Wikipedia:Voorbladartikel week 20 2022
Die Maori-kultuur (Maori: Māoritanga) is die gebruike, kultuurpraktyke en geloofsoortuigings van die inheemse Maori-volk van Nieu-Seeland. Dit het uit die Oos-Polinesiese kultuur ontstaan en is steeds deel daarvan. Die Maori-kultuur vorm 'n kenmerkende deel van die Nieu-Seelandse kultuur en danksy 'n groot diaspora en die opneem van Maori-motiewe in die gewilde kultuur word dit wêreldwyd aangetref. Onder die Maori's, en in 'n mindere mate dwarsoor Nieu-Seeland, word die woord Māoritanga dikwels gebruik as min of meer 'n sinoniem vir die Maori-kultuur. Die Maori-agtervoegsel -tanga is rofweg 'n ekwivalent van die Afrikaanse agtervoegsel "-heid" of "-skap". Dit is ook al vertaal as "'n Maori-lewenswyse".
Vier aparte maar oorvleuelende kultuurtydperke het histories tot die Maori-kultuur bygedra:
- Die tyd voordat die Maori-kultuur van die ander Polinesiese kulture begin verskil het (Argaïese tydperk);
- Die tyd voor wydverspreide Europese kontak (Klassieke tydperk);
- Die 19de eeu, waarin die Maori's intensiewer wisselwerkings met Europese besoekers en setlaars gehad het; en
- Die moderne tyd, sedert die begin van die 20ste eeu.
Māoritanga in die moderne tydperk word al hoe meer beïnvloed deur verstedeliking, groter kontak met Nieu-Seelanders van Europese afkoms 'n herlewing van tradisionele praktyke.
Tradisionele Maori-kuns speel 'n groot rol in Nieu-Seelandse kuns. Dit sluit in whakairo (houtsnywerk), raranga (weefwerk), kapa haka (groepoptrede), whaikōrero (redenaarskuns) en tā moko (tatoes). Die patrone en karakters wat voorgestel word, is 'n weerspieëling van die geloofsoortuigings en geslagsregisters (whakapapa) van die Maori's. Kunstenaars volg dikwels die tegniek van hulle voorouers, maar in die 21ste eeu sluit Māoritanga ook kontemporêre kunste soos rolprente, televisie, poësie en die teater in.
Die Maori's se taal is bekend as te reo Māori, wat verkort word tot te reo (letterlik "die taal"). Aan die begin van die 20ste eeu het dit gelyk of te reo Māori en ander aspekte van die Maori's se lewenswyse kan verdwyn. In die 1980's het regeringsgeborgde skole (Kura Kaupapa Māori) mense met Europese én Maori-herkoms egter in te reo begin onderrig.
Tikanga Māori is 'n stel kultuurwaardes, gebruike en praktyke. Dit sluit begrippe in oor wat heilig is, om jou gemeenskap te versorg, grondregte en ander verhoudings tussen mense en hulle omgewing. Tikanga verskil van 'n Westerse etiese of regstelsel omdat dit nie deur 'n sentrale owerheid of 'n stel dokumente voorgeskryf word nie. Dit is 'n vloeibaarder en dinamieser stel praktyke, en gemeenskapsaanspreeklikheid is "die doeltreffendse maganisme vir die afdwing van tikanga".