Arnoldus Mauritius Meiring
Ds. Arnoldus Mauritius Meiring (Lingen, Duitsland, omstreeks 1695 – Tulbagh, 23 April 1757) was predikant van die Verenigde Oos-Indiese Maatskappy en stamvader van die Meirings in Suid-Afrika.
Hy het op 28 Maart 1743 aan boord van die Adrichem in Tafelbaai geland. In dié tyd is ’n gemeente in die Land van Waveren op die plaas Roodezand gestig en Meiring was die eerste predikant. (Die kerkplaas en distrik het in 1804 die naam Tulbagh gekry.) Hy was in 1749 skriba van die "Gekombineerde Kerk-Vergadering", opvolger van die "Kaapsche Klassis". Hy is in die tuig oorlede, voor die preekstoel begrawe en opgevolg deur ds. Remmerus Harders.