A.J. Hanekom
A.J. Hanekom (*9 Augustus 1906, Ceres – † 22 November 1965, Pretoria) was ’n Afrikaanse skrywer en dramaturg.
Lewe en werk
wysigVroeë lewe en herkoms
wysigAlbertus Johannes Hanekom was op 9 Augustus 1906 in die distrik Ceres in die Kaapprovinsie gebore. Hy matrikuleer op Somerset-Wes, waarna hy sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voortsit en in 1929 die B.A.-graad behaal, met Afrikaans en Sosiale Wetenskappe as hoofvakke. Hy het reeds die skriftelike eksamen vir toelating tot die Kweekskool afgelê, toe hy besluit om eerder verder in die sosiale wetenskappe te studeer.
Loopbaan en persoonlike lewe
wysigHy trou in 1932 met Violet Grobbelaar, oorspronklik van Cradock. In Julie 1939 tree hy toe tot die redaksie van Die Oosterlig en is ook nuusredakteur van die gemeente Port Elizabeth-Wes se gemeenteblad Die Hawe. In Januarie 1949 begin hy by die Suid-Afrikaanse Wolraad werk en word hoof van die publikasie-afdeling van hierdie Raad. Op 22 November 1965 is hy in Pretoria oorlede.
Skryfwerk
wysigHy stel baie belang in die amateurtoneel en neem ook deel aan verskeie opvoerings.
Drama
wysigDie skeidsmuur is ’n drama oor die armblanke probleem, met die titel wat sinspeel op die sosiale grense tussen gegoede en armer Afrikaners. Die drama gee die boodskap dat armoede nie die primêre probleem van armblankedom is nie. Dit is eerder die verlies van selfrespek wat betreurenswaardig is, soos gesien uit die uitbeelding van die arm maar ordentlike spoorwegfamilie van Johan Terblanche, gekontrasteer met hulle alkoholis buurman Gert. Aletta Terblanche, Johan se dogter, werk as huishulp by die burgemeester Van Zeelen, waar sy onderwerp word aan die nukke van die bedorwe dogter Helena, wat haar op haar plek wil hou. Die seun, Johan van Zeelen, is egter van mening dat die ryk Afrikaners deur hulle snobisme die skeidsmuur tussen ryk en arm vergroot en eerder die arm Afrikaner weer moet leer om sy selfrespek te herwin en sy plek as deel van die volk in te neem. Johan raak verlief op Aletta en trou eindelik met haar, teen sy familie se wense.
Ander dramas wat hy skryf is die historiese drama Gideon Scheepers (saam met S.W. Liebenberg) wat hierdie held uit die Anglo-Boereoorlog as tema het; Die swart adelaar, ’n spanningsdrama wat in die veertigerjare deur Otto Wilmot se geselskap opgevoer word; en Berou.
Prosa
wysigHy lewer ook prosawerke met die speurverhale Die hoogste prys en Greyling op die spoor.
Nie-fiksie
wysigIn sy posisie as hoof van die publikasie-afdeling van die Wolraad stel hy die Vertalende en verklarende woordeboek vir die wolbedryf: Engels-Afrikaans, met verklarings in Afrikaans saam. Hierdie woordeboek word in 1958 gepubliseer en hy skryf ook ander werke oor die wolbedryf, soos The South African wool industry.
’n Reeks opvoedkundige boeke wat in beide Afrikaans en Engels deur die Wolraad uitgegee word is Op veld en vlakte, Van skeerskuur tot skeepsruim en Van vesel tot weefsel.
Publikasies
wysigWerke wat uit sy pen verskyn sluit in:[1]
Jaar | Publikasies |
---|---|
Fiksie | |
1938 | Die skeidsmuur |
1939 | Gideon Scheepers (saam met S.W. Liebenberg) |
1940 | Die swart adelaar |
1943 | Berou |
1944 | Die hoogste prys |
1945 | Greyling op die spoor |
Nie-fiksie | |
1940 | The South African wool industry |
1957 | On veld and farm |
Op veld en vlakte | |
1958 | Vertalende en verklarende woordeboek vir die wolbedryf : Engels-Afrikaans : met verklarings in Afrikaans |
From shearing to shipment | |
Van skeerskuur tot skeepsruim | |
Wol onder die parsyster | |
1959 | From fleece to fabric |
Van vesel tot weefsel |
Bronnelys
wysigBoeke
wysig- Botha, Danie. Voetligte en applous! Protea Boekhuis. Pretoria. Eerste uitgawe. Eerste druk, 2006.
- Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970.
- Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica. Pretoria en Kaapstad. Tweede druk, 1984.
- Nienaber, P.J. Hier is ons skrywers! Afrikaanse Pers-Boekhandel Johannesburg. Eerste uitgawe, 1949.
- Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969.
- Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers. Pretoria. Eerste uitgawe, 1998.
Ongepubliseerde dokumente
wysig- Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) Bloemfontein. Hanekom, Albertus Johannes – Biografie.