Hoërskool Voortrekker, Boksburg
Die Hoërskool Voortrekker is 'n sekondêre staatskool in die Oos-Randse stad Boksburg, wat onderrig deur medium van Afrikaans sowel as Engels bied aan leerders van gr. 8 tot 12. Dit was in Januarie 1920 die eerste Afrikaansmedium-hoërskool aan die Rand.
Hoërskool Voortrekker | |
Leuse | Vorentoe |
---|---|
Gestig | 1920 |
Tipe | Openbare Hoërskool |
Hoof | MP van Heerden (1 Julie 1993) |
Personeel | 92 |
Leerlinge | 700+ |
Grade | 8-12 |
Stad | Boksburg |
Provinsie | Gauteng |
Land | Suid-Afrika |
Kleure | Blou, groen en geel |
Koshuis(e) | Retief, Potgieter, Pretorius |
Webblad | www.voortrekkerhs.co.za |
Die Britte se verskroeideaardebeleid het tot gevolg gehad dat duisende wanhopige Afrikaners ná die Driejarige Oorlog na die Witwatersrand gestroom het om op die goud- en steenkoolmyne te werk. Ná die oorlog het ds. Jimmy Louw van die NG gemeente Boksburg (die eerste NG gemeente aan die Oos-Rand) ’n veldtog begin vir die stigting van die eerste Afrikaansmedium-hoërskool aan die Rand. Die Hoërskool Voortrekker is begin deur ’n groep ouers, onder Louw se leiding, wat wou toesien dat hul kinders hul skoolloopbaan enduit in hul moedertaal kon deurloop.
In 1918 het die Oos-Randse Skoolraad ’n lewensvatbaarheidstudie uitgevoer om te bepaal of daar genoeg Afrikaanse leerders bo st. 5 was om ’n Afrikaansmedium te regverdig. Dié ondersoek het die behoefte aan ’n Afrikaanse sekondêre skool bevestig. Danksy Louw se onvermoeide ywer is die Oosrandse Hollandse Medium Hoërskool op 29 Januarie 1920 gestig. Dit het begin op ’n perseel langs die Boksburgmeer met 67 leerders en ses onderwysers. Aan die begin van die derde kwartaal van 1920 is dit herdoop tot Hoërskool Voortrekker.
Dié skool moes weens verskeie redes in 1999 dubbelmedium word.
Bronne
wysig- (en) Die skool se webtuiste Geargiveer 21 April 2013 op Wayback Machine. URL besoek op 28 April 2016.
- (af) Krüger, prof. D.W. en Beyers, C.J. (hoofred.) Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel III. Kaapstad: Tafelberg-Uitgewers, 1977.