Wikipedia:Voorbladartikel week 25 2021
Die Akkadiese Ryk was die eerste antieke ryk van Mesopotamië, naas die langdurige beskawing van Sumer. Dit was om die stad Akkad (Sumeries: Agade) en die omringende gebied gesentreer. Die hele gebied was in antieke Mesopotamië as Akkad bekend. Die ryk het al die inheemse Akkadiessprekende Semiete en die Sumeriessprekendes onder een bewind verenig.
Die Akkadiese Ryk het oor Mesopotamië, die Levant en Anatolië regeer en militêre ekspedisies so ver suid as Dilmun en Magan (die moderne Bahrein en Oman) op die Arabiese Skiereiland gestuur.
In die 3de millennium v.C. het ’n kulturele simbiose tussen die Sumeriërs en Akkadiërs ontwikkel wat wydverspreide tweetaligheid ingesluit het. Akkadies, ’n Oos-Semitiese taal, het Sumeries tussen die 3de en 2de millennium v.C. geleidelik as spreektaal vervang (die presiese datum word betwis).
Die Akkadiese Ryk het sy politieke hoogtepunt tussen die 24ste en 22ste eeu v.C. bereik ná die verowerings deur sy stigter, Sargon van Akkad. Onder hom en sy opvolgers is Akkadies kortliks aan verowerde buurstate soos Elam en Goetium opgelê. Akkad word soms beskryf as die eerste ryk ter wêreld, hoewel die term "ryk" nie presies gedefinieer is nie en daar vroeëre Sumeriese aanspraakmakers was.
Ná die val van die Akkadiese Ryk het die mense van Mesopotamië eindelik in twee belangrike Akkadiessprekende nasies versmelt: Assirië in die noorde en, ’n paar eeue later, Babilonië in die suide.