Wikipedia:Voorbladartikel week 13 2022

Nyabêla.

Nyabêla (1825/30 – 1902) in Afrikaans ook bekend as Niabel, was gedurende die negentiende eeu 'n opperhoof van die Ndzundza-Ndebele. Hy word onthou vir sy stryd teen blankes vir beheer oor sy stam se eie grondgebied.

Nyabêla se voorsate het waarskynlik in die sestiende of sewentiende eeu vanaf die suidooskus van Afrika na die Hoëveld verhuis en hulself naby die latere Pretoria gevestig. Hierdie mens is later die Ndebele van Transvaal genoem. Deesdae noem ons hulle die Ndebele van Suid-Afrika. Een van hul hoofmanne, Ndzundza, het na die Steelpoortvallei in Mpumalanga verhuis. Na vele ontberings het hierdie deel van die stam by 'n plek langs die Steelpoortrivier genaamd Nomtshagelo gaan bly. Nomtshagelo is later opgemeet as die plaas Mapochsgronde. Dit omring die huidige dorpie Roossenekal.

Nyabêla se pa, Mapoch (deesdae Mabhoko of Mapog genoem) was die hoofman van die stam toe die emigrante (later Voortrekkers of Boere genoem) in 1845 die gebied binnegedring het. In 1860 het die Boere 4 plase (omtrent die huidige Mapochsgronde) aan die Mapochs (deesdae ook die Mapoggers genoem) toegeken. Maar die gebied wat die stam beset het, was groter en het al hoe groter geword. Hulle het weer oorlog gevoer, maar in 1865 is vrede gemaak toe die Boere erken het dat 'n veel groter gebied aan die Mapoggers behoort.

Mapog is in 1865 oorlede en twee van sy seuns het hom opgevolg. Die Britte het die Transvaal in 1877 geannekseer. In 1879 het Mapog se hoofvrou se derde seun, Nyabêla, die leisels van die stam van Mapog oorgeneem. Op daardie stadium was daar reeds verskeie hoofmanne onder hom en hy kon as opperhoof beskou word. Sy onderdane het hom Ingwayama genoem.

Die Britte het intussen vir Sekhukhune oorwin en hom in die tronk gestop. In 1881 het die Boere die Britte oorwin. Laasgenoemde twee strydendes het die Pretoriakonvensie aangegaan. Die konvensie het twee bepalings bevat wat 'n katastrofiese uitwerking op Nyabêla en die Mapoggers gehad het. Ingevolge een bepaling moes Sekhukhune vrygelaat word. Die konvensie het ook bepaal dat 'n lokasiekommissie aangestel word om lokasies vir alle swart stamme in die Transvaal uitgemeet moes word.

...lees verder