen die kopbeen is dié van ’n jong aap, waarskynlik ’n klein gorilla. Die publiek het die nuwe genus eers 20 jaar later aanvaar en dit het toe ’n ware lid van die Homininae geword.

’n Rekonstruksie van die Taung-kind se gesig.

Die Taung-kind is sowat 2,5 miljoen jaar oud. Daar is eers gereken hy was tussen ses en agt jaar oud toe hy dood is, maar nuwe studies van sy tande het gewys hy was moontlik tussen drie en vier jaar oud.

Die kind het regop geloop, was sowat 125 cm lank en het 30 tot 34 kg geweeg. Sy breinkapasiteit was 405 cm3 en hy het hoofsaaklik in ’n savanne gewoon. Vergelykings met ’n kind van nege dui daarop dat die groeisnelheid tot puberteit van die A. africanus dieselfde was as dié van ’n sjimpansee.

Jongste navorsing

wysig

’n Onlangse mikro-CT-skandering wat deur dr. Kristian Carlson van die Instituut vir Menslike Evolusie aan die Universiteit van die Witwatersrand gedoen is, het gewys die Taung-kind het nie die skedelaanpassings van moderne babas gehad nie. Die sagte plekke op die kop en die naat wat oor die kop loop, ontbreek. Sy bevindings is op 25 Augustus 2014 in die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer. [2]

Die metopiese naat maak die geboorteproses makliker en stel die brein in staat om te vergroot. Dit lyk dus nie of die Australopithecus africanus se brein baie groot geword het nie, al het hy reeds op twee bene geloop. Dit bewys ook teorieë verkeerd dat die Taung-kind se brein, veral die prefrontale deel, dieselfde as moderne babas s’n ontwikkel het. [3]

Carlson glo die kopbeenontwikkeling van moderne babas het miljoene jare ná die Taung-kind eers ontstaan, in die eerste Homo-spesies toe hulle groter breine begin ontwikkel het. [4]

Verwysings

wysig
  1. "archaeologyinfo.com: Australopithecus africanus". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Junie 2006. Besoek op 26 Februarie 2014.
  2. Taung-kind: Sy brein nie soos vandag se babas s’n, Die Burger 26 Augustus 2014. URL besoek op 26 Augustus 2014
  3. Taung Child: No ordinary toddler, Shaun Smillie, Times Live, 26 Augustus 2014. URL besoek op 26 Augustus 2014
  4. Taung Child's skull not human-like Geargiveer 11 Oktober 2014 op Wayback Machine, Newsroom, Universiteit van die Witwatersrand, 26 Augustus 2014. URL besoek op 26 Augustus 2014