Louise van Hesse-Kassel
Louise van Hesse-Kassel (Duits: Luise Wilhelmine Friederike Caroline Auguste Julie von Hessen-Kassel; 7 September 1817 - 29 September 1898) was koningin van Denemarke as die vrou van koning Christiaan IX.
Louise of Hesse-Kassel | |
---|---|
Koningin van Denemarke | |
Gemalin | 15 November 1863 – 29 September 1898 |
Huis | Hesse-Kassel |
Eggenoot | Christiaan IX |
Kinders | Frederik VIII van Denemarke Alexandra, koningin van die Verenigde Koninkryk George, koning van Griekeland Dagmar, keiserin van Rusland Thyra, kroonprinses van Hannover Prins Waldemar van Denemarke |
Gebore | Duitsland | 7 September 1817, Kassel,
Oorlede | 29 September 1898 (op 81), Gentofte, Denemarke |
Vader | Prins Willem van Hesse-Kassel |
Moeder | Prinses Charlotte van Denemarke |
Handtekening |
Afstamming
wysigLouise van Hesse was ’n afstammeling van ’n antieke Duitse prinslike familie, die landgrawe van Hesse, maar het van driejarige ouderdom af in Denemarke gewoon en het ook Deense voorouers.
Sy was die dogter van prins Willem van Hesse-Kassel en prinses Charlotte van Denemarke. As ’n susterskind van Christiaan VIII, wat tussen 1839 en 1848 oor Denemarke regeer het, was Louise baie na aan die troonopvolging ná verskeie individue van die koningshuis wat oud en kinderloos was. Sy was een van die vroue wat van Frederik III van Denemarke afgestam het en kon die troon geërf het as die manlike lyn sou uitsterf.
Huwelik
wysigLouise is op 26 Mei 1842 in Kopenhagen getroud met haar kleinneef prins Christian van die Huis van Sleeswyk-Holstein-Sonderburg-Glücksburg. Hy is kort daarna verkies tot erfprins van Denemarke en het later die troon bestyg as Christiaan IX. Die huwelik het Christiaan se pogings versterk om die Deense troon te verseker, want dit het twee mededingende aanspraakmakers verenig, en hul kinders sou ’n groter band hê met die antieke bloedlyne van die Deense monargie.
Louise en Christiaan het ’n stil gesinslewe gelei. Louise se ma en sibbes het in haar guns afstand van die troon gedoen. Louise self het afstand daarvan gedoen ten gunste van haar man.
In 1847 is prins Christiaan gekies as erfgenaam van die Deense troon deur Christiaan VIII, wat nie verwag het sy middeljarige seun, Frederik VII, sou nog enige seuns hê nie. Op 3 Julie 1853 het koning Frederik VII die opvolging goedgekeur en Christiaan en Louise het die kroonprins en -prinses van Denemarke geword.
Koningin van Denemarke
wysigOp 15 November 1863 het Christiaan en Louise die koning en koningin van Denemarke geword. Hul huwelik is as gelukkig beskryf. Haar steun was vir hom belangrik en hy het op haar intelligensie, oordeel en sielkundige krag staatgemaak. Hul lewenstyl was eenvoudig en hulle is beskou as moreel korrekte rolmodelle.
Louise het nie met die volk gemeng nie en nie aan staatsake deelgeneem nie. Haar politieke belangstelling was daarop gefokus om haar kinders in vooraanstaande dinastiese families te laat introu. Dit het sy reggekry, en hul kinders se hoë huwelike het die nuwe Deense dinastie se status internasionaal verhoog en Denemarke verbind aan die koningshuise van Groot-Brittanje, Rusland, Swede en Griekeland. Sy was bekend as die "skoonmoeder van Europa" en haar jaarlikse familiesaamtrekke by Bernstorff en Fredensborg het elke jaar groter aandag getrek en haar ’n simbool van die gesinslewe gemaak.
Louise was 35 jaar lank koningin, langer as enige ander Deense koningin voor haar. In die laaste jare van haar lewe het sy doof geword en was sy afhanklik van die diakonesse van die diakonesinstellings wat sy gestig het as deel van haar omvattende welsynprojekte.
Kinders
wysigChristiaan en Louise het ses besonder suksesvolle kinders gehad:
- Kroonprins Frederik van Denemarke, later Frederik VIII van Denemarke (3 Junie 1843 – 14 Mei 1912).
- Prinses Alexandra van Denemarke, later die koningin-gemalin van Edward VII van die Verenigde Koninkryk (1 Desember 1844 – 20 November 1925).
- Prins Wilhelm (24 Desember 1845 – 18 Maart 1913), later koning George I van Griekeland.
- Prinses Dagmar van Denemarke, later as Maria Fjodorowna die vrou van tsaar Aleksander III van Rusland (26 November 1847 – 13 Oktober 1928).
- Prinses Thyra van Denemarke, later die vrou van Ernst August van Hannover, 3de Hertog van Cumberland (29 September 1853 – 26 Februarie 1933).
- Prins Waldemar van Denemarke, (27 Oktober 1858 – 14 Januarie 1939).
Vier van hul kinders was óf die monarg óf die vrou van ’n monarg van Denemarke, die Verenigde Koninkryk, Rusland en Griekeland. ’n Vyfde, Thyra, sou koningin van Hannover geword het as haar man se monargie nie afgeskaf is net voor hy die troon sou bestyg nie. Waldemar is die troon van Bulgarye aangebied, maar moes onder druk afstand doen daarvan. Dié suksesse was veral danksy die pogings van Louise, wat in dié opsig met koningin Victoria van die Verenigde Koninkryk vergelyk is.
Christiaan en Louise se kleinseuns sluit in Nikolaas II van Rusland, Konstantyn I van Griekeland, George V van die Verenigde Koninkryk, Christiaan X van Denemarke en Haakon VII van Noorweë. Vandag is die meeste van die heersende en gewese heersende koninklike families van Europa direkte afstammelinge van hulle en van koningin Victoria.
Bronne
wysigEksterne skakels
wysig- Koningin Louise op die webtuiste van die Royal Danish Collections by Amalienborg-paleis
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Louise van Hesse-Kassel.
- Hierdie artikel is vertaal uit die Engelse Wikipedia