Annelise de Vries

taalkundige

Annelise de Vries (gebore 1990) is ‘n taalkundige en aangewese hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK). Sy was ‘n dosent in die Fakulteit Opvoedkunde, Vakhoof: Tale en Koördineerder: Taalsentrum by Akademia. Sy beklee ook die pos van ondervoorsitter van die African Association of Forensic and Legal Linguistics. Sy dien as ondervoorsitter op die direksie van die Afrikaanse Taalraad en sy is ook een van die Afrikaanse Taalkommissie se taalkundiges vir die termyn 2022 tot 2024.[1]

Annelise de Vries

De Vries is gebore en het grootgeword in Ermelo. De Vries is die jongste van drie kinders, sy het by Laerskool JJ van der Merwe in Ermelo skoolgegaan. In 2003 het haar gesin Pretoria toe getrek, waar sy haar matriek aan die Hoërskool Garsfontein geslaag het.

Ná skool het De Vries aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus gestudeer. Sy het twee BA-grade, een in kommunikasiestudies en een in pastorale begeleiding en psigologie, asook ‘n honneurs- en meestersgraad in Afrikaans en Nederlands, aan die NWU behaal. Daarna het De Vries ‘n doktorsgraad in toegepaste linguistiek by die Universiteit van Johannesburg verwerf. [2]

Op ouderdom 34 is De Vries die jongste akademikus wat in die SAAWK se hoofpos aangestel is. Sy sal op 1 November 2024 die leisels by prof Anne-Marie Beukes oorneem, wat die pos vir een en ‘n half termyn beklee het. Volgens De Vries word Afrikaans nasionaal en internasionaal as gevallestudies van doeltreffende taalbeplanning bestudeer, die SAAWK het in die geskiedenis ‘n groot rol in hierdie taalbeplanning vir Afrikaans gespeel, en sy is van mening dat daar, veral in ‘n tyd waar Afrikaans toenemende gemarginaliseer word, nog baie werk vir die SAAWK is.[3]

Verwysings

wysig
  1. SAAWK, Mediaverklaring, 13 Augustus 2024, Nuwe hoof- uitvoerende beampte vir die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.
  2. (af) Steyn-Bezuidenhout, Christa (14 Augustus 2024). "Annelise de Vries: Taaldag is iets om te herdenk". Maroela Media. Besoek op 14 Augustus 2024.
  3. Maroela-redaksie (13 Augustus 2024). "Nuwe SA Akademie-hoof aangewys". Maroela Media. Besoek op 13 Augustus 2024.