NG gemeente Worcester-Vallei
Die NG gemeente Worcester-Vallei is ’n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die dorp Worcester.
Ná die stigting van die eerste dogtergemeente van die NG gemeente Worcester op die dorp, naamlik Worcester-Oos in 1950, het die volgende plaaslike afstigting reeds in 1951 aan die beurt gekom. In November 1950 het die kerkraad van die moedergemeente besluit om die stigting van ’n nuwe gemeente aan die westekant van die dorp aan te beveel. Op die dorp sou Napierstraat die grens wees en die plaaswyke ten weste van Worcester sou binne die nuwe gemeente val. Die nodige stappe vir afstigting is gedien.
Op 3 September 1951 het die ringskommissie die stigting van die nuwe gemeente met die naam Worcester-Vallei amptelik aangekondig. Ongelukkig het enkele gesinne beswaargemaak en selfs die kerk verlaat. Ds. N.E. Nel van die moedergemeente was die konsulent van die nuwe gemeente en het daarin geslaag om die meeste ontevredenes tot beter insigte te bring. Die stadsraad het die jong gemeente gehelp deur grond baie billik beskikbaar te stel.
Nadat die tweede beroep geslaag het, kon die gemeente op 14 Maart 1952 hul eerste leraar in die persoon van ds. D.C.G. Fourie verwelkom. Hy het die hoeksteen van die kerkgebou op 6 Februarie 1954 gelê.
Enkele predikante
wysig- Dirk Cornelis Grobler Fourie, 1952 – 1957
- Johannes Marthinus Nicolaas Breedt, 1957 – 1962
Worcester se NG gemeentes
wysigDie syfers onder elke jaartal dui op die getal belydende lidmate wat in daardie jaar in die NG Kerk se Jaarboek weergegee word; dié syfer word gewoonlik 'n jaar of twee voor die tyd ingestuur na die samestellers van die Jaarboek. In sommige gevalle is dit reeds enkele jare oud wanneer dit verskyn.
Gemeente | 1960 | 1973 | 1979 | 1985 | 1990 | 1995 | 2000 | 2005 | 2010 | 2015 | 2016 |
---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|---|
Worcester | 2 595 | 2 791 | 2 758 | 2 087 | 2 041 | 1 952 | 1 514 | 1 461 | 1 484 | 945 | 919 |
Worcester-Audenberg | – | – | 600 | 977 | 1 064 | 1 045 | 1 194 | 1 095 | 1 182 | 1 055 | 1 055 |
Worcester-Brandwag | – | – | – | 571 | 670 | 688 | 815 | 829 | 839 | 755 | 755 |
Worcester-De la Bat | – | – | – | – | 101 | 114 | 115 | 134 | 198 | 252 | 252 |
Worcester-Noord | 1 559 | 1 224 | 1 487 | 1 550 | 1 688 | 1 648 | 1 570 | 1 535 | 1 535 | 1 429 | 1 429 |
Worcester-Oos | 1 080 | 903 | 797 | 895 | 888 | 860 | 807 | 869 | 860 | 742 | 712 |
Worcester-Vallei | 880 | 2 097 | 1 285 | 1 218 | 1 281 | 1 147 | 1 236 | 1 074 | 1 214 | 1 141 | 1 141 |
Totaal | 6 114 | 7 015 | 6 927 | 7 267 | 7 733 | 7 454 | 7 251 | 6 997 | 7 312 | 6 319 | 6 263 |
Bron
wysig- Heese, dr. J.A. 1970. Nederduitse Gereformeerde Kerk Worcester Gedenkboek, 1821–1971. Worcester: NG kerk.