The End of the F***ing World
The End of the F***ing World is 'n Britse swartkomedie-dramareeks vir televisie. Die eerste seisoen van agt episodes het op 24 Oktober 2017 die eerste keer op Channel 4 in Brittanje verskyn. Netflix het die internasionale verspreiding hanteer en dit op 5 Januarie 2018 internasionaal uitgereik.
The End of the F***ing World | |
Genre | |
---|---|
Geskep deur | Jonathan Entwistle |
Geskryf deur | Charlie Covell |
Geregisseer deur |
|
Met |
|
Produksie | |
Uitvoerende vervaardiger(s) |
|
Vervaardiger(s) | Kate Ogborn |
Uitsending | |
Oorspronklike kanaal | Netflix |
Oorspronklike lopie | 24 Oktober 2017 | – 4 November 2019
Die reeks gaan oor James (Alex Lawther), 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat, en Alyssa Foley (Jessica Barden), 'n klasmaat wat altyd kwaad is en in James die kans sien om van haar onstuimige huislewe te ontsnap. Gemma Whelan, Wunmi Mosaku, Steve Oram, Christine Bottomley, Navin Chowdhry, Barry Ward en Naomi Ackie verskyn in byrolle.
Die reeks is gebaseer op Charles Forsman se ministrokiesboek The End of the Fucking World, wat in 2013 in 'n boek saamgevat is. 'n Kortfilm is in 2014 gemaak, maar dit word nou as verlore beskou. 'n Reeks met agt dele is in April 2017 begin skiet. Dit is geskryf deur Charlie Covell, en die episodes is geregisseer deur Entwistle en Lucy Tcherniak. In Augustus 2018 is die reeks vir 'n tweede seisoen hernu. Al agt episodes is op 5 November 2019 internasionaal op Netflix uitgereik nadat die première die vorige dag plaasgevind het.
Die reeks is geprys vir die uitvoering daarvan, die skryfwerk en die onderwerp, sowel as vir Lawther en Barden se toneelspel. Albei seisoene is benoem vir 'n Bafta vir beste dramareeks; die tweede seisoen het dit in 2020 gewen.[1]
Storielyn
wysigJames is 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat. Hy maak diere dood as 'n stokperdjie, maar raak verveeld daarmee en besluit hy wil 'n mens probeer vermoor. Hy besluit dit sal Alyssa wees; sy is 'n bekkige, rebelse 17-jarige klasmaat met haar eie probleme. Sy stel voor hulle loop saam weg, want sy wil 'n avontuur buite haar onstuimige huislewe ervaar. James stem in en dink hy sal op die regte geleentheid wag om haar te vermoor. Hulle vat die pad deur Engeland en begin 'n verhouding ontwikkel ná 'n paar ongelukkige voorvalle.
Rolverdeling
wysigHoofkarakters
wysig- Alex Lawther is James, 'n onstabiele 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat; die liefdesbelangstelling van Alyssa.[2]
- Jack Veal speel 'n jong James.[3]
- Jessica Barden is Alyssa, 'n rebelse tienermeisie; James se voorgenome slagoffer.[2]
- Holly Beechey is 'n jong Alyssa.
- Naomi Ackie is Bonnie, 'n jong vrou wat op 'n reis gaan om haar minnaar se dood te wreek (seisoen 2).
Byrolle
wysig- Jonathan Aris is Clive Koch, 'n skrywer, professor, reeksmoordenaar en verkragter.
- Gemma Whelan en Wunmi Mosaku is twee polisievroue wat Koch se dood ondersoek.
- Steve Oram is Phil, James se pa.
- Christine Bottomley is Gwen, Alyssa se ma.
- Barry Ward is Leslie Foley, Alyssa se vervreemde pa, 'n dwelmhandelaar (seisoen 1).
Seisoene
wysigSeisoen | Episodes | Uitgereik | |
---|---|---|---|
1 | 8 | 24 Oktober 2017 | |
2 | 8 | 4 November 2019 |
Episodes
wysigSeisoen 1
wysigEpisode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
1 | Episode 1 | Jonathan Entwistle | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
James is 'n 17-jarige wat glo hy is 'n psigopaat. Hy het eenkeer sy hand in olie gebrand net om iets te kan voel en maak diere dood sedert hy 15 is. Op skool ontmoet hy Alyssa, 'n rebelse nuwe skoolmaat, en hy besluit om haar volgende dood te maak. Toe sy belangstelling in hom toon, feins hy 'n romantiese belangstelling en die twee begin uitgaan. Toe Alyssa James vra om die volgende dag seks te hê, begin hy sy mes voorberei en uitwerk hoe hy haar gaan vermoor. Sy is laat omdat sy gedwing is om 'n tuinparty by haar huis by te woon, waar haar stiefpa vir haar sê dit sal beter wees as sy weggaan. Daarna besoek sy James en sê sy wil die dorp verlaat, saam met of sonder hom. Sy vra of hy wil saamgaan. Hy aanvaar haar aanbod en besluit om haar later te vermoor. Hy slaan sy pa, Phil, in die gesig en steel sy Mercedes-Benz, iets wat hy nog altyd wou doen.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
2 | Episode 2 | Jonathan Entwistle | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
Met hulle nuutgevonde vryheid gaan speel hulle 'n laserspeletjie, maar gee al hulle geld uit. Hy gaan eet in 'n restaurant en hardloop weg. Alyssa stel voor hulle probeer seks hê terwyl hulle ry, maar terwyl hulle uittrek, ry hulle van die pad af en in 'n boom vas. Hulle ryloop en word deur 'n middeljarige man, Martin, opgelaai van wie Alyssa dadelik niks hou nie. By 'n restaurant waar hulle stilhou vir kos, volg Martin vir James in die toilet in en vra hom uit oor sy verbrande hand. Hy ruik daaraan en sit dit op sy penis. James laat dit toe, al walg dit hom. Alyssa sien dit en pers Martin af om sy beursie vir haar te gee. Nadat hulle in 'n hotel ingeboek het, gaan Alyssa na die badkamer en huil, terwyl James huiwerig met sy mes by die deur wag. Sy hart word sag toe hy hoor sy huil en hy sit die mes weg. Alyssa bel huis toe en haar stiefpa, Tony, antwoord. Hy sê sy kan nie met haar ma, Gwen, praat nie en wys hoe hy haar ma oorheers. Alyssa vra James of hy haar wil hê en of hy net met haar saamgaan, en hy antwoord hy wil haar hê. Sy besluit om haar biologiese pa, Leslie, te besoek wat sy laas gesien het toe sy agt jaar oud was. James stem in om saam met haar te gaan.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
3 | Episode 3 | Jonathan Entwistle | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
Alyssa is bang haar pa wil haar nie sien nie en die twee breek by die ruim, leë huis in van die skrywer Clive Koch. Later dié dag misluk 'n seksdaad toe 'n foto van Koch James afsit. Alyssa gaan stap en ontmoet Topher. Sy bring hom huis toe en sê leedvermakerig vir James sy gaan met hom seks hê. Hy is ontsteld en kyk in die huis rond. Hy kom af op Polaroids en 'n videokamera met tonele van slagoffers. Dit toon Kock is 'n reeksverkragter. Alyssa verloor belangstelling in Topher en het nie met hom seks nie; Topher word kwaad en gaan weg. Terwyl Alyssa slaap, probeer James haar vermoor, maar hy kan nie, want hy besef hy is besig om op haar verlief te raak. Koch keer terug huis toe. James kruip onder die bed weg. Toe Koch vir Alyssa in sy bed kry, vra hy haar uit. Sy is doodbang en sê sy is alleen. Koch probeer haar verkrag. James steek hom met sy mes in die nek. Hy maak Koch dood en red Alyssa. James en Alyssa vertel vir mekaar hulle is maagde.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
4 | Episode 4 | Jonathan Entwistle | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
Toe hulle nie Koch se liggaam kan verwyder nie, maak James en Alyssa die huis skoon en verwyder bewyse dat hulle daar was. James wys vir Alyssa die Polaroids en videomateriaal wat bewys Koch sou haar seergemaak het, en hulle besluit om bewyse van sy dade om sy liggaam te los. James steek die mes in die swembad se drein weg. Toe Alyssa vra hoekom hy 'n mes het, antwoord hy haar nie. Koch se ma, Flora, kom by die huis aan en ontdek die lyk. Sy vernietig die Polaroids, maar nie die videomateriaal nie. Die polisie, onder leiding van konstabels Eunice Noon en Teri Darego, ondersoek die moord en ontdek Topher se beursie in die slaapkamer. Toe hulle hom ondervra, onthul hy Alyssa en James se identiteit en dat hulle in die huis was. Alyssa en James word op die lys van vermiste persone geplaas en 'n versoek word uitgestuur in verband met misdade waarby twee tieners bestrokke was. Alyssa begin James wantrou en los hom agter terwyl hy in 'n kafee wag. Hy begin besef hy het emosies en vra drie tieners om hom te slaan sodat hy iets kan voel. Hy besef ook hy voel iets vir Alyssa en hou op om haar dood te beplan. Hy besluit om 'n moord aan die polisie te rapporteer en besef hy is nie 'n psigopaat nie.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
5 | Episode 5 | Jonathan Entwistle, Lucy Tcherniak | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
By die polisiekantoor besluit James om nie meer Koch se moord te rapporteer nie. Hy beskryf sy ma se selfmoord en sê dit is die "moord" waarvan hy gepraat het. In 'n terugflits word gewys hoe sy ma, Vanessa, 11 jaar tevore voor hom selfmoord gepleeg het deur met haar motor in 'n dam in te ry. James vlug uit die polisiekantoor en keer terug na die kafee. Phil word deur Noon en Darego oor James ondervra. Hulle vertel hom dat sy motor gevind is. Hy bevestig dat Alyssa by James is. Hulle ondervra Tony – wat nie vir Alyssa omgee nie – voordat hulle Gwen oor Alyssa uitvra. Hulle vertel vir haar hulle ondersoek 'n moord. Alyssa word deur Emil, 'n sekuriteitswag, betrap terwyl sy skoon onderklere steel, maar hy laat haar 'n paar minute later vry. Sy keer terug na die kafee en kry James daar. Hoewel hulle geen geld het nie, raak hulle versoen en besluit hulle om na Leslie te gaan. Die polisie ontdek James se mes by Koch se huis.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
6 | Episode 6 | Lucy Tcherniak | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
James steel 'n motor en die twee begin na die huis van Alyssa se pa ry. Hulle stop by 'n vulstatsie toe hulle petrol min raak. Toe Jocelyn, die bestuurder van die vulstasie, begin vermoed hulle het die motor gesteel en het nie geld nie, sluit James haar in die toilet toe deur voor te gee hy het 'n wapen. Haar medewerker, Frodo, help hom. Noon en Donaghue ondervra Flora weer oor Koch, dié keer weens jare lange beskuldigings van seksuele aanranding teen hom. Sy verwerp die bewerings as leuens en dring daarop aan dat hulle haar huis verlaat. Op pad na Leslie bel Alyssa vir Gwen en sê vir haar sy gaan nooit weer terugkom huis toe nie. By die polisiekantoor gee Flora vir Noon die videokamera nadat sy van plan verander het. Toe Noon die moontlikheid noem dat Koch uit selfverdediging vermoor is, sê Darego dan sal die twee skuldig wees aan manslag. Toe hulle by Leslie se huis aankom, sê sy eksmeisie, Debbie, hy het na 'n mobiele huis aan die kus getrek, en James en Alyssa gaan hom daar soek.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
7 | Episode 7 | Lucy Tcherniak | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
James en Alyssa kom goed met Leslie oor die weg. Dit word egter duidelik Leslie is 'n dwelmhandelaar, en James stem nie met Alyssa saam dat hulle daar moet bly nie. Tony, Gwen en Phil is geskok toe die polisie aan hulle materiaal van 'n geslotekringtelevisie wys van die diefstal by die vulstasie. Darego en Noon weet nie die twee het al by Leslie se voormalige huis aangekom nie en besluit om daar vir hulle te gaan wag. Op die reis daarheen word dit duidelik Darego se wetsgehoorsaamheid en hardkoppigheid bots met Noon se simpatieke ingesteldheid. By 'n nabygeleë kroeg leer Alyssa en Leslie mekaar weer ken en James begin afgetrokke teenoor Alyssa voel. By Lesie se vorige huis ontken Debbie teenoor Noon en Darego dat sy die twee gesien het of weet waar Leslie is. Sy gaan kroeg toe om onderhoud vir Milton, haar seun by Leslie, te eis. Toe Alyssa hom vra hoekom hy nie vir haar vertel het hy het 'n seun nie, jaag Leslie in sy trok weg, ry oor 'n hond en beseer hom. Hoewel James al baie diere doodgemaak het, kan hy nie die beseerde hond doodmaak nie en Alyssa doen dit met 'n klip. 'n Bitter Debbie laat weet vir Noon waar Leslie nou woon en sy ry sonder Darego daarheen.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
8 | Episode 8 | Lucy Tcherniak | Charlie Covell | 24 Oktober 2017 |
James en Alyssa begrawe die hond op die strand en maak dan passievol uit. Teen dagbreek besluit hulle om Leslie se boot te vat en die land te verlaat. Toe hulle vir Leslie die boot se sleutel vra, sê hy hy het op TV gesien hulle word gesoek. Hy bel in die geheim die noodnommer 999 en wil hê hulle moet hulle misdaad beken. James neem self die blaam. Noon, wat afluister, probeer hulle oortuig om vir manslag in hegtenis geneem te word, terwyl Leslie Alyssa probeer oortuig dat James alleen die blaam moet dra. Alyssa slaan Noon egter katswink met Leslie se geweer, neem die bootsleutel en hardloop saam met James na die boot. Dit is egter laagwater en hulle kan nie wegkom nie. Toe die gewapende polisie daar aankom, slaan James Alyssa katswink met die geweer sodat hy alleen die blaam kan kry en hardloop weg. 'n Geweerskoot word gehoor terwyl die toneel uitdoof.
Seisoen 2
wysigEpisode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
1 | Episode 1 | Lucy Forbes | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Bonnie word in die verhaal bekend gestel. Haar wrede en veeleisende ma dra by tot haar antisosiale gedrag. Nadat Bonnie haar eksamen gedruip het, kry sy werk as 'n bibliotekaresse by 'n universiteit en gee voor sy is 'n student. Sy raak obsessief oor die filosofieprofessor, dr. Clive Koch, wat uitvind sy is nie werklik 'n student nie en haar sy klas verbied. Sy besmeer daarna 'n boek wat hy geskryf het en 'n plakkaat van hom met ontlasting. Hy reageer hierop deur haar weer in sy klas toe te laat. Die twee begin gou 'n seksuele verhouding, maar sy is teleurgesteld omdat hy nie haar liefde beantwoord nie. Nadat sy onverwags by sy huis opgedaag en hom saam met 'n ander vrouestudent betrap het, beweer hy valslik die student probeer sy lewe ruïneer. Uit weerwraak vermoor Bonnie haar deur haar raak te ry. In die tronk ontvang sy 'n boodskap in 'n boek van Koch in reaksie op die moord waarin hy sê hy het haar nou lief. Nadat sy vir hom 'n brief gestuur het, vind sy uit hy is dood. Twee jaar later, nadat sy vrygelaat is, vertrek Bonnie op 'n reis om wraak op Alyssa en James te neem.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
2 | Episode 2 | Lucy Forbes | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Alyssa is nou 19. Ná die gebeure van die vorige seisoen het sy gemeenskapsdiens gekry vir haar misdade. Tony verlaat Gwen. In reaksie verkoop Gwen hulle huis en trek by haar halfsuster, Leigh, op die platteland in. Leigh neem Alyssa in haar kafee in diens as 'n kelnerin. Alyssa ontmoet Todd, en sy vra hom gou om te trou. Sy ontvang 'n patroon met haar naam daarop uitgekrap oor die pos, maar neem dit nie ernstig op nie. Mettertyd kom sy agter 'n rooi motor agtervolg haar en sy sien dit is James. Terugflitse onthul James het die geweerskoot aan die einde van die vorige seisoen oorleef, het lank geneem om te herstel en is onskuldig bevind aan moord. Hy het 'n opgeskorte vonnis vir sy ander misdade gekry. Gwen het hom verbied om Alyssa te sien en het druk op hom uitgeoefen om 'n afsêbrief aan haar te skryf. Toe sy pa skielik sterf, begin James in sy pa se motor woon terwyl hy sy pa se as by hom hou. Hy kry ook 'n patroon met sy naam daarop uitgekrap oor die pos en wil seker maak Alyssa is veilig. Hy begin haar dophou en is bly om te sien dit gaan goed met haar.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
3 | Episode 3 | Lucy Forbes | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Dit lyk of Alyssa ergerlik is om James weer te sien. Hulle gesels oor die patrone wat hulle albei gekry het. Die volgende dag trou Alyssa met Todd en James kry sy herstelde motor teurg. Terwyl hy wegry, keer Alyssa hom voor. Sy het minute ná die troue weggeloop. Terwyl hulle iewers eet, word James se motor weggesleep en die wegsleepmaatskappy vra £400 om die motor terug te gee. James sukkel om die regte oomblik te kry om vir Alyssa te sê hy het haar nog lief. Hulle steel James se motor terug en hou stil om 'n ryloper op te laai. Dit is Bonnie.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
4 | Episode 4 | Lucy Forbes | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Bonnie klim in die motor nadat sy stilletjies 'n band stukkend gesteek het. Toe die motor gaan staan, bel Alyssa en James 'n werktuigkundige. Hulle kan egter die motor eers die volgende dag terugkry en Bonnie bied aan om vir kamers in 'n motel te betaal. Hulle drink en laat Bonnie en die moteleienaar alleen. Die moteleienaar gaan na Bonnie se kamer en probeer om seks met haar te hê. Sy dreig hom egter met 'n wapen. Sy laat val per ongeluk die wapen, 'n skoot gaan af en maak die moteleienaar dood.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
5 | Episode 5 | Destiny Ekaragha | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Alyssa, James en Bonnie verlaat die hotel nadat die motor se band herstel is. Hulle gaan na 'n apteek sodat Bonnie medisyne kan kry vir 'n wond wat sy die vorige nag opgedoen het. Sy los per ongeluk haar wapen in die badkamer en die drie gaan iewers eet. Bonnie onthou van die wapen en hulle gaan terug na die apteek, maar die apteker het beslag op die wapen gelê. Bonnie dreig hom met 'n mes en kry die wapen terug, maar 'n agterdogtige James en Alyssa ry vir haar weg.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
6 | Episode 6 | Destiny Ekaragha | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Alyssa keer terug na haar nuwe man om hom verskoning en 'n egskeiding te vra. Toe James uit Alyssa se dorp ry, sien hy Bonnie in 'n motor op pad na Alyssa en besef iets klop nie met haar storie nie. James volg Bonnie terwyl sy Alyssa bekruip. Toe Bonnie by die kafee instap waar Alyssa werk, breek James by Bonnie se motor in en ontdek die eksemplaar van dr. Koch se boek met die boodskap aan Bonnie binne-in. Intussen maak Bonnie gereed om Alyssa te vermoor.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
7 | Episode 7 | Destiny Ekaragha | Charlie Covell | 4 November 2019 |
'n Polisieman ondersoek die moord op die moteleienaar. Bonnie stap by die kafee in waar Alyssa werk. James, wat hulle van buite af dophou, bel die polisie. Bonnie vertel vir Alyssa van haar plan om wraak te neem. Die polisieman besoek die kafee nadat hy op James se oproep gereageer het. Alyssa probeer in die geheim hulp vra, maar hy loop sonder om te besef sy is in gevaar. Hy sien egter Bonnie se wapen toe hy by haar verbystap en vra polisiebystand. Bonnie kom op James af waar hy in die kombuis wegkruip. Sy hou hulle met haar wapen aan en dring aan om die waarheid oor daardie aand te hoor. Sy wil hulle egter nie glo nie. Bonnie verbeel haar sy skiet hulle albei, en hulle sê vir haar hulle dood sal nie haar pyn wegvat nie. Sy besluit om eerder selfmoord te pleeg, maar James en Alyssa keer haar en hou haar vas terwyl die polisie daar aankom. Alyssa dink daaraan dat dit maklik vir iemand is wat nie liefde ken nie, om iets anders vir liefde aan te sien.
Episode | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
8 | Episode 8 | Destiny Ekaragha | Charlie Covell | 4 November 2019 |
Terwyl James 'n verklaring by die polisie aflê, keer Alyssa terug na Koch se huis. James kry haar daar nadat hy gedink het sy het haarself leed aangedoen. Saam dink hulle oor hulle ondervinding in die huis. James strooi sy pa se as waar sy ouers ontmoet het. Hulle eet saam en Alyssa beken sy het vroeër gehoor toe James gesê het hy het haar lief omdat hy gedink het sy slaap. Sy sê sy voel dieselfde, maar sy het tyd en terapie nodig. Hulle hou hande vas en sê: "Ek het jou lief."
Ontvangs
wysigThe End of the F***ing World het 'n algehele goedkeuringsyfer van 93% op Rotten Tomatoes.[4] Die eerste seisoen het 'n syfer van 96%, gebaseer op 51 resensies, en 'n gemiddelde punt van 8,38/10. Volgens die webtuiste meng mensehaat en humor perfek en bewys "dat om verlief te raak kan voel soos The End of the F***ing World."[5] Die tweede seisoen het 'n goedkeuringsyfer van 91%, gebaseer op 34 resensies, met 'n gemiddelde punt van 7,64/10.[6]
Op Metacritic het die reeks 'n algehele punt van 77 uit 100, gebaseer op 21 resensies, wat dui op "algemeen gunstige resensies".[7] Die eerste seisoen het 'n punt van 81 uit 100[8] en die tweede seisoen 'n punt van 71 uit 100.[9]
Die resensent Daniel Fienberg van The Hollywood Reporter het die program se skryfwerk, karakters en musiek geprys, asook die spel van Alex Lawther en Jessica Barden. Hy noem die eerste seisoen 'n "pikswart agt-episode-komediejuweel van 'n VK-invoer".[10] Kelly Lawler van USA Today het ook Lawther en Barden se spel geprys, asook die program se surrealistiese konsep en uitvoering.[11]
Verwysings
wysig- ↑ "Best Drama Series". www.bafta.org/. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2020. Besoek op 14 Junie 2020.
- ↑ 2,0 2,1 "E4 and Netflix cast Black Mirror's Alex Lawther in dark teen thriller The End of the F***ing World". Digital Spy. 24 September 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Junie 2021. Besoek op 24 September 2016.
- ↑ "Why Kid Loki Looks So Familiar". Looper. 30 Junie 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Mei 2022. Besoek op 17 Augustus 2021.
- ↑ "The End of the F**ing World". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2019. Besoek op 24 Mei 2020.
- ↑ "The End of the F**ing World: Series 1". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Mei 2019. Besoek op 24 Mei 2020.
- ↑ "The End of the F**ing World: Series 2". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Mei 2020. Besoek op 24 Mei 2020.
- ↑ "The End of the F***ing World". Metacritic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 November 2019. Besoek op 24 Mei 2020.
- ↑ "The End of the F***ing World - Season 1". Metacritic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 November 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
- ↑ "The End of the F***ing World - Season 2". Metacritic. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 November 2019. Besoek op 18 Desember 2019.
- ↑ Fienberg, Daniel (5 Januarie 2018). "'The End of the F***ing World' review". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Januarie 2018. Besoek op 5 Januarie 2018.
- ↑ Lawler, Kelly (4 Januarie 2018). "Review: Why Netflix's 'The End of the ... World' is batty fun". USA Today. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Augustus 2018. Besoek op 5 Januarie 2018.
Skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.