Piet Muller
Piet Muller (*18 Junie 1938, Warden - ) is 'n joernalis, bekende rubriekskrywer, politieke kommentator, futuroloog en spiritualis. Hy skryf ook fiksie onder die skuilnaam Jan Mellet.
Lewe en werk
wysigPetrus Johannes Muller is op 18 Junie 1938 op Warden in die Vrystaat gebore, waar sy vader Piet vanaf 1933 tot ongeveer 1962 die skoolhoof was. Sy ma is Martie en hy het ’n broer, Ampie, wat later getroud is met N.P. van Wyk Louw se dogter Ria.[1]
Piet studeer aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, waar hy die B.A.-graad met hoofvakke wysbegeerte en staatsleer (cum laude) en die B.A. Honneurs-graad verwerf. Hierna verwerf hy ’n M.A.-graad aan die Universiteit van Kaapstad en hy promoveer (Ph.D.-graad) in Filosofie aan die Universiteit van Pretoria. Hy is ook ’n geregistreerde hipnoterapeut (CtH).
As joernalis begin hy in 1959 sy loopbaan by Die Volksblad in Bloemfontein, waarna hy van 1960 tot 1968 as uitgewer by Human & Rousseau in Kaapstad werksaam is en daarna tot einde 1977 in vennootskap ’n uitgewery onder die maatskappy Muller en Retief (Edms.) Bpk. bedryf. Van 1978 tot 1987 is hy assistent-redakteur van Beeld in Pretoria en hy word dan in 1987 stigter-redakteur van die tydskrif Insig en daarna in 1990 assistent-redakteur van Rapport. Vanaf 1993 doen hy vryskutwerk. Hy is ’n bekende rubriekskrywer, politieke kommentator en futuroloog en is medestigter van twee uitgewershuise, waaronder Academica.[2] As politieke joernalis ontvang hy die SFW-toekenning vir joernalisme vir sy bydrae tot die onderhandelings tussen die ANC en die destydse regering voor die oorgang na demokratiese regering in Suid-Afrika.
As skilder hou hy ook tentoonstellings van sy kunswerke, die eerste in 1994 in Galerie Estelle Rossouw in Lynnwood in Pretoria. Hy raak diep betrokke by spiritualisme, is medestigter van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit[3] en bedryf die blog www.spiritualiteit-in-aksie.com/ Geargiveer 15 September 2016 op Wayback Machine, waarin hy gereeld meningstukke skryf. Hy is getroud met Anne-Marie
Skryfwerk
wysig’n Keur uit die rubrieke wat hy vir Beeld in Beeld-Deurloop en vir die Afrikaanse radiodiens van die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) skryf word saamgebundel in Vir parrafienblik en simbaal.[4] Hierin kyk hy met nuwe oë na die alledaagshede rondom hom en beskryf telkens die ligter sy van elke saak.[5][6]
Piet Muller se gepubliseerde nie-fiksie boeke dek studievelde soos die teorie van vertaling, kommunikasiekunde, filosofie, kreatiwiteit, spiritualiteit en futurologie. Publikasies sluit in self-help boeke soos Sukses na vyftig, Visualisering: Gedagtes wat heelmaak. Hy skryf ook boeke oor die godsdiens, onder andere Die nuwe hervorming, waarin hy totaal breek met die tradisionele Christelike dogma en ’n benadering voorstaan waarin spiritualiteit as uitgangspunt gebruik word.[7] Die Evangelie van Thomas is ’n publikasie van hierdie antieke boek (met verklarende aantekeninge), waarin verlore gesegdes van Jesus opgeteken is. More is 'n nuwe spel is ’n boek oor die futurologie, wat ook in Engels uitgegee word as Tomorrow is a new game. Saam met George Claassen en Morkel van Tonder stel hy Die grootste Afrikaanse aanhalingsboek met aforistiese spreuke saam.
Hy skryf ook boeke onder die skuilnaam Jan Mellet. Manne van staal is ’n boek oor ontdekkers, wat onder andere insluit die Kon-Tiki ekspedisie, die Rus Joeri Gagarin wat die eerste mens in die ruimte was, die verowering van Everest en die ondersese avonture van Jacques Cousteau.[8]
Publikasies
wysigPiet Muller
wysigFiksie
wysigJaar | Publikasie |
---|---|
1982 | Vir paraffienblik en simbaal |
Nie-fiksie
wysigJaar | Publikasie |
---|---|
1978 | Die leefwêreld en die struktuur van die Suneideton |
1986 | Handwerk in klei |
1994 | Kreatiwiteit: vra is verpligtend |
1997 | Escape to creativity |
Die roos van stilte: tweeduisend jaar van Westerse meditasie | |
1998 | Die groot aanhalingsboek (saam met George Claassen en Morkel van Tonder) |
2001 | Meditasie- die gawe van stilte |
More is ’n nuwe spel | |
Sukses na vyftig | |
Visualisering: gedagtes wat heelmaak | |
2002 | Die Nuwe Hervorming |
2004 | Sal ons nog droom as ons dood is? |
Jan Mellet
wysigJaar | Publikasie |
---|---|
1960 | Manne van staal |
1965 | Stede uit die stof |
Bronne
wysigBoeke
wysig- Steyn, J.C. “Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel II” Tafelberg-uitgewers Beperk Eerste uitgawe 1998
Tydskrifte en Koerante
wysig- Erasmus, Elfra “Op 56 word ’n ou droom waar” “Beeld” 25 Augustus 1994
Verwysings
wysig- ↑ J.C. Steyn se “Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal Deel II” bladsye 821 en 853
- ↑ Who’s Who SA: http://whoswho.co.za/petrus-muller-3260 Geargiveer 14 Augustus 2017 op Wayback Machine
- ↑ Renaissance Spirituele Gemeenskap: http://www.renaissancegem.co.za/piet-muller.php Geargiveer 4 November 2015 op Wayback Machine
- ↑ Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Muller,_Piet
- ↑ Brink, André P. “Rapport” 3 Oktober 1982
- ↑ Johl, Ronél “Die Burger” 11 November 1982
- ↑ Christelike Kernensiklopedie: http://cke.christians.co.za/2016/03/23/muller-petrus-johannes-piet/ Geargiveer 3 Oktober 2018 op Wayback Machine
- ↑ Esaach: http://www.esaach.org.za/index.php?title=Mellet,_Jan