W. Ungerer

Suid-Afrikaanse arbeidsleier

W. (Peet) Ungerer het op 1 Oktober 1987, op 51-jarige, die nuwe hoofsekretaris van die Suid-Afrikaanse Mynwerkersunie (MWU) in die plek van Arrie Paulus geword. 

In 1956 het hy op kopermyne by Tsumeb in die destydse Suidwes-Afrika begin werk. Later het hy sy opleiding aan die Staatsopleidingskollege vir Mynwerkers in Suid-Afrika voltooi en by die Libanon-goudmyn indiens getree. Te midde van die interne MWU-geskil rondom die omstrede maandloonproefneming wat tussen 1964 en 1967 gewoed het, was Ungerer ‘n lid van die Beyers-faksie wat later self in dispuut met die Aksiekomitee van Arrie Paulus-hulle oor die beheer van die vakbond gekom het.  In 1967 was Ungerer een van die ses Beyers-ondersteuners wat aanvanklik vir die oortreding van ‘n hofbevel, dat hulle geen verdere kontak met hom mag hê nie, by laasgenoemde se huis in Pretoria deur die veiligheidspolisie gearresteer is. Die gearresteerdes is deur die destydse Prokureur-generaal vir Transvaal, dr. Percy Yutar, oor hulle bedrywighede in mynwerkersgeledere ondervra, maar uiteindelik sonder enige aanklag vrygelaat.

Op die Libanon-myn het Ungerer een van die jongste MWU-skagverteenwoordigers ooit geword. In 1970 het hy die vakbond se voltydse amptenaar op Carletonville geword en na die landswye mynstaking van Maart 1979 is hy as organiserende sekretaris na die MWU-hoofkantoor in Braamfontein, Johannesburg oorgeplaas.  Daar was hy onder andere nou betrokke by die vakbond se uitbreiding van bestek en die werwing van nuwe lede by Yskor te Vanderbijlpark.  In 1986 was hy een van die Raad van Mynvakbonde se onderhandelaars wat ter elfder ure met die Kamer van Mynwese (KVM) tot ‘n vergelyk gekom het en so ‘n landswye staking van blanke mynwerkers net betyds afgeweer het.

Ungerer het in 1997 as MWU-hoofsekretaris afgetree.

Bronnelys

wysig
  • Mnr. W Ungerer: MWU-memorandum, 2.7.2001.
  • MWU-Argief, Pretoria, Notule van die Vergadering van die Uitvoerernde Bestuur, 28.5.1997, pp. 1, 2-4.
  • Ibid., Notule van die Vergadering van die Algemene Raad, 27-28.1.1998, p. 75.
  • Die Mynwerker, September 1987, p. 1 (‘n Nuwe Leier vir ‘n Groot Vakbond).
  • Beeld, 4.9.1987, p. 14 (‘MWU sal sy vlerke verder sprei’).

Sien ook

wysig