Elite (TV-reeks)
Elite (Spaans: Élite) is 'n Spaanse tienerdramareeks wat deur Carlos Montero en Darío Madrona vir Netflix geskep is. Die reeks speel af in Las Encinas, 'n fiktiewe elitehoërskool vir bevoorregte en ryk tieners. Elite fokus aanvanklik op drie werkersklasleerlinge wat deur 'n studiebeursprogram toegang tot die skool kry, en hulle sosiale en romantiese wisselwerkings met verskeie ander leerlinge in die skool.
Elite | |
Genre |
|
---|---|
Geskep deur |
|
Met | Sien teks |
Temamusiekkomponis | Lucas Vidal |
Oorsprong | Spanje |
Taal | Engels (oorgeklank uit Spaans) |
Aantal seisoene | 8 |
Aantal episodes | 64 |
Produksie | |
Uitvoerende vervaardiger(s) |
|
Vervaardiger(s) | Francisco Ramos |
Venue(s) | Sierra de Guadarrama, Madrid |
Kinematografie |
|
Produksiemaatskappy | Zeta Producciones |
Uitsending | |
Oorspronklike kanaal | Netflix |
Oorspronklike lopie | 5 Oktober 2018 | – 26 Julie 2024
Die reeks het agt seisoene lank geloop, van 5 Oktober 2018 tot 26 Julie 2024.
Hoewel die reeks ook ligte oomblikke het, sentreer Elite hoofsaaklik op die teenspoed en uitdagings van die hoofkarakters en verken dit progressiewe onderwerpe soos homoseksualiteit, klassisme, ouerlike verwaarlosing en onwettige bedrywighede soos dwelmhandel, misdaad en moord.
Die eerste seisoen van agt episodes se première op Netflix was op 5 Oktober 2018. Dit het positiewe resensies gekry van resensente en kykers, wat dit as "skuldige pret" bestempel het. Die skryfwerk, toneelspel en uitbeelding van volwasse temas is veral geprys.
Oor die volgende ses jaar is nog sewe seisoene van agt episodes elk op Netflix uitgereik. Die uitreiking van die agtste en laaste seisoen was op 26 Julie 2024.[1]
Storielyn
wysigBederwingswaarskuwing: Die storielyn of storie se einde volg hieronder.
Seisoen 1
wysigDrie jong vriende – Samuel, Nádia en Christian – kry 'n studiebeurs van 'n konstruksiemaatskappy nadat hulle ou skool inmekaargestort het weens swak bouwerk. Hulle nuwe skool is Las Encinas, 'n prestigeryke instituut in Spanje waar die kinders van die land se elite studeer.
In Las Encinas ontmoet die drie die ryk sibbes Marina en Guzmán, wie se pa die konstruksiemaatskappy besit wat vir die ongeluk by hulle ou skool verantwoordelik was; Guzmán se aan-en-af-meisie, Lu; die skoolhoof se seun, Ander; en die paartjie Pólo en Carla. Samuel se broer, Nano, wat kort tevore uit die tronk vrygelaat is, en Nádia se broer, Omar, raak ook gou betrokke in die botsende lewenstyle, neid, jaloesie en seksuele aangetrokkenheid.
Deur middel van 'n reeks toekomsflitse van die begin van die eerste episode af, word gewys hoe die botsings eindelik lei tot die geheimsinnige moord op Marina. Die storie het twee tydlyne: Een wys die polisie se ondervraging en die ander die karakters se verhoudings wat tot die moord gelei het.
Seisoen 2
wysigNá die onthulling van hulle klasmaat Marina se dood en die verdwyning van Samuel, gaan die tweede seisoen oor die leerlinge wat terugkom skool toe vir hulle finale jaar, met die fokus veral op die eerste semester. Daar is drie nuwe klasmaats: Rebeka, Cayetana en Valerio, wat almal donker geheime het. Die nuwe karakters raak vriende met hulle klasmaats, terwyl Samuel steeds probeer om sy broer, Nano, wat valslik van Marina se dood beskuldig word, vrygespreek te kry. Polo oorweeg selfmoord weens sy skuldgevoelens, maar vind eindelik troos en geluk by Cayetana. Ander se geestesgesondheid gaan agteruit onder die las van Polo se geheim. Carla, wat dink Samuel is dood, beken sy weet van Polo se misdaad.
Seisoen 3
wysigDit is die leerlinge se laaste semester by Las Encinas. In 'n toekomsflits ondervra die polisie die leerlinge oor Polo se dood op 'n skoolverlatingspartytjie. Polo en Cayetana word deur hulle klasmaats, buiten Valerio, vermy. Samuel en Guzman sit hulle plan voort om Polo se misdade te wreek. Lu en Nadia ding mee om die beurs na die Universiteit van Columbia, en dit lei tot 'n nuwe vriendskap. Ander word gediagnoseer met leukemie en begin met chemoterapie, wat wrywing tussen hom en sy geliefdes veroorsaak. Op hulle laaste partytjie by die skool steek 'n dronk Lu Polo per ongeluk, en hy val hom dood. Die groep besluit saam om die moord toe te smeer. Omdat die polisie nie 'n skuldige kan vind nie, word Polo se dood eindelik aan selfmoord toegeskryf. Sy ouers vertel eindelik vir die polisie hy het skuld op Marina se dood erken.
Seisoen 4
wysigTerwyl 'n nuwe jaar by Las Encinas begin, ontvou 'n nuwe geheim met die aankoms van die nuwe skoolhoof, Benjamin, en sy kinders: Ari, Mencía en Patrick. Ari word bynadood aangetref en die verhaal neem verskeie wendings met verskillende moontlikhede oor wat kon gebeur het. Benjamin se kinders en Philippe, 'n Franse prins wat by 'n skandaal betrokke is, beland in dieselfde klas as Samuel, Guzmán, Rebeka, Ander en Omar. Die dinamika tussen die ou en nuwe leerlinge begin ontwikkel. Terselfdertyd raak Mencía betrokke by prostitusie onder invloed van Armando, 'n sakeman wat Benjamin ken. Eindelik raak dit bekend die poging tot moord op Ari en die dood van Armando is met mekaar verweef.
Seisoen 5
wysigNá Armando se moord deur Guzmán, besluit laasgenoemde en Ander om die skool te verlaat en op 'n lang reis om die wěreld te gaan. Samuel en Rebeka steek die waarheid vir almal weg, insluitende Omar, Cayetana, Ari, Mencía en Patrick. Toe Armando se liggaam egter ontdek word, lei dit tot 'n reeks gebeure wat nuwe vriendskappe meebring en hulle lewens vir altyd verander. Twee nuwe leerlinge, Isadora en Iván, sluit by Las Encinas aan en sluit verbintenisse met ou leerlinge, veral Phillipe en Patrick. In 'n toekomsflits word Samuel se lewelose liggaam in 'n swembad aangetref, en verskillende storielyne het verskillende verduidelikings oor hoe hy daar beland het.
Seisoen 6
wysigDrie maande ná die dood van Samuel en die inhegtenisneming van Benjamin vir sy moord, begin 'n nuwe skooljaar. Omar, Rebeka en Phillipe het sedertdien afstudeer. Intussen is Ari, Patrick en Mencía verplig om hulle laaste jaar te herhaal omdat hulle skool misgeloop het weens hulle pa se arres. Iván en Isadora is ook in hulle laaste jaar saam met 'n paar nuwe leerlinge: Nico, Rocío, Dídac, Sonia en Sara. Ook betrokke by die intriges is Sara se kêrel, Raúl, wat haar mishandel. Baie dinge gebeur in die seisoen, en in 'n toekomsflits word gesien hoe Iván deur 'n motor getref word.
Seisoen 7
wysigTwee weke ná die gebeure van die vorige seisoen kry Omar, wat nou op universiteit is, 'n internskap by Las Encinas. Hy sukkel met depressie wat 'n jaar vroeër, met Samuel se dood, begin het. Omar is in 'n verhouding met Joel, wat ook by Las Encinas aangesluit het. Intussen het Patrick, Ari en Mencía uit Madrid getrek, en Iván herstel van 'n ongeluk. Isadora is in 'n affair met Didàc en Sara in 'n toksiese verhouding met Raúl. Nico, Sonia en Rocío het elk sy eie probleme. 'n Nuwe leerling, Chloe, en haar enigmatiese ma, Carmen, kom op die toneel. Ook Nico se neef, Eric, kom na Las Encinas. In 'n toekomsflits word Raúl vermoor.
Seisoen 8
wysigDie leerlinge in hulle laaste jaar word genader deur 'n vereniging van oudleerlinge van Las Encinas, onder leiding van die omstrede Héctor en Emilia Krawietz, wat nuwe lede werf. Eric en Chloe begin 'n stormagtige verhouding. Sara probeer om oor Raúl se dood te kom en vind aansluiting by Nico. Sonia en Dalmar begin ook 'n verhouding. Isadora het probleme met haar ouers en die polisie. Iván, wat van Suid-Afrika af teruggekeer het, probeer met Joel kliek. Die Oudleerlingeklub word al hoe verraderliker en Omar, wat Las Encinas baie goed ken, probeer dit beveg saam met sy suster, Nadia. Die toekomsflits is van Joel se moord, die sleutelvoorval wat lei tot die sluiting van Las Encinas aan die einde van die seisoen.
Rolverdeling
wysigDie belangriste akteurs en karakters van Elite is:
Van seisoen 1 af
wysig- María Pedraza is Marina Nunier Osuna (seisoen 1), Guzmán se suster en die liefdesbelangstelling van Nano en Samuel.[2] Sy kom uit 'n ryk gesin en is geneig om vir die verkeerde ouens te val. Sy rebelleer teen die hipokratiese idees van haar gesin, terwyl sy jeugdig en vrolik bly. Sy word in seisoen 1 vermoor.
- Itzan Escamilla is Samuel García Domínguez (seisoene 1-5), een van drie studiebeursleerlinge, wat die liefdesbelangstelling van Marina is en later verlief raak op Carla.[2] 'n Hardwerkende, eerlike seun wat altyd besorg oor die mense om hom is.
- Miguel Bernardeau is Guzmán Nunier Osuna (seisoene 1-4), die aangenome broer van Marina, en Lu se ekskêrel, wat verlief raak op Nadia.[2] 'n Heethoofdige, gewilde seun wat glo hy is altyd reg. Hy is baie beskermend teenoor sy suster.
- Miguel Herrán is Christian Varela Expósito (seisoene 1-2), 'n studiebeursleerling wat in 'n verhouding met Polo en Carla gaan. 'n Sorgelose karakter wat verbind aan sy verlede probeer bly terwyl hy gewild wil wees onder die ryk kinders.
- Jaime Lorente is Fernando "Nano" García Domínguez (seisoene 1-2), Samuel se ouer broer wat pas uit die tronk kom en 'n liefdesbelangstelling van Marina.[2] Sy aantreklike en gevaarlike aura trek Marina aan. Hy is dikwels in die moeilikheid.
- Álvaro Rico is Leopoldo "Polo" Benavent Villada (seisoene 1-3), Carla se ekskêrel en Cayetana se liefdesbelangstelling.[2] Hy is onderdanig en volg die opdragte van die mense na aan hom. Hy is baie ryk, die seun van twee ma's en kry paniekaanvalle. Hy vermoor Marina aan die einde van seisoen 1. Hy is biseksueel en raak in seisoen 1 betrokke in 'n verhouding met Carla en Christian, en in seisoen met Cayetana en Valerio.
- Arón Piper is Ander Muñoz (seisoene 1-4),die seun van die skoolhoof en verlief op Omar.[2] Hy is 'n stersportman en onder konstante druk van sy ouers om te presteer in alles wat hy doen. Hy gee baie om vir die mense na aan hom. Hy is gay en vind in seisoen 3 uit hy het leukemie. Hy stoot sy vriende weg en oorkom eindelik die siekte, maar moet sy laaste skooljaar herhaal.
- Mina El Hammani is Nadia Shanaa (seisoene 1-4, 8), 'n studiebeursleerling, die dogter van Palestyne ouers en die liefdesbelangstelling van Guzmán.[2] Sy is akademies ingestel en heg waarde aan haar godsdienste en persoonlike waardes. Sy word verbied om haar hidjab by die skool te dra. Ná skool gaan studeer sy in New York.
- Ester Expósito is Carla Rosón Caleruega (seisoene 1-3), Polo se eksmeisie en Christian se seksmaat wat later verlief raak op Samuel.[2] Sy is mooi, manipulerend en kil. Sy is die dogter van 'n markiesin en baie ryk. Sy gebruik haar seksualiteit om te kry wat sy wil hê.
- Omar Ayuso is Omar Shanaa (seisoene 1-5, 7-8), Nadia se broer wat teen sy pa se wil verlief raak op Ander.[2] Hy is in die kas en sukkel om sy ouers te behaag terwyl hy getrou aan homself bly. Hy verkoop dwelms om geld te maak en uit die huis te trek. Hy is skaam en 'n vriend van Samuel. In seisoen 4 het hy en Ander 'n verhouding met Patrick. In seisoen 7 is hy depressief ná Samuel se dood en raak hy in 'n verhouding met Joel.
- Danna Paola is Lucrecia "Lu" Montesinos Hendrich (seisoene 1-3), Guzmán se eksmeisie wat in 'n bloedskandelike verhouding met haar halfbroer, Valerio, is. Sy is mededingend en manipulerend. Sy sal tot uiterstes gaan om dit te kry wat sy dink haar gelukkig sal maak. Sy weet egter sy sal nooit gelukkig wees nie, maak nie saak wat sy het nie.
Van seisoen 2 af
wysig- Jorge López is Valerio Montesinos Rojas (seisoene 2-3), Lu se Chileense halfbroer. Hy is 'n dwelmverslaafde partytjiedier en sal alles doen vir Lu, met wie hy 'n bloedskandelike verhouding het. Hy raak later bevriend met Nadia. Aan die einde van seisoen 3 word hy uit die skool geskors omdat hy by Rebeka se dwelmverkopery by die skool betrokke raak.
- Claudia Salas is Rebeka Parrilla de Bormujo Ávalos (seisoene 2-5), 'n ryk, rebelse meisie wat verlief is op Samuel. Sy is anders as die ander, ryker leerlinge en hou daarvan om met haar rykdom te spog deur haar buitensporige klere en juweliersware. Sy is nie ryk gebore nie, en dit maak haar simpatiekgesind teenoor Nadia, Omar en Samuel. Haar ma in 'n dwelmhandelaar.
- Georgina Amorós is Cayetana Grajera Pando (seisoene 2-5), die dogter van 'n skoonmaker wat maak of sy ryk is, en die liefdesbelangstelling van Polo. Sy raak bevriend met Lu en gaan tot uiterstes om te wys hoe ryk sy is. Ná Polo se dood aanvaar sy haar armoede en word die skool se nuwe skoonmaker.
Van seisoen 3 af
wysig- Leïti Sène is Malick Diallo (seisoen 3), 'n liefdesbelangstelling van Omar. Hy is flirterig en manipulerend, en gebruik Nadia om nader aan Omar te kom. Hy is ryk en gee voor hy is 'n "goeie" Moslem.
- Sergio Momo is Yeray Engonga (seisoen 3), 'n liefdesbelangstelling van Carla. Hy is 'n ryk leerling wat sy eie besigheid begin het. Hy was voorheen oorgewig en is voortdurend daaroor geboelie, maar Carla het hom die vertroue gegee om sy gewoontes te verander. Hy is oppervlakkig en sien Carla as 'n trofee wat hy kan rondparadeer, maar wys uiteindelik 'n sorgsamer kant.
Van seisoen 4 af
wysig- Carla Díaz is Ariadna "Ari" Blanco Commerford (seisoene 4-6), Patrick se tweelingsuster, Mencía se ouer suster en die dogter van die nuwe skoolhoof. Sy is in 'n verhouding met Samuel en Guzmán. Sy word ernstig beseer in seisoen 4. In seisoen 5 sit sy haar verhouding met Samuel voort, terwyl sy 'n affair met Iván het. In seisoen 6 het sy 'n verhouding met Nico. Nadat haar pa uit die tronk vrygelaat is, trek sy en die res van die gesig weg om 'n nuwe lewe te begin.
- Martina Cariddi is Mencía Blanco Commerford (seisoene 4-6), Ari en Patrick se jonger suster en die dogter van die nuwe skoolhoof. Sy het 'n verhouding met Rebeka terwyl sy ook as 'n prostituut werk. In seisoen 6 probeer sy Sara help om uit 'n toksiese verhouding met Raúl te kom. Nadat haar pa uit die tronk vrygelaat is, trek sy en die res van die gesig weg om 'n nuwe lewe te begin.
- Manu Ríos is Patrick Blanco Commerford (seisoene 4-6), Ari se tweelingbroer, Mencia se ouer broer en die seun van die nuwe skoolhoof. Hy word in seisoen 4 die minnaar van beide Omar en Ander. In seisoen 5 het hy 'n affair met Iván se pa, Cruz, en in seisoen 6 het hy en Iván 'n stormagtige verhouding. Nadat sy pa uit die tronk vrygelaat is, trek hy en die res van die gesig weg om 'n nuwe lewe te begin.
- Diego Martín is Benjamín Blanco (seisoene 4-6), die nuwe skoolhoof en die pa van Patrick, Ari en Mencía. Aan die einde van seisoen 8 gaan hy tronk toe nadat hy Samuel per ongeluk vermoor het, maar hy word aan die einde van seisoen 6 vrygelaat en trek saam met sy gesin weg om 'n nuwe lewe te begin.
- Pol Granch is Phillipe Florian von Triesenberg (seisoene 4-5), 'n prins wat 'n verhouding met Cayetana aanknoop. In seisoen 5 het hy 'n fopverhouding met Isadora. Nadat hy gegradueer het, keer hy terug na sy prinsdom.
Van seisoen 5 af
wysig- Valentina Zenere is Isadora Artiñán Goldstein (seisoene 5-8), die ryk DJ met die skuilnaam "keiserin van Ibiza" wat 'n fopverhouding met Phillipe aanknoop. Sy word in seisoen 5 deur Hugo, Álex en Javier verkrag en kry daarna paniekaanvalle. In seisoen knoop sy 'n vriendskap met Didac aan en ontwikkel later gevoelens vir hom. Haar pa word aan die einde van seisoen 7 weens bedrog in hegtenis geneem saam met Rocío se ma.
- André Lamoglia is Iván Cruz Carvalho (seisoene 5-8), die seun van Cruz, 'n beroemde sokkerspeler, en Carmen. Hy voel aangetrokke tot Ari terwyl hy aan die einde van seisoen 5 op Patrick verlief raak. In seisoen 6 word hy deur 'n motor getref en verval hy in 'n koma. Hy en Patrick het 'n stormagtige verhouding. In seisoen 7 probeer hy Patrick vergeet en het 'n affair met Joel. Aan die einde van die seisoen gaan hy na Suid-Afrika as 'n uitruilstudent.
- Carloto Cotta is Cruz Carvalho (seisoene 5-7), Iván se pa en 'n beroemde sokkerspeler. Hy steek sy seksualiteit en verhouding met Patrik weg en word in seisoen 6 wreedaardig deur homofobe vermoor nadat hy uit die kas gekom het. In seisoen 7 word onthul hy het Iván by Carmen, Chloe se ma, gehad.
Van seisoen 6 af
wysig- Carmen Arrufat is Sara (seisoene 6-8), 'n beïnvloeder wat in 'n toksiese verhouding is met Raúl, wat haar mishandel. Mencía probeer haar help om van hom af weg te kom. Carmen tref Iván per ongeluk met 'n motor, maar sy en Raúl hou dit geheim en probeer Mencia blameer, wat tydens die ongeluk dwelms ingehad het. In seisoen 7 probeer sy ook van Raúl af wegkom. Sy kry dit aan die einde van die seisoen reg, voordat Rául vermoor word.
- Álex Pastrana is Raúl (seisoene 6-7), Sara se kêrel wat haar mishandel. Raúl is obsessief en manipulerend, en maak altyd seker hy weet waar sy miesie is. In seisoen 7 verbreek hulle die verhouding en knoop hy 'n verhouding met Chloe aan. Tydens 'n argument stamp Camren hom van 'n gebou af.
- Álvaro de Juana is Dídac Ramos Vico (seisoene 6-7), wat aanvanklik bevriend is met die mans wat Isadora verkrag. Hy behoort tot 'n ryk familie hoteleienaars wat teen Isadora se familie is. Hy help haar om sy vriende te laat arresteer. Aan die einde van seisoen 6 raak hulle verlief.
- Ander Puig is Nicolás "Nico" Fernández de Velasco Viveros (seisoene 6-8), 'n trans man wat met Sonia in 'n verhouding is terwyl hy verlief raak op Ari. Dis vir Ari moeilik om sy genderidentiteit te aanvaar en Nico word onseker van homself. In seisoen 7 het hy 'n verhouding met Sonia en Chloe.
- Nadia Al Saidi is Sonia (seisoene 7-8, Nico se meisie. Sy is sensitief en vriendelik, en help graag ander.
- Iván Mendes is Dalmar (seioene 7-8), Joel en Omar se vriend en huismaat. Hy sien hoe Carmen vir Raúl vermoor.
Van seisoen 7 af
wysig- Fernando Líndez is Joel Castellano Soler (seisoene 7-8), 'n sensitiewe ou wat Las Encinas begin bywoon. Hy is Omar se kêrel, maar los hom in seisoen 7. Hy het 'n verhouding met Iván. In seisoen 8 het hy ook 'n fling met Héctor. Luís vermoor hom in dié seisoen.
- Mirela Balić is Chloe Ibarra Silva (seisoene 7-8), Carmen se dogter. Sy is mooi en manipulerend, en het 'n ingewikkelde verhouding met haar ma. In seisoen 7 het sy 'n verhouding met Eric, en word dan Raúl se meisie voordat haar ma hom vermoor. In seisoen 8 begin sy 'n stormagtige verhouding met Eric, terwyl sy 'n fling het met Dalmar. Uiteindelik trek sy weg uit Madrid saam met haar ma om 'n nuwe lewe te begin.
- Gleb Abrosimov is Eric de Velasco Viveros (seioene 7-8), 'n problematiese en bipolêre ou wat by Las Encinas aankom. Hy is Nico se neef en gaan woon by hom en sy gesin. In seisoen 7 het hy 'n affair met Chloe en Rocío. In seisoen 8 begin hy 'n stormagtige verhouding met Chloe.
- Alejandro Albarracín is Luís Marín (seisoene 7-8), 'n speurder wat in 'n toesighoudende posisie na Las Encinas kom ná die skietery aan die einde van seisoen 6. In seisoen 7 arresteer hy Isadora se pa en Rocío se ma. Hy raak in seisoen 8 obsessief oor Isadora. Toe Joel hom dreig, vermoor hy hom. Terwyl hy vir die moord in hegtenis geneem word, vermoor Isadora hom met 'n gifinspuiting.
- Maribel Verdú is Carmen Silva (seisoene 7-8), Chloe en Iván se ma. Sy vermoor Raúl deur hom van 'n gebou af te stamp toe hy haar en haar dogter aanrand.
- Khosi Ngema, 'n aktrise van Suid-Afrika, is Fikile "Fiks" Bhele (seisoen 7), 'n uitruilstudent wat met Iván vriende maak.
Van seisoen 8 af
wysig- Nuno Gallego is Héctor Krawietz (seisoen 8), 'n oudleerling van Las Encinas wat die voorsiter van die Oudleerlingeklub en Emilia se broer is. Hy is manipulerend en raak verlief op Joel nadat hy 'n fling met hom gehad het. Aan die einde van seisoen 8 gaan studeer hy in Italië saam met Emilia.
- Ane Rot is Emilia Krawietz (seisoen 8), 'n oudleerling van Las Encinas wat die ondervoorsiter van die Oudleerlingeklub en Héctor se suster is. Sy is 'n slim en verleidende meisie wat 'n obsessie met haar broer het. Sy het 'n fling met Eric. Aan die einde van seisoen 8 gaan studeer sy in Italië saam met Héctor.
Episodes
wysigDaar is altesaam agt seisoene van agt episodes elk. Dit is altesaam 64 episodes.
Seisoen | Episodes | Uitgereik | |
---|---|---|---|
1 | 8 | 5 Oktober 2018 | |
2 | 8 | 6 September 2019 | |
3 | 8 | 13 Maart 2020 | |
4 | 8 | 18 Junie 2021 | |
5 | 8 | 8 April 2022 | |
6 | 8 | 18 November 2022 | |
7 | 8 | 20 Oktober 2023 | |
8 | 8 | 26 Julie 2024 |
Elite: Short Stories
wysigIn Mei 2021 het Netflix 'n week lange spesiale reeks van kortverhale aangekondig as 'n terugskou vir die vierde seisoen met die titel Elite: Short Stories. Die stories "brei die Elite-heelal uit". Hulle doel is om inhoud te oorbrug wat lei tot die vierde seisoen. Daar is vier stories, wat elk uit drie kort episodes bestaan.[3] Die stories vind plaas in die somer voor die begin van die nuwe jaar in Las Encinas. Verskillende storielyne van die bekendste karakters word vertel om te wys wat hulle in die laaste somer voor die begin van die nuwe jaar gedoen het. Hulle val tussen epiode 3 en 4.[4]
In Oktober 2021 het Netflix nog drie nuwe stories aangekondig, wat in die skoolvakansie afspeel. Dit is in Desember dié jaar uitgereik. Dit val tussen seisoen 4 en 5.[5]
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
1 | "Guzmán, Caye & Rebe" | Dani de la Orden | Carlos Montero | 14 Junie 2021 |
Rebeka nooi Cayetana en Guzmán vir spesiale koek by haar nuwe huis. Die drie raak paniekerig toe hulle 'n klomp kokaïen in die huis kry. Cayetana en Rebeka stry met Guzmán oor hoe om op te tree teenoor twee mans wat by die huis probeer inbreek.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
2 | "Nadia & Guzmán" | Dani de la Orden | Carlos Montero | 15 Junie 2021 |
Terwyl sy gewoond raak aan die lewe in New York, kry Nadia 'n geleentheid om Madrid te besoek en sy weifel of sy vir Guzmán moet vertel. Hulle stem ooreen om mekaar nie te sien nie. Intussen gee die pasgetroude May haar jonger suster raad oor die liefde. In 'n poging om haar emosies in toom te hou, gee Nadia vir Guzmán spesifieke reëls om te volg met hulle reünie.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
3 | "Omar, Ander & Alexis" | Jorge Torregrossa | Darío Madrona | 16 Junie 2021 |
Nadat Ander en Omar 'n verslane Alexis in die hospitaal besoek het, plaas 'n onbedagsaamheid van die verlede Ander in 'n moeilike situasie. Hy probeer Alexis opbeur en sy gedagtes herlei deur hom vir 'n braai by Rebeka se nuwe huis te nooi. Nadat hy met Ander gesels het, neem Alexis 'n finle besluit oor sy behandeling.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
4 | "Carla & Samuel" | Jorge Torregrossa | Carlos Montero | 17 Junie 2021 |
Samuel jaag lughawe toe om Carla te keer om die vliegtuig na Londen te haal. Carla en Samuel speel 'n seksuele vraagspeletjie wat tot 'n ernstiger gesprek lei. 'n Warm rusie lei tot 'n reeks stemboodskappe terwyl Samuel en Carla probeer uitwerk wat om te doen.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
1 | "Phillipe, Caye & Felipe" | Lucía Alemany | Carlos Montero | 15 Desember 2021 |
Terwyl sy klere saam met Rebe skenk, ontmoet Cayetana 'n nuwe vriend en bied sy haar naaldwerkdienste vir Kersfees aan. Toe Phillipe 'n groot bedrag skenk en dit Caetana onkant betrap, vra sy Felipe om haar 'n guns te doen in ruil vir 'n ete.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
2 | "Samuel & Omar" | Lucía Alemany | Carlos Montero | 20 Desember 2021 |
Samuel ontdek sy ma skuld tweeduisend euro's se huurgeld en hy moet 'n manier kry om te keer dat hy uit die woonstel gesit word. Omar help Samuel om uitlokkende foto's vir 'n webtuiste te neem, maar hulle plan boemerang. Sy vriende beloof egter om hom te help.
Storie | Titel | Regisseur | Skrywer | Uitgereik |
---|---|---|---|---|
3 | "Patrick" | Eduardo Chapero-Jackson | Carlos Montero | 23 Desember 2021 |
Patrick voel oorweldig deur sy familie en besoek 'n hut in die woud om afsondering te soek. Die dwelms wat Patrick neem, bring pynvolle herinneringe terug en laat hom ontstellende gesigte sien. Patrick gaan huis toe om Mencia te vind.
Ontvangs
wysigResensente
wysigDie eerste seisoen van Elite is met lof begroet. Dit het op Rotten Tomatoes 'n goedkeuringsyfer van 100% gekry, gebaseer op 14 resensies, met 'n gemiddelde punt van 8,4/10.[6] Verskeie kykers het daarna verwys as "skuldige pretkykstof".
Natalie Winkelman van The Daily Beast het dit 'n positiewe resensie gegee en gesê Elite is "prullerige, vermakende pret".[7] John Doyle van The Globe and Mail het dit ook geprys en gesê "Elite is geen meesterstuk nie, maar een van daardie vreemde, kykwaardige nuuskierighede."[8]
Variety se Caroline Framke[9] het gesê die liefdesdriehoek tussen Marina, Samuel en sy broer, Nano, is in vergelyking met ander tienerdramas "een van die reeks se enigste vervelige eienskappe". Andersins is Elite "die kollig werd".[9]
Lena Finkel van Femestella het gekyk hoe die reeks verskil van baie ander, soortgelyke programme en hoe dit netelige kwessies hanteer. Finkel noem spesifieke voorbeelde, soos dat wanneer Elite sekstonele het, hulle dikwels gaan oor die vrou se plesier; dat wanneer 'n dronk meisie by 'n ou aanlê wat van haar hou, hy haar huis to stuur; dat dit sosiale en klasverskille verken wanneer jongmense uit die kas klim; dat sekstonele met gay mans eksplisiet en sensueeel is; en dat dit karakters bevat soos 'n jong man wat skaamteloos senuweeagtig is om sy maagdelikheid te verloor en 'n straight, wit, ryk meisie wat MIV-positief is.[10]
Grazia Middle East skryf oor die voorstelling van Nadia. Olivia Adams sê die reeks verken sommige van die alledaagse probleme van rassediskriminasie wat Moslems in die gesig staar deur te wys hoe Nadia gedwing word om haar hidjab by die skool te verwyder, iets wat by sommige werklike skole in Europa oorweeg word. Sy wys ook daarop dat die huislewe van Moslems gewys word en nie net die verhouding tussen die tieners nie, en dit gee 'n duideliker beeld.[11]
Op Rotten Tomatoes het die tweede seisoen 'n goedkeuringsyfer van 92%, gebaseer op 12 resensies, met 'n gemiddelde punt van 6/10.[12] Die derde seisoen het op Rotten Tomatoes 'n goedkeuringsyfer van 100%, gebaseer op 10 resensies, met 'n gemiddelde punt van 7,4/10.[13] Seisoen 5 het 'n syfer van 80%[14] en seisoen 6 'n syfer van 0%, met 'n gemiddelde punt van 3,25/10.[15]
Verwysings
wysig- ↑ "'Elite' Gets Premiere Date for 8th & Final Season on Netflix". 13 Junie 2024.
- ↑ 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 2,5 2,6 2,7 2,8 "Personajes Élite. Reparto de actores". FormulaTV. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2022. Besoek op 10 Oktober 2018.
- ↑ "Elite announces #EliteWeek". Out. 13 Mei 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2021. Besoek op 13 Mei 2021.
- ↑ "Here's What Elite: Short Stories Is About". Out. 13 Mei 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2021. Besoek op 14 Mei 2021.
- ↑ "Elite Renewed for Season 6, Ahead of Season 5 Premiere; Short Stories Also Returning with 3 Holiday Episodes". 28 Oktober 2021. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2021. Besoek op 28 Oktober 2021.
- ↑ "Elite: Season 1 (2018)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 25 Mei 2022. Besoek op 25 Mei 2022.
- ↑ Winkelman, Natalie (10 Oktober 2018). "Netflix's New Spanish Prep School Melodrama Is Trashy, Euro-Cool Fun". The Daily Beast. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2019. Besoek op 6 Februarie 2019.
- ↑ Doyle, John (7 Oktober 2018). "Netflix's Elite: A Spanish teen drama, and murder mystery, with a blunt message". The Globe and Mail. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 April 2019. Besoek op 6 Februarie 2019.
- ↑ 9,0 9,1 Framke, Caroline (23 Oktober 2018). "Netflix's 'Elite' Subverts Teen Drama Tropes With Style". Variety (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Oktober 2018. Besoek op 10 Januarie 2020.
- ↑ Finkel, Lena (23 Oktober 2018). "Netflix's 'Elite' Review: 7 Moments You Didn't Appreciate at the Time". Femestella (in Engels (VSA)). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2020. Besoek op 11 Januarie 2020.
- ↑ "Why it's important to watch Netflix's new teen drama". Grazia Middle East. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 Julie 2020. Besoek op 18 Januarie 2020.
- ↑ "Elite: Season 2 (2019)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Julie 2022. Besoek op 25 Mei 2022.
- ↑ "Elite: Season 3 (2020)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 April 2022. Besoek op 25 Mei 2022.
- ↑ "Elite: Season 5 (2022)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Mei 2022. Besoek op 25 Mei 2022.
- ↑ "Elite: Season 6 (2022)". Rotten Tomatoes. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 November 2022. Besoek op 24 November 2022.
Skakels
wysig- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.