Hoogspring is 'n velditem in atletiek waar deelnemers oor 'n horisontale lat (dwarslat) moet spring wat op vooropgestelde hoogtes geplaas word, sonder om van enige hulpmiddele gebruik te maak. Die lat word al hoër geplaas en die wenner word bepaal deur die persoon wat die hoogste sprong kon uitvoer.

Yelena Slesarenko tydens die Olimpiese Somerspele in 2004.
'n Hoogspringer seil naelskraps oor die dwarslat.

Die wêreldrekord vir mans is 2,45 meter en is in 1993 deur Javier Sotomayor van Kuba opgestel. Die wêreldrekord vir vroue is in 2024 verbeter na 2,10 meter. Die titelhouer is Yaroslava Mahuchikh van Oekraïne.

Geskiedenis

wysig

Hoogspring was aanvanklik in Engeland in die 19de eeu beoefen. Dit word in 1896 as Olimpiese sport vir mans ingestel en in 1928 vir vroue. Die reëls wat in 1865 opgestel is word tans steeds gebruik.

Reëls

wysig

Elke atleet kry drie beurte op elke hoogte. Hierdie hoogtes is vasgestel. Die atlete mag wel aan die dwarslat raak, maar hulle mag dit nie afstamp nie. 'n Atleet moet met slegs een voet vastrap vir die sprong. Indien 'n atleet minder as drie spronge benodig om oor die lat te spring, kan hy/sy na die volgende hoogte aanskuif.

As 'n atleet nie in sy/haar drie beurte kan oorspring nie, word die persoon uit die kompetisie geskakel. Die kompetisie hou aan tot al die atlete uitgeskakel is. Indien twee atlete dieselfde hoogte bereik het, word die een met die minste spronge as die wenner gekroon.

Atlete 1.87 1.90 1.93 1.96 1.99 2.02 Poging Mislukte pogings Hoogte Posisie
A - - XO XO XO XXX 2 3 1.99 1ste
B O - O O XXX 1 0 1.96 3de
C O - XO XO X-- XX 2 2 1.96 4de
D - XO O XXO XXO XXX 3 5 1.99 2de
E - - - XXX 5de

Tegnieke

wysig

Die tegniek wat deesdae algemeen gebruik word staan as die "Fosbury Flop" bekend. Met dié tegniek is dit moontlik om oor die dwarslat te spring terwyl die senter van gravitasie onder die dwarslat bly. Voor die "Fosbury Flop" ontdek is, is tegnieke soos die "scissors" en die "bride" ingespan.

Sien ook

wysig