Pretoriabrug
Die Pretoriabrug is 'n hefbrug in Ottawa, Kanada. Dit oorspan die Rideaukanaal om die buurte Glebe en Centrewon met die Old Ottawa East-area te verbind. Die brug, wat in 1915 gebou is, het 'n hout swaaibrug op Argylestraat net noord van die nuwe brug vervang. Dit is 'n hefbrug, wat beteken dat die sentrale deel van die brug gelig kan word om bote onderdeur te laat vaar.[1]
In die laat sewentigerjare is daar ontdek dat padsout die brug ernstig beskadig het. Voorstelle is gemaak om 'n groter en hoër brug te bou. Teenstand is gebied deur dié wat die brug as 'n kultuurhistoriese struktuur beskou het. Uiteindelik is besluit om die brug te herbou, maar amper presies soos dit vantevore gelyk het.
Die brug is vernoem na Pretorialaan, waarvan dit 'n verlenging is. Dié straat was voorheen bekend as Janestraat, maar is in 1902 hernoem om die Britse oorwinning in die Anglo-Boereoorlog te vier en die Kanadese wat daar gedien het, te eer. Pretoria was die hoofstad van die destydse boererepubliek, Transvaal. Die naam het later kontroversieel geraak toe die meeste Kanadese dit met die apartheidsregime in Suid-Afrika begin assosieer het. In die laat tagtigerjare van die 20ste eeu is 'n beweging begin om die brug na Nelson Mandelabrug te herdoop (in 2003 is daar in Braamfontein, Gauteng, 'n brug geopen met hierdie naam). Dit is teëgestaan deur ander wat gevoel het dat dit 'n belangrike monument vir Kanadese is wat in Suid-Afrika geveg het. Die stadsraad het geweier om betrokke te raak en die naamwysigingsvoorstel het uiteindelik op niks uitgeloop nie.
Verwysings
wysig- ↑ "Pretoria Avenue Bridge". Heritage Ottawa. Besoek op 4 Januarie 2020.