Die skroefpalm (Pandanus livingstonianus) is 'n palmagtige boom wat egter tot 'n ander orde as die egte palms (familie Arecaceae) behoort. Slegs een Pandanus-spesie, P. livingstonianus, word in Suider-Afrika, naamlik in Oos-Zimbabwe en Mosambiek, aangetref. Die wetenskaplike naam herdenk die Skotse ontdekkingsreisiger David Livingstone (1813-1873) wat in een van sy geskrifte, "Die Zambezi en sy sytakke", na 'n soortgelyke plant verwys. Hulle groei tot 13 m hoog, is eensaadlobbig, en het soos die aalwyn 'n bywortelstelsel. Manlike en vroulike plante kom voor. Die skroefpalms het hul naam te danke aan die blare wat in 'n kompakte spiraal uit die stam groei. Die blare is in drie spirale bo mekaar en ewewydig aan mekaar rondom die vertakte stam ingeplant. Die plant en sy verwante is egter nie egte palms, soos die naam mag suggereer nie.

Skroefpalm
Versamelsteenvrug van 'n Skroefpalm
Wetenskaplike klassifikasie edit
Domein: Eukaryota
Koninkryk: Plantae
Klade: Tracheofiete
Klade: Angiospermae
Klade: Eensaadlobbiges
Orde: Pandanales
Familie: Pandanaceae
Genus: Pandanus
Spesie:
P. livingstonianus
Binomiale naam
Pandanus livingstonianus
Rendle, 1894
Sinonieme
  • P. gasicus Huynh
  • P. globulatus Huynh
  • P. mosambicius H.St.John ex Huynh
  • P. petersii Warb.
  • P. serrimarginalis H.St.John ex Huynh

Verspreiding

wysig
 
Voorbeelde met duidelike stutwortels op die oewer van 'n bergstroom in Mosambiek
 
Blare en vrugte

Die palm is inheems aan Mosambiek, Malawi, Zambië, DRK en Angola.[1] In Suider-Afrika kom dit voor in die suide en noorde van Mosambiek, asook in dele van Manika-provinsie wat aan Zimbabwe se oostelike hooglande grens.

Beskrywing

wysig

Die blare is lank en smal met skerp gekromde stekels langs die rande af, en by laer blare ook langs die hoofaar.[2] Die bondels steltagtige stutwortels herinner aan manglied, en is kenmerkend van die boom. Die saamgestelde vrugte lyk na pynappels, en elke afgeplatte steenvruggie is vyfkantig.[2]

Verbouing en gebruik

wysig

Hierdie boompie word in tuine aangeplant, en veral langs strande omdat dit gehard is. Die hout is weerstandbiedend teen termietskade.

Verwante spesies

wysig

Spesies van die familie Pandanaceae word slegs in die trope en die subtrope aangetref. Sowel die bloeiwyse as die gedroogde blare van spesies soos Pandanus tectorum ruik baie lekker. Die egte skroefpalms (familie Pandanaceae) is 'n tropiese familie van bome en liane wat tot die Ou Wêreld beperk is. Die plante vorm dikwels lugwortels wat tot steltwortels ontwikkel wanneer hulle die grond bereik. Die blomme het geen kelk of kroon nie en staan byeen in kolfvormige bloeiwyses, wat soms deur groot, opvallend gekleurde skutblare omring is.

Die vrugte van Pandanus edulis lyk baie soos pynappels en word op die eiland Madagaskar geëet. Hulle is opgebou uit 'n groot aantal vlesige, seshoekige vruggies wat elkeen nog 'n draadvormige swart styl het. Van die blare van verskeie Pandanus-spesies word matte gevleg, terwyl kwaste van die wortels gemaak word. Vir die doel word die wortels geskraap en vervolgens gespoel sodat die lang vesels van mekaar loskom.

Pandanales-orde

wysig

Volgens sommige klassifikasiestelsels bevat die orde slegs een familie, naamlik die egte skroefpalms (familie Pandanaceae), maar volgens ander stelsels word die families Spargianaceae en Typhaceae ook by hierdie orde ingesluit. Die verteenwoordigers van die ander twee families is moeras- of waterplante en word meestal in die gematigde wêrelddele aangetref.

Die verteenwoordigers van die Pandanales is houtagtige of kruidagtige plante, dikwels waterplante, met parallelarige, enkelvoudige blare. By die egte skroefpalms (familie Pandanaceae) is die blare skroefvormig op die stam ingeplant en groei in drie spirale rondom die vertakte stam. Sowel die blare as die blomme en vrugte van die skroefpalms verskil van die van die egte palms. Die wetenskaplike naam van die familie en orde is afgelei van die genus Pandanus, en dié is weer afgelei van die Maleise woord pandan, wat "welriekend" beteken. Die egte skroefpalms is tweehuisig, met ander woorde manlike en vroulike blomme word op afsonderlike plante gedra. Die swewende lugwortels het opvallend groot wortelmussies aan hul punte waarin soms klein orgidee of varinkies groei ("hangende blompotte").

Verwante families

wysig

Die Sparganiaceae bestaan uit ongeveer 20 spesies wat almal tot die genus Sparganium behoort, en waarvan die meeste in die Noordelike Halfrond voorkom. Hulle is moeras- of waterplante met smal, parallelarige blare wat in twee rye op 'n wortelstok ingeplant is. Die blomme is in trosse of are gerangskik. Die manlike blomme het 3 tot 6 meeldrade, waarvan die helmdrade soms vergroei is. Die vroulike blomme staan in die oksel van die skutblare.

Die familie Typhaceae is eweneens moeras- of waterplante. Die familie bestaan slegs uit een genus, Typha, waarvan daar wêreldwyd ongeveer 25 spesies voorkom. Een daarvan, Typha latifolia subspesie capensis, is die bekende papkuil, wat wydverspreid in Suider-Afrika voorkom. Al die Typha-spesies is plante met lang, lintvormige blare wat op ʼn wortelstok ingeplant is. Die blomme is dig teenmekaar in silindervormige bloeiwyses gerangskik. Die vroulike are staan onder die manlike are en hulle word deur 'n skutblaar geskei. Hierdie bloeiwyses is gewild in blommerangskikkings.

Kyk ook

wysig

Bronne

wysig

Verwysings

wysig
  1. http://globalspecies.org/ntaxa/1219937[dooie skakel]
  2. 2,0 2,1 Wright, C. H. (1902). PANDANUS livingstonianus Rendle [family PANDANACEAE]. Vol. 8. Royal Botanic Gardens, Kew. p. 127. Besoek op 15 Desember 2014.