C/2011 W3 (Lovejoy)
Komeet Lovejoy, amptelik C/2011 W3 (Lovejoy), is 'n langperiodekomeet en Kreutz-sonskeerder. Dit is in November 2011 deur die Australiese amateursterrekundige Terry Lovejoy ontdek. Met die komeet se perihelium op 16 Desember 2011 het dit deur die Son se korona beweeg. Dit het daarna weer verskyn, hoewel dit grootliks deur die gebeurtenis beïnvloed is.
Komeet Lovejoy, soos op 21 Desember 2011 afgeneem deur Dan Burbank aan boord van die Internasionale Ruimtestasie. | |
Ontdekking | |
---|---|
Ontdek deur: | Terry Lovejoy |
Ontdekkingsdatum: | 27 November 2011 |
Alternatiewe name: | C/2011 W3 Groot komeet van 2011 |
Wenteleienskappe | |
Epog: | Juliaanse dag 2455901,5 (6 Desember 2011) |
Afelium: | 157,36±0,50 AE |
Perihelium: | 0,00555 AE |
Lengteas: | 78,68±0,25 AE |
Eksentrisiteit: | 0,99993 |
Wentelperiode: | ~622 jaar[1] |
Maks. wentelspoed: | 565 km/s |
Baanhelling: | 134,36±0,002 ° |
Laaste perihelium: | 16 Desember 2011 |
Volgende perihelium (voorspel): | c. 2633?[1] |
Toe komeet Lovejoy op die 16de herdenking van die lansering van die sterrewag SOHO aangekondig is, het dit bekend geword as die "Groot Verjaardagkomeet van 2011". Omdat dit oor die Kerstyd van die Aarde af sigbaar was, is dit ook die "Groot Kerskomeet van 2011" genoem.[2][3] Lovejoy is terugwerkend die Groot komeet van 2011 gedoop.[4]
Waarnemings
wysigDie eerste wentelbaaneienskappe wat 'n veronderstelde paraboliese baan gebruik het, is op 2 Desember 2011 deur Gareth Williams van die Kleinplaneetsentrum gepubliseer, met 'n geraamde perihelium by 0,0059 AE op 15/16 Desember. Verfynings is op die daaropvolgende dae gepubliseer, insluitende een op 5 Desember met 'n perihelium by 0,0056 AE net voor middernag op 15 Desember. Op 11 Desember is die eerste elliptiese wentelbaan gepubliseer, wat perihelium by 0,0055 AE voorspel het net ná middernag op 16 Desember.[5][6]
In die ruimte het die komeet op 3 Desember die eerste keer sigbaar geword vir die STEREO-A-ruimtetuig en op 14 Desember vir die SOHO-ruimtetuig. Terwyl die komeet die Son genader het, is dit deur 18 instrumente waageneem.[7][8]
'n Klein metgeselkomeet is op 14 Desember deur Zhijian Xu op SOHO-foto's ontdek. Dit is later ook deur die STEREO-ruimtetuig gesien.[2][9] Daar word geglo dit is 'n deel van komeet Lovejoy wat verskeie dekades gelede afgebreek het. Dié ontdekking was nie onverwags nie, aangesien lede van die Kreutz-groep dikwels kleiner metgeselle het.[2][10]
Op sy helderste het komeet Lovejoy 'n skynbare magnitude van tussen -3 en -4 gehad, wat omtrent so helder soos die planeet Venus is.[7][11] Dit is die helderste sonskerende komeet wat nog deur SOHO bespeur is, en die helderste komeet sedert komeet McNaught van 2007, wat 'n skynbare magnitude van -5,5 gehad het.[2][12] Lovejoy was egter grootliks onsigbaar vir die blote oog tydens sy grootste helderheid omdat dit so naby die Son was.[3][10]
Perihelium
wysigKomeet Lovejoy se perihelium was op 16 Desember 2011 toe dit sowat 140 000 km van die Son se oppervlak af verbybeweeg het[13][14] teen 'n snelheid van 536 km/s, of 0,18% die ligsnelheid.[15] Daar is nie verwag dat dit perihelium sou oorleef nie weens die uiterse toestande in die korona, soos temperature van tot meer as 'n miljoen kelvin en die blootstellingstyd van byna 'n uur. Die komeet het egter ongeskonde agter die Son uitgekom.[16][17][18] Die STEREO- en die SOHO-ruimtetuig het dit bly waarneem terwyl dit weg van die Son beweeg het.[18]
Voor perihelium is die komeet se kern op tussen 100 en 200 m breed geraam. Omdat dit perihelium oorleef het, is vermoed die kern was groter, miskien tot 500 m.[19] Daar word vermoed dat 'n groot deel van Lovejoy se massa tydens perihelium verdamp het.[18]
Moontlike opbrekingsgeskiedenis
wysig'n Elliptiese wentelbaan wat in 2012 deur Sekanina en Chodas bereken is, dui daarop dat komeet Lovejoy die fragment van 'n onaangetekende sonskerende komeet is wat omstreeks 1329 perihelium bereik het. Die opbrekingsgeskiedenis wat deur dié skrywers voorgestel is, is dat 'n moedersonskeerder, waarskynlik die komeet wat in 467 n.C. waargeneem is, naby die Son opgebreek het weens getykragte tydens sy verbygang. Die hoofdeel het teruggekeer as die Groot komeet van 1106, maar 'n sekondêre deel met 'n langer wentelperiode het omstreeks 1329 teruggekeer. Die sekondêre deel het ook by perihelium opgebreek en sy grootste deel sal omstreeks 2200 terugkeer, moontlik as 'n groep verdere fragmente.
Die een of ander tyd ná perihelium het dié sekondêre fragment weer verbrokkel en een van die fragmente daarvan het komeet Lovejoy geword. Ander, soortgelyke fragmente kan ook bestaan en kan in die nabye toekoms as sonskeerders terugkeer.[20]
Galery
wysigVerwysings
wysig- ↑ 1,0 1,1 Horizons output. "Barycentric Osculating Orbital Elements for Comet C/2011 W3 (Lovejoy)". Besoek op 7 Augustus 2012. (Ephemeris Type:Elements and Center:@0)
Epoch 2200: PR= 2.272E+05 / 365.25 = 622 years - ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 Battams, Karl (2 Desember 2011). "The Great "Birthday Comet" of 2011, Chapter 1: Inbound". Sungrazing Comets. Navy.mil. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Januarie 2021. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ 3,0 3,1 Hoffman, Tony (27 Desember 2011). "Comet Lovejoy's Surprising Path to Greatness". PC Magazine. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ "Great Comets: What Are They, And When Will the Next Comet Be Visible?". Star Walk. 16 Oktober 2024. Besoek op 17 Oktober 2024.
- ↑ Kronk, Gary W. "C/2011 W3 (Lovejoy)". Cometography.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Januarie 2012. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Williams, Gareth V (11 Desember 2011). "MPEC 2011-X36 : COMET C/2011 W3 (LOVEJOY)". Minor Planet Center. Besoek op 29 Desember 2011.
- ↑ "The Great "Birthday Comet" of 2011". SOHO. NASA.gov. 15 Desember 2011. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Battams, Karl (Desember 2011). "SOHO-LASCO Comet Reports for 201112". Sungrazing Comets. Navy.mil. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2012. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ 10,0 10,1 O'Neill, Ian (15 Desember 2011). "Comet Lovejoy to 'Play Chicken' With the Sun". Discovery.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Mei 2012. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Phillips, Tony (15 Desember 2011). "What's Up in Space". Spaceweather.com. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ "Brightest comets seen since 1935". International Comet Quarterly. 12 Februarie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2011. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ "C/2011 W3 (Lovejoy)". JPL Small-Body Database Browser. NASA.gov. 4 Junie 2012. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Desember 2012.
- ↑ Malik, Tariq (16 Desember 2011). "Sun Rips Tail From Comet During Solar Close Encounter". Space.com. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Battams, Karl (25 Februarie 2013). "Did you know". Twitter.com. Besoek op 25 Junie 2013.
- ↑ Wall, Mike (15 Desember 2011). "Satellites to Watch Comet's Death Plunge Through Sun Today". Space.com. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Wall, Mike (15 Desember 2011). "Comet Lovejoy Survives Fiery Plunge Through Sun, NASA Says". Space.com. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ 18,0 18,1 18,2 Phillips, Tony (16 Desember 2011). "Comet Lovejoy Plunges into the Sun and Survives". Science News. NASA.gov. Besoek op 28 Desember 2011.
- ↑ Phillips, Tony (12 Januarie 2012). "Some Comets like it Hot". Science News. NASA.gov. Besoek op 14 Januarie 2012.
- ↑ Sekanina, Zdeněk; Chodas, Paul W (Oktober 2012). "Comet C/2011 W3 (Lovejoy): Orbit Determination, Outbursts, Disintegration of Nucleus, Dust-Tail Morphology, and Relationship to New Cluster of Bright Sungrazers". The Astrophysical Journal. 757 (2): 127. arXiv:1205.5839. Bibcode:2012ApJ...757..127S. doi:10.1088/0004-637X/757/2/127. S2CID 118586921.
Eksterne skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.