Wikipedia:Voorbladartikel week 32 2011

'n leeuin (Panthera leo) in Okonjima, Namibië.

Die leeu (Panthera leo) (IPA: ♂: 'le:u 'le:ou 'liu ♀: le:'uən le:'vən / le:uvəifi) is 'n soogdier van die familie Felidae en een van die vier "groot katte" in die genus Panthera. Dit is die tweede grootste katspesie naas die tier. Mannetjies kan maklik herken word aan hulle maanhare en weeg tussen 150 en 250 kg. Wyfies weeg tussen 120 en 150 kg. Leeus kom in die natuurlike omgewing tans in Afrika, suid van die Sahara, en in Asië voor. In Asië word ’n kritieke bedreigde oorblywende bevolking in die Gir-woud Nasionale Park gehou, waar hulle reeds vroeër in Noord-Afrika en Suidwes-Asië uitgesterf het. Tot en met die laat Pleistoseentydperk, omstreeks 10 000 jaar gelede, was die leeu die mees wydverspreide groot landsoogdier neffens die mens. Hulle was oor die meeste van Afrika verspreid, regoor Eurasië, wat vanaf Wes-Europa tot Indië gestrek het, sowel as in die Amerikas tussen Yukon en Peru.

In die natuur word leeus tussen 10 en 14 jaar oud, terwyl dié in gevangenskap tot oor die 20 jaar oud kan word. In die natuur sal leeumannetjies selde ouer as tien jaar word, omrede die beserings wat deur voortdurende gevegte onder hulle opgedoen word grootliks hul lewensverwagting laat afneem. Leeus geniet 'n warm klimaat en jag in groepe. Hulle is tipies woonagtig in die savanne en grasvelde, hoewel hulle ook die bos en woud as tuiste kan aanneem. Wat ongewoon van leeus is, in vergelyking met ander katsoorte, is dat hulle ’n sosiale spesie is. ’n Trop leeus bestaan uit bloedverwante wyfies en nakomelinge en ’n klein aantal volwasse leeumannetjies. Troppe leeuinne sal gewoonlik saamjag en groot hoefdiere ten prooi val. Leeus is roofdiere heel boaan die voedselketting, maar sal by geleentheid ook aas. Ewenwel dit buite leeus se aard is om op mense jag te maak, is daar die enkele gevalle wat wel opgeteken is.

...lees verder