Wonderwerkgrot
Die Wonderwerkgrot op die rant van die Kalahari is van besondere argeologiese belang omdat dit lig werp op die lewe van die mense in Suider-Afrika gedurende die Steentydperk.
Wonderwerkgrot | ||
Koördinate | 27°50′42″S 23°33′14″O / 27.84500°S 23.55389°O | |
Plaaslike naam | Kurumanheuwels tussen Danielskuil en Kuruman | |
Land | Suid-Afrika | |
Geskiedenis | ||
Uitgrawings | sedert 1940's deur B.D. Malan, Peter B. Beaumont, Karl W. Butzer, Anne Thackeray en Francis Thackeray |
Ligging
wysigHierdie grot is op die plaas Wonderwerk in die Kuruman Heuwels. Dit is op die Ghaapse plato, noord van Lime Acres en Daniëlskuil en suid van Kuruman.
Ontstaan
wysigDie grot het honderdduisende jare gelede ontwikkel toe reënwater deur krake in die dolomietgesteente ingesypel en die gesteente begin oplos het. Mettertyd het 'n grot van 139 m in lengte en 'n vloeroppervlakte van 2000 m² ontwikkel. 'n Stalagmiet van hoër as 5 m staan by sy ingang.
Vroeë bewoning
wysigHierdie is een van die weinige grotte in die land wat reeds in die vroeë Steentydperk deur mense bewoon is. Tot sover die daglig in die grot in skyn, is daar rotstekeninge van plante en diere soos olifante, kameelperde en volstruise en van onbekende voorwerpe in die kleure rooi, geel, swart, wit en oker op die wande aangetref. Dierereste van uitgestorwe wildsbokspesies het waarskynlik bewaar gebly weens die besonder droë klimaat.
Geskiedenis
wysigIn 1844 is die grot besoek deur die handelaar en jagter Henry H. Methuen en in 1903 het die Rhodesiese spoorweë die plaas Wonderwerk aan N.J. Bosman verkoop. Bosman en sy gesin het daarna enkele jare in die grot gewoon. In die Tweede Wêreldoorlog was daar in Suid-Afrika 'n ernstige tekort aan bemestingstowwe en daarom is toe die meeste vlermuismis (guano) uit die grot verwyder. Hierdeur het helaas ook baie argeologiese oorblyfsels verlore geraak.
Teenswoordig
wysigSedert die 1940’s word argeologiese opgrawings op die terrein onderneem. Navorsers van die McGregor Museum koördineer die navorsing saam met verskeie wetenskaplikes vanoor die wêreld heen. Van die artefakte kan in Kimberley se museum besigtig word. In 1993 is die grot tot monument verklaar. Dit word tans ook vir rituele doeleindes besoek weens die genesende krag wat aan die water toegeskryf word. Die grotte is wêreldwyd bekend onder grotduikers. Hulle beoefen hier, in die derde grootste ondergrondse varswatergrot in die wêreld, hul duikvaardighede.
Bronne
wysig- Green, Lawrence G.: Something rich and strange. The story of South Africa’s treasures, famous and unknown, sunken and buried, and some personal experiences in the search for lost hoards. Kaapstad: Howard Timmins, 1962.
- Standard Encyclopaedia of Southern Africa, deel 11. Kaapstad: Nasou, 1975. ISBN 0-625-00327-6