Valse vriende
Valse vriende is die benaming wat gebruik word om te verwys na woorde van twee tale waarvan die vorm byna of geheel en al dieselfde is, maar waarvan die betekenis grootliks of soms net subtiel verskil. Daar kan dus maklik 'n verwarring ontstaan wanneer 'n taalgebruiker 'n anderstalige woord van dieselfde vorm teëkom en dus dieselfde betekenis verwag, terwyl die woord in der waarheid 'n ander betekenis het.
Hierdie verwarring kan dan manifesteer in weersprekings, vertaalfoute of in 'n verkeerde begrip. Dit kan aanleiding gee tot verwarring of verleentheid weens die onbedoelde betekenis, en kan 'n onverwagte uitwerking ten gevolg hê.[1] Dit kan ook gebruik word om 'n humoristiese effek te verkry.
Die verskynsel kan nie net tussen twee verskillende tale voorkom nie, maar ook tussen variante van dieselfde taal. Die term valse vriende is vir die eerste keer in 1928 in Frans gebruik (faux amis), in die boek Les faux amis ou les trahisons du vocabulaire anglais deur Maxime Koessler en Jules Derocquigny.[2]
Ontstaan
wysigValse vriende kan op verskeie maniere ontstaan.
Historiese verwantskap
wysigBaie tale deel 'n historiese verwantskap. So behoort onder meer die Skandinawiese tale, Afrikaans, Duits, Nederlands, Fries en Engels almal tot die Germaanse tak van die Indo-Europese taalfamilie. Die verwantskap kom neer op 'n aantal aspekte, onder andere die woordeskat. 'n Groot deel van die Afrikaanse (en daardeur Nederlandse) woordeskat bestaan uit kognate met die nou verwante Germaanse tale, terwyl ander dele weer 'n ander (byvoorbeeld Latynse) oorsprong het, en dus direk of indirek met woorde van ander tale verwant is. Woorde kan egter met verloop van tyd onherkenbaar verander, sowel in vorm as in betekenis.
- Die Duitse woord Meer (in Afrikaans, see) en die Afrikaanse kognaat meer gaan albei terug na dieselfde voorouer, maar die betekenisse het uiteengegroei, en die twee woorde het daardeur valse vriende geword. Dieselfde geld vir die Duitse woord See (in Afrikaans meer).
- Die Afrikaanse/Nederlandse woord tuin, die Duitse kognaat Zaun en die Engelse kognaat town gaan al drie terug na dieselfde Oergermaanse grondwoord *tūna- wat "omheining" beteken.[3] Duits behou die Zaun in die betekenis "omheining" of "heining".[4] In Engels en Nederlands verskuif die betekenis na "die gebied binne die omheining", met die Engelse woord wat mettertyd verander na die nuwe betekenis "klein tot middelgrote stad". 'n Stad was in vroeëre tye gereeld 'n omheinde bolwerk.
Hierdie uiteengroeiing is nie noodwendig 'n verskynsel uit die verre verlede nie. Die verskille in betekenis tussen Britse en Amerikaanse Engels, of tussen Spaans uit Spanje en Spaans uit Suid-Amerika dui daarop aan dat die betekenis van woorde voortdurend verander.
- Die Afrikaans/Nederlandse woord bederf is 'n gedeeltelike valse vriend. In Afrikaans (Jy bederf die kind) staan bederf nader aan die Engelse dubbelsinnigheid. 'n Kind wat bederf word, kan soos in spoiled (Engels) oorlaai word met geskenke, toegeeflikheid of vergemakliking, wat nie altyd in 'n negatiewe betekenis bedoel word nie, soos te sien in die sin: "...said the Black Panther, who would have spoiled Mowgli if he had had his own way..." En tog bestaan ook die sin: Spare the rod and spoil the child. (Afrikaans: Wie die roede spaar, bederf sy kind).
- In Nederlands word bederf alleen in die sin van spaar de roede en je bederft het kind gebruik, dus, uitsluitlik negatief: jy korrupteer die kind. Die meer neutrale woord sou wees: verwen. Vergelyk die volgende sin: Verwennen in de trent van "mijn kind mag alles hebben waar hij om vraagt", is niet goed, men is een kind aan het bederven.
- Soortgelyke betekenisverruiming vind ook wel in Nederlands plaas: makelaar is in Nederlands en Afrikaans die vertaalekwivalent van die Engelse broker. In Afrikaans word die betekenis gegee: Persoon wat as agent tussen 'n koper en verkoper, dikw. 'n produsent en verbruiker, optree by koop- en verkooptransaksies van goedere, produkte, aandele, effekte of versekering.[5] In Nederlands het makelaar 'n veel soepeler betekenis: tussenhandelaar (tussen enige koper en verkoper, wat ook vaste bates insluit). In die ouer Nederlands was makelaar die vertaalekwivalent van die Latynse proxeneta, mediator, pacarius, pararius, mediator in contractibus, sequester, interventor, transactor. Die Nederlandse "makelaar" word in die Franse volksmond maquignon (handelaar), veral in maquignon de chevaux (letterlik: handelaar van perde).[6] Later sou alleen die woord maquignon hoofsaaklik perdehandelaar beteken. In Nederlands kan makelaar daarom ook eiendomsagent beteken – 'n tussenhandelaar tussen die koper en die verkoper. Eiendomsagent in Afrikaans is egter 'n leenvertaling van die Engelse property agent. Vergelyk Duits wat Immobilienmakler, Grundstückshändler, Immobilienhändler, Immobilienvermarkter, ens. gebruik).
Leenwoorde
wysigTale neem ook woorde oor uit ander soms onverwante tale. Afrikaans het 'n hele aantal woorde uit byvoorbeeld Maleis, Khoisan tale, Bantoe tale en Engels oorgeneem. Die oorspronklike betekenis van die leenwoorde word nie altyd goed begryp nie, en kry dan 'n ander betekenis in die lenende taal, of hul betekenis verskuif nadat die woord oorgeneem is. So beteken conducteur in Frans byvoorbeeld "bestuurder", maar in Nederlands het dit die gangbare term vir 'n kaartjie-kontroleerder geword. Dit is nie altyd duidelik of 'n bepaalde geval die oorsaak van 'n misverstand of van 'n gewone betekenisverskuiwing is nie.
Toeval
wysigWoord kan ook deur blote toeval sterk na mekaar lyk, terwyl die betekenis verskillend (en soms selfs teenoorgesteld) is.
- In Engels en Frans beteken air "lug", in Maleis beteken dit "water".
- In Iers is an 'n bepaalde lidwoord, terwyl dit in Engels 'n onbepaalde lidwoord is.
Voorbeelde
wysigNederlands en Afrikaans
wysigHier volg 'n paar Nederlandse voorbeelde, met die Afrikaanse betekenis langsaan:[7]
Valse vriend | Nederlandse betekenis |
---|---|
aanranden | onsedelik aanrand |
aardig | vriendelik |
agent | polisieman |
amper | net-net |
beest | gedierte/dier |
bekaf | uitgeput |
braaf | goed, gaaf, deugsaam |
bloot | naak |
dadelijk | oor 'n rukkie |
dam | damwal |
deken | kombers |
drift, dreef | pad vir aanjaag van grootvee |
flikker | homoseksueel (kwetsend) |
geil | bronstig, jags |
gemeente | munisipaliteit |
inpakken | toedraai |
kattenkop | nie "katkop" (brood met slaptjips gevul) nie, maar belediging vir katterige jongmeisies. |
kies | kiestand |
hou je kop! | hou jou bek! |
hou van jou | lief vir jou |
kombuis | skeepskombuis |
kop | dierekop; hoofd vir 'n mens |
limoen | suurlemoen |
motor | motorfiets / enjin |
neuk | soortgelyk aan "fok" |
onnozel | onskuldig, naïef |
opgave | taak, vraagstuk, voorstelling |
opgefokt | op sy perdjie, opgewerk, gelaai, gespanne, aangehits, siedend |
paardenfokker | perdeteler |
pijnappel | dennebol |
poot (slêng) | nie "polisieman" nie, maar "homoseksueel" |
raam | venster |
rad – raderen | rat – ratte |
rat – ratten | rot – rotte |
rot | vrot |
schop | graaf |
simpel | ongekompliseerd |
sluiten | toemaak |
scharminkel | 'n lang, skraal persoon |
stoep | sypaadjie |
taart | koek |
trappen | om te skop |
vaak | dikwels |
vervelend | irriterend, lastig |
vies | vuil |
vinnig | bitsig |
voetbal | sokker |
wonderlijk | vreemd, verrassend |
zelfbewust | selfversekerd, selfingenome |
Duits en Afrikaans
wysigValse vriend | Duitse betekenis |
---|---|
abdanken | nie "afdank" nie, maar "bedank" uit 'n posisie. |
abfällig | nie "afvallig" nie, maar "neerhalend" of "kwetsend". |
Abhandlung | nie "afhandeling" nie, maar "verhandeling". |
abrichten | nie "afrig" van atlete (wel diere) nie, maar "afwerk", ens. |
absagen | nie "afsê" nie, maar "kanselleer" of "aanbod weier". |
Absprache | nie "afspraak" nie, maar "ooreenkoms", "konvensie" of "konsultasie". Vgl. afspraak in Nederlands |
ächten | nie "(hoog)ag" nie, maar "ostraseer", "voëlvry verklaar", "proskribeer", ens. |
Aktie | nie "aksie" nie, maar "aandeel". |
aktualisieren | nie "aktualiseer" nie, maar "bywerk" of "op datum bring". |
Ambulanz | eerstens 'n "kliniek" of "buitepasiënt-afdeling" van 'n hospitaal. |
Andacht | nie "aandag" nie, maar "oordenking" of "dagstukkie". |
andächtig | nie "aandagtig" nie, maar "geweid", "eerbiedig" of "godsdienstig". |
Andrang | nie "aandrang" nie, maar "toeloop", "toestroming", "kongestie" of "indringing". |
anfällig | nie "aanvallig" nie, maar "vatbaar". |
anhalten | wel "voortduur" of "volhou", maar ook "iets ophou", "aftrek", "stilhou", "verpoos" of "behou". |
anranzen | nie "aanrand" nie, maar "uitraas" of "uittrap". Kyk ook aanranden in Nederlands |
anschaffen | nie "aanskaf" nie, maar "prostitueer". Vgl. wel "sich etw. anschaffen" |
Ansprache | nie "aanspraak" nie, maar "toespraak" of "voordrag". |
artig | nie "aardig" nie, maar "beleefd" of "goedgemanierd". Vgl. aardig in Nederlands |
Aufenthalt | nie "oponthoud" nie, maar "verblyf". |
Aufgabe | nie "opgawe" nie, maar "taak", "plig", "missie", ens. Vgl. opgave in Nederlands |
Auflage | benewens "oplaag" ook 'n "verpligting", "vereiste", "spesifikasie" of "voorbehoud". |
auflesen | nie "oplees" nie, maar "optel". |
Augenmerk | nie "oogmerk" nie, maar "aandag". |
Ausbildung | nie "uitbeelding" nie, maar "opvoeding". |
auskennen | nie "uitken" nie, maar "ingelig", "belese" of "bedrewe", d.w.s. "jou storie ken". |
Auskunft | nie "uitkoms" nie, maar "inligting" of "openbaarmaking". |
ausrasten | 'n "ruskans neem" eerder as "uitrus", maar tipies "oorboord gaan" of "bohaai maak". |
ausreichen | nie "uitryk" nie, maar "voldoen" of "toereikend wees". |
ausspannen | nie "uitspan" nie, maar "aftakel", "stroop", "sloop" of "oopknip". |
ausstrahlen | wel "uitstraal", maar veral "uitsaai" of "beeldsend". |
Beere | nie "bier" nie, maar "bessie" (vrug). |
befestigen | nie "bevestig" nie, maar "vasmaak" of "konnekteer". |
begnadet | nie "begenadigd" nie, maar "buitengewoon begaafd". |
Bekenntnis | nie "bekentenis" nie, maar "beleidenis"; ook "toeweiding" tot ..., of "handhawing" van ... |
belangen | nie "belange" nie, maar "vervolg" of "bestraf". |
belasten | wel "belas", maar ook "beskuldig" of "inkrimineer". |
Beleg | nie "beleg" nie, maar "bewys", "stawing", "dokument", "kwitansie", ens. |
belegen | nie "belê" nie, maar "bewys", "staaf", "bedwing" of etlike ander. |
Beschilderung | nie "beskildering" nie, maar "wegwysering" of "padaanduiding", ens. |
bestellen | wel "bestel", maar ook "ontbied", 'n plek "bespreek", "aanstel" of ander. |
bequem | nie "bekwaam" nie, maar "gemaklik" of "gerieflik". |
bereit | benewens "bereid", ook "gereed". |
beschwerlich | nie "beswaarlik" nie, maar "moeitevol" of "uitputtend". |
besichtigen | ook "besigtig", maar eerstens "besoek aflê" of "deurwandel". Vgl. bezichtigen |
Besteck | nie "bestek" nie, maar "eetgerei". |
Bewehrung | nie "bewering" nie, maar "bewapening" of "pantsering". Vgl. Bewährung, d.i. "parool" |
Bogen | wel "boog" of "strikkie", maar ook "blad" of "vel papier". |
Borste | nie "bors" of "borste" nie, maar "borselhaar" of "stoppel". Vgl. bristle in Engels |
Botschafter | nie "boodskapper" nie, maar "ambassadeur". |
darstellen | meestal nie "daarstel" ('n germanisme vir skep of teweegbring)[8] nie, maar "verteenwoordig". |
deftig | nie "deftig" nie, maar "stewig" (in konteks van 'n maaltyd of voedsel). |
Depot | benewens "depot" of "opslagplek", ook 'n "portefeulje". |
doof | nie "doof" nie, maar "dom" of "onnosel". |
Einhalt (gebieten) | nie "inhoud" nie, maar "bedwing", "stuit" of "ten einde bring". |
einstellen | wel "instel", maar ook "mik", "aanstel", "plaas", "afsit", "staak", "opskort" of "ontstaan". |
eintragen | nie "indra" nie, maar "inskryf" of "registreer". |
Enkel | nie "enkel" (gewrig of eenmalig) nie, maar "kleinkind". |
Enkelkind | nie "enkelkind" nie, maar "kleinkind". |
entbieten | nie "ontbied" nie, maar "toewens", "oordra", ensomeer. |
Entbindung | nie "ontbinding" nie, maar "bevalling" of "verlos-" / "kraam-". |
erkennen | nie "erken" nie, maar "sien", "bemerk", "herken" of "uitken". Vgl. verkennen |
falsch | nie "vals" nie, maar "verkeerd". |
Fliege | benewens 'n "vlieg" ook 'n "strikdas". |
Flur (der) | nie "vloer" nie, maar "gang" of "deurgang". Vgl. wel die Flur in landbou of geologie. |
Forderung | nie "vordering" nie, maar 'n "eis". |
fördern | nie "vorder" nie, maar "bevorder", "promoveer", "hupstoot gee" of "borg". |
Gegenstand | nie "teenstand" nie, maar "objek", "item", "artikel", "tema" of "artefak". |
Gehalt | nie "gehalte" nie, maar "inhoud", "opbrengs", "salaris", ens. |
Gelage | nie "gelag" nie, maar "fees" of "gefuif". Vgl. "die gelag betaal"[9] |
geschickt | nie "geskik" nie, maar "behendig", "vaardig" of "vindingryk". |
gesellig | meestal nie "gesellig" nie, maar "sosiaal" of "in kudde lewe". |
Geschwätz | nie "geswets" nie, maar "geklets" of "gebabbel", ens. Vgl. gezwets in Nederlands |
Gewalt | wel "geweld", maar ook "heerskappy" of "mag". |
Gruß | wel 'n "groet", maar ook "eerbetoon", "saluut" of "kompliment". |
Hahn | wel 'n "haan", maar ook 'n "waterkraan". |
Handhabung | nie "handhawing" nie, maar "hantering", "manipulasie" of "bestuur". |
herstellen | nie "herstel" nie, maar "vervaardig", "tot stand bring", "(voor)berei", "saamstel", ens. |
Huld | nie "hulde" nie, maar "genade", "guns" of "geseëndheid". |
Kampf | nie "kamp" nie, maar "stryd". Vgl. "bekamp" |
Kapsel | nie "kapsel" (d.w.s. haarkapsel of -tooisel) nie, maar "kapsule". |
Karosse | nie "karos" nie, maar "bakwerk" of "karosserie". |
Karree | nie "karee" nie, maar 'n "blok" of "vierkant" as bouvorm, gevegsformasie, ens. |
klar | nie "klaar" of "gereed" nie, maar "helder" of "duidelik". Vgl. "klinkklaar" |
klauen | nie "klou" nie, maar "steel" of "vaslê". |
Kleinkind | nie "kleinkind" nie, maar "kleuter". |
Kommando | nie "kommando" in eerste instansie nie, maar "bevel" of "opdrag". |
Kopfbein | nie "kopbeen" (skedel) nie, maar die "os capitatum", deel van die handwortelbeentjies. |
Korn | nie "koring" nie, maar "graan" of "grein". |
Krach | nie "krag" nie, maar "geraas", "rumoer" of "ophef". |
Kratt | nie 'n "krat" nie, maar "struikbos" of "ruigte". |
Kreis | nie "kruis" nie, maar "sirkel", "kring", "kringloop" of "siklus". |
Kreuzfahrt | nie "kruisvaart" / "kruistog" nie, maar "plesierbootvaart". Vgl. cruise in Engels |
Lage | nie "lae" of "laagte" nie, maar "posisie", "situasie" of "omstandigheid". |
Lager | benewens 'n "laer" of "lager" ook 'n "stoorplek", of die "voorraad" daarvan. |
Laster (der) | nie "laster" nie, maar "vragmotor". |
Laster (das) | nie "laster" nie, maar "ondeug" of "bandeloosheid". |
lauschen | eerder "afluister" as "luister". |
lauter | wel "louter" of "suiwer", maar ook "eerlik" of "eerbaar". |
Lebensmittel | nie "lewensmiddel" in die breë (medisyne, klere of behuising) nie, maar "voedsel" of "proviand". |
ledig | nie "ledig" nie, maar "ongehuud" of "enkellopend". |
Lokal | nie 'n "lokaal" in die breë nie, maar 'n "taverne" of "kroeg". |
Lust | dikwels nie "(wel)lus" nie, maar "plesier". |
Mangel | nie "mangel" nie, maar "gebrek", "afwesigheid" of "tekortkoming". |
merkwürdig | nie "merkwaardig" nie, maar "eienaardig" of "raar". |
Moderator | wel "moderator", maar ook "gasheer". |
Meer | nie "meer" nie, maar "see". Vgl. See |
Mond | nie "mond" nie, maar "maan". |
Nachfolge | nie "nagevolg" nie, maar "op(een)volging", ens. |
Nachfrage | nie "navraag" nie, maar "aanvraag" of "behoefte". |
nachgehen | nie "nagaan" nie, maar "agter wees" of "agter raak", ens. |
nachlassen | nie "nalaat" nie, maar "kwyn", "afneem" of "slaplê". |
nachsehen | wel "nasien", maar ook "versien" of "bekyk". |
Neffe | nie "neef" nie, maar "manlike broers-/susterskind". |
Nichte | nie "niggie" nie, maar "vroulike broers-/susterskind". |
niedrig | nie "nederig" nie, maar "laag", "gemeen" of "onwaardig". (fig. neutraal tot negatief) |
offenbar | nie "openbaar" nie, maar "blykbaar" of "duidelik". |
Öffentlichkeit | nie "openlikheid" nie, maar "publiek", "samelewing" of "publisiteit". |
Otter | benewens 'n "otter" ook 'n "adder". |
Parole | nie "parool" nie, maar "slagspreuk" of "wekroep". |
peinlich | nie "pynlik" nie, maar "as verleentheid ondervind" of "jou skaam vir". |
Pension | nie "pensioen" nie, maar "losieshuis" of "klein hotel". |
Perspektive | wel "perspektief", maar ook "vooruitsig" of "kans" op 'n uitkoms of situasie. |
Postbus | nie 'n "briewebus" nie, maar 'n vervoermiddel. |
probieren | nie "probeer" nie, maar "proe" of "uittoets". |
Rampe | nie "katastrofe" nie, maar "laaiplatvorm" of "helling" in tegniese konteks. |
Rente | nie "rente" nie, maar "pensioen". |
rüstig | nie "rustig" nie, maar "opgewek", "kranig", "energiek" of "lewenskragtig". Vgl. Rüstigkeit |
Schnörkel | nie "snorkel" nie, maar "krulletjie" of "versiering". Vgl. Schnorchel |
See | nie "see" nie, maar "meer". Vgl. Meer |
Seil | nie "seil" nie, maar "tou" of "koord". |
selbstbewusst | nie "selfbewus" nie, maar "selfversekerd". Vgl. zelfbewust in Nederlands |
seltsam | nie "seldsaam" nie, maar "sonderling" of "eienaardig". |
Span | nie 'n "span" nie, maar 'n "spaander", "splinter", "skerf" of "fynhout". |
spendabel | nie "spandabel" nie, maar "vrygewig". |
spontan | nie "spontaan" nie, maar "op ingewing van die oomblik" of "impulsief". |
stramm | nie "stram" of "styf" nie, maar "stewig". |
Strauß | wel "volstruis", maar ook 'n "ruiker". |
Tafel | nie "tafel" nie, maar "tabel", "tablet" of "skoolbord". |
Tapete | nie "tapyt" nie, maar "plakpapier". |
Tasche | nie "tas" nie, maar "hemp-/broeksak", "sak", "buidel", "briewetas", ens. |
Tasse | nie "tas" nie, maar "teekoppie". |
Teilnahme | wel "deelname", maar ook "belangstelling", "meegevoel", "leedwese" of "medelye". |
Teller | nie "telapparaat" nie, maar "bord" of "skaal". |
Termin | soms 'n "termyn", maar tipies 'n "afspraak" of "sperdatum". |
trotz | nie "trots" nie, maar "ondanks". |
trotzig | nie "trots" nie, maar "stuurs", "astrant" of "nors". |
überflügeln | nie "oorvleuel" nie, maar "verbysteek". |
überflüssig | nie "oorvloedig" nie, maar "oorbodig". |
übrigens | nie "origens" nie, maar "terloops". Vgl. overigens in Nederlands |
unberechenbar | "volatiel" of "onvoorspelbaar", eerder as "onberekenbaar". |
Unterhaltung | nie "onderhouding" nie, maar "vermaak". |
Unterlagen | nie "onderlae" nie, maar "dokumentasie", "datastel", ens. Vgl. Unterlage, d.i. "substraat" |
unterschreiben | nie "onderskryf" nie, maar "onderteken". |
Unterschrift | nie "onderskrif" nie, maar "handtekening". |
unwillig | nie "onwillig" nie, maar "beswaard wees" of "aanstoot neem". |
Verband | soms 'n "verband", maar tipies 'n "unie", "assosiasie" of "federasie". |
verfolgen | nie "vervolg" nie, maar "navolg", "naspoor", ens. |
verhandeln | nie "verhandel" nie, maar "onderhandel", "kibbel" of "disputeer". |
verkennen | nie "verken" nie, maar "vergis", "mistas" of "misken". Vgl. erkennen |
Verlies | nie "verlies" nie, maar "kerker" of "put". |
Verlosung | nie "verlossing" nie, maar "tombola" of "lotery". |
versagen | nie bloot "verseg" nie, maar eerder "misluk", "breek" of "meegee". |
versäumen | wel "versuim", maar ook "verpas", "misloop" en ander. |
Verschlag | nie 'n "verslag" nie, maar 'n "loods" of "krat". |
verschlagen | nie "verslaan" of "verslae" nie, maar "onderduims", "slu" of "agterbaks". |
Versorgung | nie "versorging" nie, maar "proviand", "voorraad" of "akkommodasie". |
versprechen | nie "verspreek" nie, maar "belowe". |
versuchen | nie "versoek" nie, maar "probeer" of "verlei". |
vertagen | ook "verdaag", maar veral "uitstel". |
Vertonung | nie 'n "vertoning" nie, maar 'n "toonsetting". |
Volkslied | nie 'n "nasionale volkslied" nie, maar 'n "ou populêre lied". |
vollmundig | nie "volmondig" nie, maar "grootpraterig". |
vorgeben | wel "voorgee", maar ook "voorskryf". |
wacker | nie "wakker" nie, maar "onverskrokke" of "dapper". |
wandeln | nie "wandel" nie (wel poëties, "bewandel"), maar "verander". |
Werft | nie "werf" nie, maar "skeepswerf". Vgl. wharf in Engels |
Wette | nie "wet" of "wette" nie, maar "weddenskap". |
wie | nie "wie" nie, maar "hoe". |
Winkel | nie "winkel" nie, maar "hoek" (meetkunde). |
wirken | nie "werk" nie, maar "blyk", "lyk", "fungeer", "verrig" of "uitwerking hê". |
zierlich | wel "sierlik" of "grasieus", maar meer dikwels "tengerig", "broos" of "verpot". |
Zirkel | nie "sirkel" nie, maar "passer". |
Zuname | nie "toename" nie, maar 'n "van". Vgl. Zunahme |
Engels en Afrikaans
wysigValse vriend | Engelse betekenis |
---|---|
billion | nie "biljoen" nie, maar miljard. |
brave | nie "braaf" nie, maar "dapper". |
brutal | nie "brutaal" (d.i. parmantig) nie, maar "onmenslik" of "afgryslik". |
compensation | wel "kompensasie" (d.i. aanvulling), maar ook "vergoeding". |
decadence | nie "dikkedensie" (d.i. verknorsing) nie, maar "degenerasie". |
eventual | nie "eventueel" (d.i. dalk, gebeurlik) nie, maar "uiteindelike". |
journal | nie 'n "joernaal" (d.i. dag- of logboek) nie, maar "vaktydskrif". |
royal | nie "rojaal" (d.i. kwistig of oordadig) nie, maar "koninklik". |
Sweeds en Afrikaans
wysigValse vriend | Sweedse betekenis |
---|---|
by | nie "neffens" nie, maar "dorp" of "buurt". |
chef | nie "sjef" nie, maar "bestuurder" (van 'n besigheid). |
delikat | nie "delikaat" nie, maar "smaaklik". |
dig | nie "kompak" nie, maar "jou". |
dog | nie die verlede tyd van "dink" nie, maar die verlede tyd van "sterf". |
gift | wel "gif", maar ook "getroud". |
hot | nie "links" nie, maar bedreiging. |
kind | nie "kind" nie, maar "ken". |
kostym | nie "kostuum" nie, maar "pak" (wat 'n sakeman dra). |
öl | nie "olie" nie, maar "bier". |
olik | nie "siek" nie, maar "anders" (dit wil sê, nie dieselfde nie). |
puss | nie "poes" nie, maar "soen". |
semester | nie "semester" nie, maar "vakansie". |
sex | nie "seks" nie, maar "ses". |
Duits en Engels
wysigValse vriend | Duitse betekenis | Engelse betekenis |
---|---|---|
Ass / ass | aas-speelkaart / meester | esel |
Bad / bad | bad | sleg |
bekommen / become | verkry | word |
Bravo / bravo | sluipmoordenaar | welgedaan! |
Chef / chef | baas | kok |
eventuell / eventual | dalk | uiteindelike |
Gymnasium / gymnasium | hoërskool | gimnasium |
Handy / handy | selfoon | nuttig |
Kommando / kommando | bevel | gevegseenheid |
Korn / corn | graan | mielies (Amerikaans) |
Labor / labour | laboratorium | arbeid |
Obduktion / abduction | nadoodse ondersoek | ontvoering |
Präservativ / preservative | kondoom | preserveermiddel |
Ressort / resort | departement | toevlugsoord |
Sensibilität / sensibility | sensitiwiteit | ontvanklikheid |
winken / wink | wink | oogknip |
Latyn en Italiaans
wysigValse vriend | Latynse betekenis | Italiaanse betekenis |
---|---|---|
lapis | steen, mylpaal grenssteen marmer (gal)steen domkop, lummel grafsteen standbeeld juweel/edelsteen (poëties) |
potlood (ook matita) |
Latyn en Spaans / Portugees
wysigValse vriend | Latynse betekenis | Spaanse / Portugese betekenis |
---|---|---|
proxeneta | (onder)handelaar, makelaar |
hoerboer, hoer(e)waard (NL: pooier) |
Verwysings
wysig- ↑ Carstens, W.A.M. en Raidt, E.H. Die storie van Afrikaans, Deel 1, Hoofstuk 10, Oor ‘valse vriende’
- ↑ (en) Pedro José Chamizo-Dominguez in Keith Brown (2009), Concise Encyclopedia of Semantics, p.308.
- ↑ etymologiebank.nl: s.v. tuin
- ↑ Duden.de: s.v. Zaun
- ↑ WAT
- ↑ Woordeboek der Nederlandse Taal, s.v. makelaar.
- ↑ (af) Ponelis, F.A. : "Inleiding tot die Afrikaanse taalkunde." Botha/Ponelis/Combrink/Odendal (Reds.), Ruimtelike klassifikasie. Kaapstad. Academica. 1989, bl.91.
- ↑ WAT
- ↑ "Das Wörterbuch der Idiome: Gelage". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Junie 2020. Besoek op 1 Oktober 2017.
Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik vanuit die Nederlandse Wikipedia vertaal. |