Charlotte de Beer
Hierdie artikel is 'n weesbladsy. Dit is nie geskakel of in ander bladsye ingesluit nie. Help Wikipedia deur na moontlike teks te soek en 'n skakel hierheen te plaas. |
Charlotte de Beer (*18 November 1929, Bloemfontein) is ’n Afrikaanse skrywer. Sy publiseer onder haar eie naam sowel as die skuilnaam Elizabeth Pretorius. As Elizabeth Pretorius skryf sy liefdesverhale
Lewe en werk
wysigCharlotte Elizabeth de Beer is op 18 November 1929 in Bloemfontein as enigste kind gebore en bly saam met haar ouers op verskeie plekke in Suid-Afrika.
Sy trou in 1949 en twee kinders, Johann en Lorraine, word uit die huwelik gebore. Na vele omswerwinge keer sy terug na Bloemfontein en trou hier vir die tweede keer. Sy werk dan vir ongeveer tien jaar by ’n kerkkantoor, eers as skakelbordoperateur en later as vertaler, waarna sy aftree en voltyds begin skryf.
Skryfwerk
wysigHaar eerste kortverhaal word gepubliseer wanneer sy 24 jaar oud is en daarna skryf sy etlike kortverhale vir tydskrifte. Sy skryf ook talle werke vir die radio, eers verhaaltjies vir die radioprogram Siembamba en daarna praatjies en sketse vir Vrouerubriek en Vrouefokus. Sy is lid van die Bloemfonteinse Skrywersvereniging en skryf veral populêre liefdesverhale onder haar eie naam en die skuilnaam Elizabeth Pretorius.
Romans
wysigTydens ’n moeilike tydperk in haar lewe skryf sy vir tien jare niks nie, waarna sy weer vir die radio begin werk en ook haar hand aan haar eerste roman, Meraai van Rolbos, waag. Hierdie roman het die Griekwa-vrou Meraai Vannerwestrys as hooffiguur en behandel haar ontluiking tot volwassenheid en die kultuur en mistiek van Griekwa gebruike. Hierdie aangrypende boek word oor die radio voorgelees deur Wilna Snyman en word ook verskeie kere voorgeskryf, onder andere aan die Universiteit van Namibië en deur die Departement van Onderwys en Ontwikkeling in die Vrystaat. In 1990 is Meraai van Rolbos op die kortlys vir die toekenning van die ATKV-prys. Dit word later verwerk en heruitgegee onder die titel Wanneer die koedoehoring draai,[1] waar die titel dui op tye wanneer ontstellende dinge gebeur. Die Griekwa-meisie Meraai van der Westhuizen is die hoofkarakter en die verhaal draai rondom haar grootwordjare. Sy ondergaan die !njabasas-ritueel, waar sy as meisie wat puberteit bereik het twee weke lank afgesonder word om die lewensfeite en pligte van ’n vrou te leer en dan by die Grootrivier gereinig word om die goedgesindheid van die Waterslang te wen. Hierna dans sy omtrent die hele aand met Kleinjan, met die wellustige Johnie Rolls wat ook op Rolbos opdaag. Die berugte skaapdief Karools kruis ook haar en haar ma Siena se paaie. Die verhaal is interessant in sy deeglike navorsing oor Griekwa-gebruike.
Blou perskebloeisels op Toorwater is die verhaal van die teatersuster Shani van der Merwe, wat na agt jaar terugkeer na haar geboortedorp om uit te vind of haar pa werklik selfmoord gepleeg het. Sy ontdek egter veel meer as waaroor sy ooit kon droom.
In Droombaai se maan kry Mariechen Delport ’n pos by ’n eenmanskooltjie op die platteland. Sy wil besin oor haar lewe en verhouding met haar beste vriend, Gerhard van der Linde. Hoewel sy lief is vir hom, weet sy nie of dit ware liefde is nie.
In Terug na Aronsvallei is Leona Bekker se man ’n nikswerd wat haar net verdriet veroorsaak, maar sy glo dat sy getrou en lojaal aan hom moet bly.
Met liefde van buurman is die verhaal van Anina Adendorf, wat steeds na haar jeugliefde hunker. Die nuwe buurman bly egter in haar gedagtes.
Kinderverhale
wysigVan haar kinderverhale word opgeneem in die versamelbundel Skoolstories, onder redaksie van Herman en Marie Hammann.
Sy skryf in Engels die kinderboekies A visit to Stratford upon Avon (oor Shakespeare) en The eventful life of Wolfgang Amadeus Mozart, wat albei in Februarie 1990 verskyn.
Publikasies
wysigJaar | Publikasies |
---|---|
Charlotte de Beer[2] | |
1990 | Meraai van Rolbos |
2000 | Langs vreemde paaie |
2001 | Blou perskebloeisels op Toorwater |
2002 | Anderkant die skadu’s |
Die bloeisels sal vertel | |
2003 | Dierbare lelike eendjie |
2004 | Droombaai se maan |
2006 | Terug na Aronsvallei |
Met liefde van buurman | |
2011 | Wanneer die koedoehoring draai |
Elizabeth Pretorius[3] | |
1993 | Onrus op Stillewoning |
1995 | Bergsig |
1996 | Wanneer die swaeltjies terugkeer |
Bronnelys
wysigBoeke
wysig- Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Human & Rousseau Kaapstad en Pretoria Eerste uitgawe 2005
Ongepubliseerde dokumente
wysig- De Beer, Charlotte. Kort lewenskets. Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein 25 Maart 1994