Oorstroming

Wanneer water hoër as die normale vlak styg
(Aangestuur vanaf Vloedwater)

Oorstromings kom voor wanneer water hoër as die normale vlak styg en oorvloei op grond wat nie gewoonlik onder water is nie. Die water kan afkomstig wees van strome en riviere of, langs kuslyne, van die see. Daar is baie verskillende redes waarom riviere hul walle oorstroom. Die algemeenste oorsaak van oorstroming is swaar reën, sowel as smeltende ys en sneeu van bergagtige streke. In kusstreke kan massiewe storms soos orkane reusagtige golwe veroorsaak. Ander oorsake sluit in: grondstortings, dambreuke, aardbewings en vulkaniese aktiwiteit. 'n Kombinasie van probleme kan ook oorstromings veroorsaak. Kitsvloede is besonder gevaarlik.Dit kan ook baie gevaarlik raak vir kinders en ouer menses

Oorstromings van 1997 in Alicante (Spanje)

Noodmaatreëls tydens oorstromings

wysig
 
Vrou wat op die dak van 'n motor vasgekeer is

Tydens oorstroming moet mense en diere so spoedig moontlik na hoërliggende grond geskuif word. Hierdie proses waar huise verlaat word op soek na veiliger plekke staan as ontruiming bekend. Hoewel daar tydens oorstromings orals water is, is dit meestal besoedel en kan dit nie gedrink word nie. Mense kan hulself op vloede voorberei deur vars drinkwater op te gaar en verskansings soos sandsakke te gebruik om die water te stuit of in 'n ander rigting weg te lei.

Voorkoming van oorstromings

wysig
 
Dolosse in Durban se suidelike hawehoof.

Verskeie stappe kan geneem word om oorstromings te voorkom of die impak daarvan te verminder:

  • Om oorstromings te voorkom moet vloedlyne noukeurig bepaal en gedokumenteer word. Woongebiede en ander strukture binne hierdie vloedlyne moet na hoërliggende gebiede, buite die water se bereik verskuif word.
  • Damme in riviere help om water op te gaar en sodoende te keer dat riviere hulle banke oorspoel. Sluise in damme help verder om die vloei van water te reguleer. Vloedmure kan om riviere gebou word en sandsakke kan op strategiese plekke langs rivieroewers gepak word.
  • Om oorstromings langs die kus te voorkom kan dyke gebou word (soos in Nederland wat die see van die polders af weghou). Dolosse kan ook gepak word om geboue en ander strukture teen golwe te beskerm.
  • 'n Vroeë waarskuwingstelsel kan help om mense vroegtydig op oorstromings voor te berei en indien nodig betyds te ontruim. So 'n stelsel kan onnodige lewensverlies voorkom.

Impak van oorstromings

wysig
 
Vloedskade

Oorstromings kan geweldige skade aan infrastruktuur aanrig. Geboue en huise kan ineenstort wat mense koud, honger en dakloos laat. Brûe en paaie kan weggespoel wat die gebied ontoeganklik maak (selfs vir reddingswerkers). Toevoer van elektrisiteit kan onderbreek word wat baie moderne geriewe en implemente nutteloos laat. Pypstelsels, soos riool en kraanwater kan ook vernietig word.

Naas die infrastruktuur kan die omgewing beskadig word. Boere kan hulle oeste en lewende hawe verloor. Die ryk vrugbare bogrond kan van landerye wegspoel wat toekomstige oeste nadelig beïnvloed en jare neem om weer te herstel.

Op ekonomiese gebied kan besighede tot stilstand geruk word en maatskappye kan geweldige finansiële verliese ly.

Met lewensverlies kan die lyke van mense en diere oral rondgelê, wat 'n gesondheidsrisiko inhou. Water kan ook hierdeur besoedel word.

Eerste oorstroming

wysig

Die eerste gedokumenteerde oorstroming kan in die Bybel in Genesis 6:5-8 gevind word. Hier word Noag deur God beveel om 'n ark te bou waarin hy, saam met verteenwoordigers van elke diersoort moes leef gedurende die tyd wat die wêreld deur 'n vloed vernietig is.

Sien ook

wysig