Gereformeerde kerk Beestekraal
Die Gereformeerde kerk Beestekraal was ’n gemeente in die GKSA se Klassis Rustenburg. In 2001, die jaar voor die gemeente deel van die Gereformeerde kerk Krokodilrivier geword het, was hier 136 belydende en 43 dooplidmate, die vierde kleinste van die 14 gemeentes wat destyds dié Klassis gevorm het.
Gereformeerde kerk Beestekraal | ||
Klassis | Rustenburg | |
Belydende lidmate | 136 (2001) | |
Dooplidmate | 43 (2001) | |
Adres | Beestekraal, distrik Brits | |
Geskiedenis | ||
Stigtingsdatum | 7 September 1957 | |
Afgestig van | Gereformeerde kerk Krokodilrivier | |
Eerste predikant | G.B.C Bester, 1959–1962 | |
Datum ingelyf | 2002 | |
Ingelyf by | Gereformeerde kerk Krokodilrivier |
Die boukommissie van die Gereformeerde kerk Krokodilrivier het op 17 Mei 1947 opdrag ontvang om ’n saal vir Beestekraal te beplan en die nodige perseel vir dié doel te bekom. Ockert en Roelf van Wyk, lidmate, het toe 3 morg grond op Beestekraal aan die kerk geskenk. Op 14 Augustus het die kommissie berig dat die tender van F. du Plessis, eweneens ’n Gereformeerde lidmaat, vir die bou van die saal aanvaar is. Die boukoste het eindelik £885 beloop en die saal is plegtig in gebruik geneem op 30 April 1949.
Op 11 September 1956 is ’n kommissie aangewys om die wenslikheid van die afstigting van Beestekraal en die wyke noord daarvan te ondersoek. Op 2 Mei 1956 is berig die Klassis het afstigting goedgekeur. Op 7 September 1957 het die afstigting gevolglik plaasgevind en in 1958 is die saal vergroot en opgeknap. In die naweek van 14 en 15 Augustus 1976 is die vergrote kerkgebou in ontvangs geneem. Die bouaannemer was ’n Gereformeerde lidmaat, Frans Briel.
In 2002 het Beestekraal se kerkraad besluit hulle sien nie meer kans om as selfstandige gemeente voort te bestaan nie; daarom het hulle Krokodilrivier se kerkraad genader met die oog daarop om weer deel te word van die moedergemeente. Solank Krokodilrivier se lidmaattal dit toegelaat het, het die gemeente twee predikante gehad wat op Soutpansdrift, Krokodilrivier se kerkplek, en Beestekraal gepreek het. Tans (2016) is daar net een leraar, maar albei kerke word nog gebruik met ’n erediens op Soutpansdrift om 10:00 en om 08:00 op Beestekraal.
Predikante
wysig- Bester, Gert Barend Cornelius, 1959 – 1962
- Du Plessis, dr. Jansen van Vuuren, 1962 – 1965
- Van der Walt, Marthinus Wessel, 1966 – 1971
- Van Niekerk, Krüger, 1972 – 1976
- Malan, Nicolas Johannes, 1976 – 1985 (aanvaar sy emeritaat)
- De Kock, Servaas Daniël, 1987 – 1991
- Venter, Sarel Petrus, 1991 – 1999
- Venter, Maarten Petrus Albertus, 1999 – 2003
Bronne
wysig- (af) Harris, C.T., Noëth, J.G., Sarkady, N.G., Schutte, F.M. en Van Tonder, J.M. 2010. Van seringboom tot kerkgebou: die argitektoniese erfenis van die Gereformeerde Kerke. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Schalekamp, ds. M.E. (voorsitter: redaksiekommissie). 2001. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2002. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Van der Walt, dr. S.J. (voorsitter: deputate almanak). 1997. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 1998. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Venter, ds. A.A. (hoofred.) 1960. Almanak van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1961. Potchefstroom: Administratiewe Buro.
- (af) Vogel, Willem (red.). 2015. Die Almanak van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika vir die jaar 2016. Potchefstroom: Administratiewe Buro.